Die naam Emily Hobhouse sal waarskynlik opduik in die meeste gesprekke oor die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe en die lotgevalle van die duisende vroue en kinders wat daardeur geraak is. Hoewel haar besondere bydrae uiteindelik gehelp het dat die omstandighede in die kampe verbeter, is daar ook ’n ander vrou wat plaaslik ’n noemenswaardige bydrae op dié gebied gelewer het en tog in die volksgeheue byna vergete geraak het. Ilze Nieuwoudt het gaan ondersoek instel na die verhaal van Maria Koopmans-De Wet.

Maria is in 1834 aan die Kaap gebore. Sy kom uit ’n welbekende en gegoede familie. Haar pa, Johannes de Wet, was nie net as advokaat ’n prominente persoon in regskringe nie, maar hy het ook in ’n stadium as waarnemende president van die Kaapse wetgewende raad opgetree. Maria self is as ’n gesofistikeerde en hoogs intellektuele vrou bestempel. Sy en haar jonger suster, Margaretha, het die beste skoolopleiding ontvang en is onder meer in Duits, Frans en Italiaans onderrig.

Die historikus Marthinus van Bart skryf in ’n artikel oor Maria dat sy deur die toenmalige premier van die Kaapkolonie, Cecil John Rhodes, as die “gevaarlikste vrou in die Kaapkolonie” beskou is. Haar sterk persoonlikheid het verseker dat sy ’n kragtige opponent vir selfs die magtigste mans van haar tyd, insluitend Rhodes, was.

Sy sou in haar lewe by verskeie aksies vir die bewaring van Kaapse boukuns betrokke wees. Rhodes het in ’n stadium planne gehad om ’n gedeelte van die Kasteel van Goeie Hoop plat te slaan aangesien dit in die pad van sy planne vir ’n spoorlyn vanaf Seepunt gestaan het. Die bastion wat in die pad gestaan het, was volgens Rhodes slegs ’n klein gedeelte van die kasteel waarop Maria blykbaar hewig reageer het met die woorde: “Sy neus is ook net ’n klein deel van sy gesig. Laat hy dit afsny en in die spieël kyk om te sien hoe hy lyk.” Danksy haar teenstand was Rhodes genoop om ’n alternatiewe roete vir sy spoorlyn te vind.

Dit was egter Maria se diens aan die republieke van die OVS en ZAR wat veral merkwaardig was. Nie net het sy verskeie petisies opgetrek in protes teen die behandeling van vroue en kinders in die konsentrasiekampe nie, maar sy het ook ’n sleutelrol gespeel in die organisering van protesvergaderings wat in die Kaapkolonie gehou is en deur duisende ondersteuners bygewoon is. Haar optrede in protes teen die verskroeideaardebeleid, sowel as die deportasie van krygsgevangenes, het die Britse owerhede in die Kaap erg ontsenu. Sy is onder meer as ’n Kaapse rebel bestempel en sekere media het na haar verwys as die “Queen of the rebel ladies”.

Sy het nie gehuiwer om self haar hande vuil te maak nie. Toe dit byvoorbeeld kom by die insameling, sortering en verspreiding van lewensmiddele vir die vroue en kinders in die konsentrasiekampe, onder meer vanaf Nederland, het sy self die werk behartig. Meer as 2 000 bokse met goedere (kos, medisyne en klere) is ontvang en aan die vroue en kinders in die kampe gestuur. Haar huis in Strandstraat 23, Kaapstad het as die depot vir al die goedere gedien en is vandag ’n huismuseum (die oudste museum van sy soort in die land).

Die werk wat Maria verrig het, is nie onafhanklik van ander pogings aangewend nie. Sy het ook noue bande met Emily Hobhouse, die Rooikruis en ander ondersteuningsorganisasies gehad.

Maria is selfs in ’n stadium, toe krygswet in die Kaap afgekondig is, onder huisarres geplaas vir haar steun aan die Boererepublieke. Volgens Van Bart is haar huis in hierdie tyd byna daagliks deur die millitêre polisie deursoek. Boonop was sy ook deel van die bekende Kappiekommando, ’n vroueorganisasie wat gedurende die oorlog as ’n geheime diens gefunksioneer het.

Gedurende haar leeftyd was die Koopmans-De Wet-huis die bymekaarkomplek vir invloedryke mense, insluitend Paul Kruger, Rhodes, presidente Brand, Reitz en Steyn. Haar politieke status is duidelik erken in ’n tyd waarin vroue dikwels nie as gelyke beskou is nie. Na haar dood op 2 Augustus 1906, in die ouderdom van 72 jaar, het haar jonger suster steeds in die huis aangebly waarna dit in 1913 tot ’n museum verklaar is.

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest