Die omgewing om die Uniegebou word deur kontraste gekenmerk. Dit is waar jy in die superluukse Sheratonhotel kan tuisgaan, maar soms ook helder oordag tussen vervalle woonstelgeboue kan sien hoe prostitusie en dwelmhandel openlik bedryf word.

Tussen dit alles is daar ʼn pragtige argitektoniese juweeltjie waarvan min mense weet, naamlik Tiny Town.

In 1921 het die Nederlandsgebore ontwikkelaar en argitek, Hendrik Horstmanshof (1886-1974), besluit om na sonnige Suid-Afrika te emigreer. Mettertyd het hy ʼn bestaan begin maak uit die bou van huise wat hy dan weer verkoop het. In 1929 het Horstmanshof en ʼn vennoot Tiny Town gebou, ʼn kompleks bestaande uit 14 wooneenhede. Dit was sy mees ambisieuse projek tot in daardie stadium en het aanvanklik as Trianon bekendgestaan.

Horstmanshof wou vir middelklas-Pretorianers wonings in die styl van die Arts and Crafts-beweging binne ʼn formele parkomgewing skep. Baie aandag is dus aan die detail van afwerking en vakmanskap gewy. Die idee van so ʼn soort kompleks in ʼn parkomgewing wat nie eksklusief vir rykes bedoel was nie, was gewoon in Nederland, maar minder tipies aan Pretoria. Van 1930 tot 1934 het Horstmanshof en sy gesin self in een van die enkelverdiepingwonings in Tiny Town gebly.

Van Kerkstraat af is die kompleks byna onsigbaar en ʼn mens ry maklik by die ingang verby. Dalk dra dit daartoe by dat dit voel asof ʼn mens deur ʼn tydgordyn terugstap wanneer jy by die kompleks ingaan. Dit verduidelik waarskynlik ook waarom die inwoners oor die algemeen jare lank daar woon, in teenstelling met woonstelle in die omgewing wat ʼn groot omset van huurders en eienaars het. Skynbaar het die eienaars self later op die naam Tiny Town besluit, omdat die kompleks met sy visdammetjies, sierboë, eiesoortige straatligte, bruggies, plaveisel van Pelindaba-leiklip en ander unieke kenmerke soos ʼn klein dorpie binne die groter dorp/stad voel.

Mettertyd het dit ʼn tuiste vir onder andere kunsstudente geword. Dit spring ook nie die omgewingswerklikheid vry nie; teen die begin van die 21ste eeu was daar dikwels inbrake en ander misdaadinsidente. In Desember 2002 is ʼn jong kunsstudent selfs daar vermoor toe ʼn huisroof skeefgeloop het.

Deur die jare het die eenhede begin verval totdat ʼn ontwikkelaar, City Property, dit gekoop het. Hulle het die dienste van VDO Argitekte bekom om die kompleks te restoureer. Omdat die geboue ouer as 60 jaar is, moes die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) toestemming gee en hulle insette is ook verkry om die projek af te handel. Sedert 2009 is Tiny Town se eertydse glorie herstel.

Dit was ʼn ingewikkelde projek. Die argitekte moes rekening hou met die voorskrifte van die eienaar, die wet en SAHEA. Hulle wou die oorspronklike aard en voorkoms van die geboue sover as moontlik behou, maar sommige aspekte, soos die beligtingstoebehore (light fittings), was nie geskik vir modernisering nie. Ander aspekte, soos die houtvloere, staalplafonne en emaljebaddens, kon met groot sukses behou en gerestoureer word. Pragtige foto’s van die klaar gerestoureerde kompleks kan onder “projekte” by www.vdoconsulting.co.za gesien word.

Met die groot taak afgehandel, is Tiny Town nou ʼn veiligheidkompleks vir huurders van die middel- tot die hoërinkomstegroep. Dit bied steeds ʼn unieke en rustige eilandjie vir die inwoners te midde van die woelige omgewing aan die voet van die Uniegebou.

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Adjunk Uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir Internasionale skakeling, taal en kultuur.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest