Leesvordering:

ʼn Naam wat iets beteken

Jul 26, 2023

Deur Ilze Nieuwoudt

Soos met enige land wat drastiese regeringsveranderinge ondergaan, het Suid-Afrika ook in die afgelope 20 jaar verskeie veranderinge van plekname beleef. Plekname het in byna alle gevalle ’n unieke verhaal wat daarmee saamgaan, en dit is juis hierdie telkens geskiedkundige waarde wat met groot hartseer en woede opgeoffer word.

Ten spyte van die historiese waarde en betekenis aan plekname, veg Suid-Afrikaners vir die behoud van ’n naam sonder om die “storie” agter die naam te ken en te waardeer. Hier is ’n paar interessante plekke met selfs meer interessante stories.

Mier

Die Mier-munisipaliteit in die Kalahari se naam het, in teenstelling met eerste indrukke daarvan, niks met miere te make nie. Hierdie streek, wat onder meer die dorpe Keimoes, Kakamas en Upington insluit, se naam is eerder van die woord mere afgelei. Duitse sendelinge wat die area lank gelede besoek het, het talle waterpanne hier gevind en dit mere genoem het. Plaaslike inwoners het dit later eerder as mier uitgespreek.

Potchefstroom

Hoewel daar geen enigheid oor die presiese oorsprong van die naam Potchefstroom is nie, reken kenners dat dit ’n onbetwisbare verbintenis het met die Andries Potgieter, die stigter van die dorp. Aanhangers van die teorie meen dat chef na leier verwys en dat die woord stroom na die Mooirivier verwys. Ander meen egter dat die naam afkomstig is van die woord potscherf, wat verwys na die krake in die grond van die Mooiriviervallei wat soos potskerwe lyk. Sommige glo ook dat die naam oorspronklik Potgieterstroom was en later tot Potgerstroom en uiteindelik Potchefstroom vervorm is.

Swellendam

Hierdie dorp in die Langeberge van die Wes-Kaap het sy naam in 1745 gekry en is gevorm uit ’n samestelling van twee name. Dit is afkomstig van die naam van die destydse goewerneur Hendrik Swellengrebel en sy vrou, Helena ten Damme.

Zeerust

Die naam is ’n verkorting van die oorspronklike naam Coetzee-Rust en is afkomstig van die naam Diederik Coetzee. Coetzee was die eienaar van die oorspronklike plaas waarop Zeerust uiteindelik ontstaan het.

Bethal

Twee susters, Elizabeth du Plooy en Alida Naudé, het met die twee boere getrou waarop die dorp Bethal uiteindelik geproklameer is. Die dorp is sy naam aan dié twee vroue se name (Beth en Al) te danke.

Treur- en Blyderivier

Hierdie twee riviere vloei in die wêreld se derde grootste canyon, naamlik die Blyderivier-canyon, en by die punt waar die twee riviere in mekaar vloei, vind ʼn mens die Bourke’s Luck-kolkgate. Die oorsprong van hierdie riviere se name is baie interessant. Volgens oorlewering het die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter en sy geselskap in 1844 in die area getrek. As deel van ’n ontdekkingstog waarin hy en ’n paar makkers gehoop het om kontak met die Portugese in Lourenço Marques te maak, het hy die trekgeselskap by ’n onbekende rivier laat oorstaan. Toe die mans nie op die verwagte datum van hul tog terugkeer nie, het die trekkers die ergste vermoed: dat Potgieter en sy manne nie die tog oorleef het nie. Hulle het die rivier waarby hulle kamp was toepaslik die Treurrivier genoem en weswaarts getrek. ’n Paar dae later het Potgieter-hulle egter die trekkers ongeskaad ingehaal en daar is besluit om die rivier waarlangs hulle toe getrek het die Blyderivier te doop.

Wat noem jy dit?

Plekname kan ook in die volksmond aangepas word. Telkens is mense in die duister oor na watter dorp of streek daar verwys word. Hier is ’n paar van die bekendste voorbeelde van name wat in die daaglikse gebruik aangepas is:

  • Berg met verwysing na die Drakensberg. Daar kan ook gepraat word van byvoorbeeld die Sentrale Berg.
  • Bloem met verwysing na Bloemfontein.
  • Harties met verwysing na Hartbeespoort.
  • J-Bay met verwysing na Jeffreysbaai.
  • Jakarandastad of Petoorsdorp met verwysing na Pretoria.
  • Bos of Die Eikestad met verwysing na Stellenbosch. (En onthou tog: Dit word in Afrikaans as Stel-en-bos uitgespreek, nie as Stel-in-bosj)
  • Potties met verwysing na die eertydse Potgietersrus (die naam is intussen verander na Mokopane)
  • Toti, The Deep South of selfs Amanzimtexas om na Amanzimtoti te verwys.

Die pad na Verdwaalfontein …

Of ’n mens dit wil aanvaar of nie, feit is dat daar reeds tientalle plekname in Suid-Afrika verander het (en waarskynlik in die toekoms ook sal verander). Hierdie veranderinge maak talle Suid-Afrikaners behoorlik die josie in, en in baie gevalle word daar nou verwarring geskep oor watter nuwe name nou na watter dorp verwys.

Hier is ’n paar bekende en soms minder bekende voorbeelde van name wat reeds verander het:

  • Duiwelskloof in Mpumalanga is verander na Modjadjiskloof.
  • Ellisras in Limpopo is verander na Lephalale.
  • Louis Trichardt in Limpopo is eers na Makhado verander, en toe weer na Louis Trichardt terugverander.
  • Messina in Limpopo is nou Musina.
  • Nylstroom in Limpopo is verander na Modimolle.
  • Die Treurrivier in Mpumalanga is verander na die Sefoganerivier.
  • Port Elizabeth in die Oos Kaap is verander na Gqeberha.

Lees ook: Tiny Town, Pretoria

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest