Leesvordering:

Hoe emigrasie na Engeland ons ’n meer volhoubare leefstyl geleer het

Apr 7, 2022

Binne net ’n paar maande het ons gegaan van twee karre, ’n woonstel met ingeboude kaste en rakke vol klere, ’n kombuis met agt van alles en elke toestel waarvan jy kan droom na drie tasse en ’n 70 m2-eenslaapkamerwoonstel in Londen – die begin van ons avontuur om volhoubaar te leef!

In 2018 het ek en my man na die Verenigde Koninkryk gekom met die idee dat ons net 18 maande hier gaan bly. Die plan was om soveel as moontlik te sien en ervaar en om ons laat twintigs ten volle te geniet. Toe ons ná ’n jaar besluit om die skuif permanent te maak, moes ons mooi dink hoe ons ons passie vir die meer volhoubare leefstyl wat ons hier in Engeland ontdek het in ons nuwe lewe gaan uitleef.

Ons het met die vyf R’e van ’n volhoubare leefstyl begin en dit het waarlik ons lewens verryk.

Refuse (Weier)

Die eerste tree na ’n volhoubare lewe is om bewus te raak van produkte en prosesse wat skade doen aan die planeet. Vir die eerste drie jaar in Engeland het ons nie ’n kar gehad nie. Ons het twee karre gehad in Suid-Afrika, maar ons het geweier om ’n kar te koop terwyl openbare vervoer perfek gewerk het in Londen.

Toe ons verlede jaar na die platteland trek en ons husky aanneem, het ons besluit dis nou tyd vir ’n kar. Ons het egter besluit so ‘n groot finansiële besluit moet ook ’n belegging in die toekoms van die planeet wees. Ons het navorsing gedoen en besef teen 2030 gaan geen petrol- of dieselmotors meer in die Verenigde Koninkryk verkoop word nie, daarom het ons op ’n elektriese motor besluit.

Reduce (Verminder)

In seker opsigte was hierdie die maklikste stap. Toe ons besluit om ons skuif permanent te maak, moes ons teruggaan Suid-Afrika toe en al ons gestoorde besittings deurgaan. Na 12 maande van minimalisties lewe het ons oë oopgegaan vir die besef dat die “goed” minder belangrik is as die ondervindings.

Deur te verminder, en minder te koop wanneer ons wel gekoop het, kon ons beter kwaliteit bekostig en het ons meer geld en tyd gehad vir ons avontuur in ’n nuwe land.

Reuse (Hergebruik)

Die weggooikultuur hier in Engeland is verskriklik – meestal omdat dit so maklik is om vinnig ’n nuwe item aan te skaf met twee klikke op Amazon. Omdat ons ons huis amper van voor af moes inrig, was die aankoop van herbruikbare items eerder as items wat net een keer gebruik kan word baie belangrik. Ek het byvoorbeeld bakpapier met silikoonbakmatjies vervang.

My gunsteling-plaasvervanger is my snesieboks wat ek vervang het met sakdoekies wat ek van my oumagrootjie geërf het. Wat eers outyds gevoel het, is nou beide volhoubaar en spesiaal – die sakdoekies kan keer op keer hergebruik word én dit herinner my aan my familie en wortels.

Repurpose (Herskep)

As jy nie familie naby het by wie jy ’n bank kan leen of ’n ouma wie se ou eetkamerstel jy kan erf nie, dink jy soms IKEA is die goedkoopste, vinnigste keuse. Ons het egter gevind ’n Saterdag in die tweedehandse winkel kan soms ’n juweel oplewer wat mooier is en langer sal hou as die IKEA-item.

Nie net gee jy ekstra karakter aan jou huis nie, maar jy blaas ook nuwe lewe in ’n item wat andersins op die ashoop sou beland het en nooit regtig sal vergaan nie. Ja, dit mag dalk so ’n bietjie langer vat om daardie perfekte item te kry, maar jy waardeer dit soveel meer as die vinnige kopie. Jou huis is meer uniek en agter elke item is ’n lekker storie – soms selfs ’n avontuur, soos die twee eetkamerstoele wat iemand uitgegooi het en ons met ons fietse huis toe gekarwei het.

Recycle (Herwin)

’n Groot les wat ons geleer het in die Verenigde Koninkryk is dat herwinning nie orals dieselfde is nie – dit verskil van land tot land en selfs tussen stede. Ons het ook besef dat ons nooit herwinningsimbole in Suid-Afrika leer ken het nie, maar dat dit noodsaaklik is om te weet wat herwin kan word en wat nie.

‘n Trekkery genereer baie gemors en dis hoekom ons na herwinbare verpakkingsmateriaal begin soek het. Ons moes ook leer hoe om reg te herwin vir die area waar ons bly. Vandag herwin ons amper alles en sit baie min vullis uit. So dra ons ons deel by om die planeet skoon te hou.

Bonus: Local is steeds lekker in jou nuwe land

Wanneer jy oorsee trek en ewe skielik vrylik toegang het tot Amazon en amper elke ander internasionale winkel onder die son is dit moeilik om te dink dat plaaslike aankope steeds lekker kan wees, maar ek belowe jou dit is! Om volhoubaar te leef, behels gedeeltelik om ’n bewustheid te hê van die koolstofvrystelling van produkte wat jy koop. Die vervoer van produkte is een van die grootste bydraers tot koolstofvrystelling. Deur produkte by kleiner winkels in jou area of land te koop, ondersteun jy nie net die gemeenskap nie, maar jy verlaag ook die koolstofvrystelling. So doen jy eintlik iets belangriks vir die planeet.

Ons leer steeds elke dag hoe om meer volhoubaar te leef en oor die laaste vier jaar het hierdie leefwyse ons baie geld gespaar en op tonne nuwe avonture geneem!

  • Andri Johnston is die skrywer van ’n blog genaamd The sustainable library. Besoek gerus haar webtuiste vir wenke om meer volhoubaar te leef.

Meer oor die outeur

Andri Johnston

Andri Johnston het in 2018 saam haar man na die Verenigde Koninkryk verhuis met die plan om 18 maande daar te bly. Bykans vyf jaar later is hulle steeds daar. Sy werk in die akademiese uitgewerswese as ’n spesialis in digitale volhoubaarheid. Haar passie vir ’n volhoubare leefstyl deel sy ook in haar vrye tyd op haar blog en sosialemediaprofiel The Sustainable Library. Wanneer sy nie skryf en lees nie, geniet Andri tuinwerk, lang hardloopsessies met hul aangenome husky Ace en fietsry.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest