Leesvordering:

Kuala Lumpur: Straatkos in Jalan Alor en ‘n vispedikuur by die Central Market

Aug 13, 2020

Eet straatkos in Jalan Alor, Kuala Lumpur

Met die meeste straatkosrestaurante en stalletjies in Kuala Lumpur is Jalan Alor op sigself ‘n trekpleister vir toeriste. Dis net ondenkbaar dat jy na Kuala Lumpur kan reis en nie ‘n paar plaaslike lekkernye by dié besige voedselmark proe nie.

Die meeste restaurante is bedags toe. Die Restoran Dragon View is egter ‘n uitsondering en ‘n gunsteling onder die plaaslike bevolking. Dragon View is 24/7 oop en bied meer as 100 geregte, wat dit baie moeilik maak om te kies! Hulle bedien enigiets van bees-, vark- en lamsvleisgeregte tot hoender en eend saam met heerlike rys, noedels, sop of pap. Noem maar op, hulle maak dit. Maak gerus tyd om by een van Restoran Dragon View se klein, ronde, rooi tafeltjies aan te sit vir Marmite-ribbetjies, gebraaide eend met witrys, diepgebraaide wontons en diepgebraaide kluitjies. Hulle bedien ook teh tarik, die heerlikste tee. Vir die avontuurlustiges bied Dragon View ‘n groot verskeidenheid paddageregte, waaronder gebraaide padda met sprietuie, diepgebraaide padda met rissie en gemmer, gestoomde padda met gemaalde gemmer, drunken frog in ‘n kleipot en paddapap.

By Jalan Alor is daar hordes stalletjies wat vars vrugte verkoop. Jy kan heerlike inheemse vrugte daar koop, soos mangostan, cempedak, pomelo, ramboetan, duku-langsat en snake fruit. Vir ‘n appel en ‘n ei kan jy ook meer Westerse vrugte koop, soos mango’s, lietsjies, waatlemoen, papaja, nangka, stervrugte, koejawels en honey apple. Die bekendste vrugte op dié mark én in die land is doerians. Doerians staan in sommige Asiatiese lande bekend staan as die “koning van vrugte”. Dit is reusevrugte (hulle weeg gewoonlik 1 kg tot 3 kg) met lekker liggeel vleis. In teenstelling met die algemene opvatting, is die doerian nie Maleisië se nasionale vrug nie; amptelik is dit die ramboetan. Maar die vrug wat almal, van plaaslike inwoners tot toeriste, opgewonde maak, is beslis die doerian. Die vraag of doerians gemors of ‘n lekkerny is, is debatteerbaar – ook in Maleisië. Vir sommige is die vrug se kenmerkende geur aangenaam soet, maar ander vind dit absoluut walglik en vergelyk dit met braaksel of rou riool. Of dit nou vir jou soet of siek ruik, onthou maar die doerian se reuk hang dae lank in die lug. Dit is waarom doerians verbode is in baie hotelle en alle openbare vervoer. Maak seker jy dra handskoene as jy daaraan proe, anders gaan jou hande dae lank na braaksel ruik.

Dis moeilik om te kies uit die duisende Maleise, Chinese, Indiese en Thaise disse by honderde stalletjies en restaurante met tafels en stoele tot op die sypaadjies. Sorg dus dat jy honger is wanneer jy Jalan Alor toe gaan, en gaan meer as een keer. Die mark is ‘n uitstekende plek om goedkoop en lekker te eet, en dit is die perfekte plek vir ‘n middernagtelike versnapering as jy vlugvoos is; Jalan Alor is tussen 00:00 en 03:00 op sy beste en besigste is. Proe gerus die volgende:

  • Kerriepoffertjies; dit is basies ‘n lepel sterk groentekerrie en ‘n halwe hardgekookte eier wat in deeg toegedraai is
  • Chinese sesambolletjies met grondboontjiepasta
  • Verskillende soorte dim sum
  • Roomys en vars vrugtesap, maar vra om dit sonder ys te kry
  • Hoender-saté
  • Stoomboot-garnale, tjokka en vars, plaaslike groente

Bederf jouself en gaan kyk hoe die BBQ-meesters by Dina’s Recipe ‘n lam berei en op ‘n draaispit oor ‘n massiewe oop vuur in die middel van die straat braai. As jy reg is om te bestel – en glo my, jy sal wíl bestel – sê jy net vir die twee sjefs hoeveel jy wil hê en dan betaal jy per gewig. Hulle bedien die gebraaide lam met ‘n houtstokkie in ‘n kartonboks. Dit is verreweg die lekkerste gereg in Kuala Lumpur.

Loop in die lug deur die KL Forest Eco Park

Daar bestaan sowaar nog ‘n stukkie ongerepte reënwoud tussen die wolkekrabbers, besige paaie en honderde winkelsentrums in Kuala Lumpur se middestad. Die reënwoud, een van Maleisië se oudste woude, is deel van die KL Forest Eco Park. Die park was voorheen bekend as die Bukit Nanas Forest Reserve en is in 1906 gestig.

Die KL Forest Eco Park beslaan slegs 9,3 hektaar reënwoud. Daar is kort, relatief maklike staproetes tussen reusebome waarvan party honderde jare oud is en waarin die sonbesies lustig sing. Wees op die uitkyk vir pragtige voëls asook ape en ander klein soogdiertjies wat in dié groen lushof aan die stad ontsnap.

As jy ‘n natuurliefhebber is en lus is vir ‘n bietjie avontuur is die Canopy Walk een van die lekkerste goed in Kuala Lumpur. Wandel 20 m bo die grond op die 200 m lange hangpaadjies.

Die KL Forest Eco Park is daagliks van 07:00 tot 18:00 oop. Vir ongeveer R150 per persoon kry jy toegang tot die hangende wandelpaaie en die res van die park. Trek gemaklike stapskoene en ligte klere aan en onthou jou insekweerder; die muskiete in hierdie klein reënwoud is baie aktief en dors.

Geniet ‘n vispedikuur by die Central Market

In Kuala Lumpur sal jy jou voete moeg en seer stap. Gelukkig is daar ‘n tenk vol honger vis by die Central Market wat wag om jou te bederf met ‘n onvergeetlike pedikuur!

Die Central Market het in die 1880’s ontstaan as ‘n tradisionele varsproduktemark wat vars vleis, vis, vrugte, groente en speserye aan die ontploffende stadsbevolking verkoop. Tussen 1889 en 1933 is die gebou baie uitgebrei en opgeknap. In 1937 is die varsproduktemark verskuif en die huidige Art Deco-gebou is voltooi. Die Central Market is in 1985 verder versier is met kleurvolle teëls, dekoratiewe plafonne en verskillende kleure verf. Dit is ‘n belangrike baken vir die Maleisiese kultuur en erfenis en ‘n besienswaardigheid wat jy net moet besoek as jy in Kuala Lumpur is.

Die mark bestaan net soos die tradisionele varsproduktemark uit stalletjies. Dit bied ‘n unieke, kultuurryke inkopie-ervaring al fokus dit op kleinhandel. Die meer as 300 winkels bied plaaslike kunshandwerk, handgemaakte aandenkings, versamelstukke, antieke ware en tekstiele. Die stalletjies is in sones gegroepeer volgens die drie belangrikste kultuurgroepe in Kuala Lumpur. In Lorong Melayu is daar tradisioneel Maleise winkels, in Lorong Cina Chinese winkels en in Lorong India natuurlik Indiese winkels. Die drie sones gee besoekers insig in Maleisië se kulturele verskeidenheid. Op die tweede verdieping in die Lorong Kelapa-eetarea kry jy van die beste lekkernye en noedels in die stad. In die Annexe kan jy deur fantastiese kunsgalerye wandel, insluitend die Illusion 3D Art Museum, die Art House Gallery en die Central Market Art Lane.

Nadat jy klaar inkopies gedoen het, die skone kunste bewonder het en iets te ete geniet het, kan jy die Cute Fish Spa gaan besoek. Jy kan kies tussen twee kunsmatige poele, een met groot visse en een met kleineres. Sit met jou voete in die water en ontspan terwyl die visse die dooie vel van jou voete af vreet. Vispedikure is lankal deel van die Asiatiese kultuur en het die afgelope paar jaar in Europa en Amerika ook gewilder geraak. Die visse word soms “Dokter Vis” genoem. Hulle masseer jou voete terwyl hulle aan dooie vel knibbel en jou voete sysag laat. Die behandeling kos ongeveer R20 vir tien minute. Maak jou gereed om die eerste drie of vier minute te giggel, wriemel en skop en van plan te verander, want dit is ‘n baie vreemde sensasie wat jy nie gereeld ervaar nie. Maar byt vas; as jy eers daaraan begin gewoond raak, is dit baie aangenaam en die resultate is fantasties.

As jy wonder hoe veilig so ‘n vispedikuur is, kan jy gerus ontspan. Volgens die Verenigde Koninkryk se National Health Service (NHS) is die risiko dat jy infeksies soos MIV, hepatitis of atleetvoet sal opdoen minimaal. Maar bly liewer weg daarvan die eerste 24 uur nadat jy jou beenhare geskeer of met was verwyder het; klein snytjies of skaafplekke kan die risiko van infeksie verhoog. Los dit liewer ook as jy aan bloedoordraagbare siektes soos hepatitis B of C of MIV/Vigs ly. Besoek gerus die NHS webwerf vir meer inligting.

Besoek gerus die Central Market webwerf vir meer inligting oor die mark, ook die presiese ligging en besigheidsure.

Lees ook: Vyf dinge om in Kuala Lumpur te doen

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest