Leesvordering:

Natuurhoekie 68: Op Vlerke: Die natuur se geheimenisse gee vlerke … eendag by ’n watergat

Apr 22, 2024

Deur André Christof

André Christof, ’n oubekende by Natuurhoekie van die boeke, You Tube-kanaal en Facebook-groep, het weer ’n bydrae oor sy waarnemings in die natuur aan AfriForum Wêreldwyd gestuur. Hy skryf:

Die ronde watergat, wat nie baie groot is nie en waarvan die veld rondom al snuif getrap is, sit daar in ’n klipperige gebied duskant ’n uitgestrekte digbeboste boomryke area, ongelooflik die skakering groen na eie soort en vorm.

Sekere bome se krone is gerond, dig, spreiend, soos daardie van die doringstruike in die voorgrond, na agter is groter bome, party enorm, enkeles het ronde spreiende krone met hangende takke. Ander, soos die akasias met die onmiskenbare plat krone, lang donker stam en takke wat onderkant die blaredak te sien is, troon op plekke bo die ander uit waarvan een tussen die lang welige grasse, nie ver van die suiping af nie, staan.

Skuins regs voor die akasia is daar ’n kaal boom met ’n dik stam waarvan die grys-wit takke al begin verweer. Dooie hout het al aan die bokant van sekere takke afgebreek en daardie wat nog nie vergaan het nie, lê onderkant in die veld.

In die lug bokant die watergat is daar klein skaapwolkies, sulke wit vlokke wat op ’n ry af gerangskik is. Baie hoog op, in die agtergrond, is ligte deurskynende veerwolke wat lyk of hulle oor die diepblou hemelruim gespan is.

Doer, ’n ent anderkant die bome se toppe, lê die voetheuwel van ’n berg, die berg in die verte met ’n bank donker stapelwolke wat daaroor saamgepak is – dreigend.

Na-aan die suiping is die grasse, wat al begin verkleur het, kort gevreet, ook daardie tussen die groot donker klippe, verder weg.

Na regs lê die wuiwende grasveld uitgestrek met hier en daar ’n groen doringbossie tussenin.

Daar is nie ’n dier in sig nie, maar spore by die suiping egter, soos die see.

’n Ent anderkant die watergat, duskant die ruigtes, lê ’n reusagtige verweerde boomstam met barste oor die lengte daarvan in die veld uitgestrek soos die boom homself, ’n tyd gelede, met sy wortels en al uit die aarde uitgeskeur het, oorblyfsels van die dik takke lê weerskante. Van die eens enorme wortelstelsel aan die linkerkant, het nog net daardie vervlegte wortels waarin grond en ’n klomp ronde klippe vasgevang is, oorgebly.

Mens rúík die veld, eiesoortige aan die omgewing, hoor die klanke, ook daardie van die bome se blare en grasse wat fluister in die briesie wat daar trek. Jy asem dit in, verwonderd, wil die grasse tussen die vingers voel, daaraan ruik, dit betas, die bome se blare, die bas. Sekere bome se stam en takke het geel-wit kurkagtige bas, ander het diep oorlangse groewe donker stamme en takke, nóg ander se bas is donkergrys met ’n growwe tekstuur en diep vorm, horisontale plat groewe.

Trrr-tjree-tjrrrr, trrr-tjree-tjrrrr, laat ’n kleinglansspreeu nou en dan van hom hoor.

Dan gesels daar ’n grootglansspreeu met die donker oë, donker oorvlek, lenige voorkoms en lang stert met sy mengel van kwetter- en kloekgeluide, so aanmekáár, dit klink skoon asof hy die allervreeslikste woordeskat het.

Intussen het daar twee rooiborsduifies by die suiping gaan sit. Pragtig is hulle met die swart gespikkelde halssnoer oor die kaneelkleurige bors, blougrys voorvlerke, die wit punt en kante van die stert.

Ná dit teen die wal af beweeg het om water te drink, gaan pik dit aan die bokant in die veld, maar nou is die mannetjie by die wyfie doenig, ooo-koo-koo-koo, ooo-koo-koo-koo, pronk dit terwyl hy die pootjies hoog lig en al om die wyfie trap. Hy pof die bobors vere, dan gaan hy met die koppie op en af.

Sulke onderstebo buisagtige pers blommetjies en klein wit ronde poeierkwassies aan die lang stele is oral tussen die groot klippe te sien.

Nou en dan sweef sade verby, doer in die lug, aan hul wit stralekrans saam met die ligte briesie wat daar trek. Hulle ry op ’n veertjie na waar die natuur hulle ook al neem.

Skoenlappers fladder oor die plantegroei duskant die suiping, ’n hele paar met liggeel vlerke. Elke af en toe gaan sit een met die vlerke toegevou, rus vir ’n oomblik voor dit verder vlieg.

Een skoenlapper gaan sit op ’n plantjie en daar maak dit die vlerke stadig oop en toe. Nog een kom van ’n ent weg dartelend oor die grasse aangevlieg, draai skielik terug, fladder op ’n plek om ’n paar plante, dan vlieg dit verder tot by so ’n twee meter hoë struik.

Daar kuier dit eers aan die voorkant om ’n paar takke, nie lank nie, dan fladder dit al langs ’n tak wat bykans regop loop verby na die bokant van die struik, dartel oor heelparty takkies, dan fladder dit aan die anderkant af.

’n Entjie regs van die struik is daar ’n donkerbruine met liggeel kolle op, wat oor sulke lang grasse heen en weer vlieg. Elke af en toe talm hy vir ’n oomblik oor ’n plant voor hy verder fladder.

Skielik gaan sit hy duskant ’n bossie op ’n plantjie wat laag oor die grond groei, daar vertoef hy vir ’n geruime tyd met die vlerke oopgevou, toé vlieg hy.

Naaldekokers is bedrywig … van hulle gaan sit op grasspriete wat ’n ent van die wal af staan. Heelparty is daar bokant die suiping doenig. Hulle jag insekte. Een hang feitlik roerloos bo die water naby die wal.

’n Ent weg vlieg ’n ander een heen en weer agter ’n skoenlapper aan. Doer plons nog een kop eerste in die water om ’n prooi te vang.

Daar is een wat van ’n spriet op die wal oor die water vlieg en terug na die wal gaan. Skielik stop die naaldekoker, draai skerp na links, gaan hang bo ’n volgende spriet voor dit verder vlieg.

Daar naby dans nog een op en af.

Dit vlieg gedurig oor die water, sekeres raak-raak aan die oppervlak, dan maak dit daar so ’n rimpeling.

’n Ent regs van die suiping is daar ’n oop stuk veld waar bobbejane doenig was, daar sien ’n mens nog bewyse van hul teenwoordigheid, waar hulle, nie lank gelede nie, vertoef het. Van ’n afstand lyk die spore wat hulle agtergelaat het soos bakentjies van ’n paar sentimeter hoog wat daar so “regop staan”.

Nie ver van die verweerde boomstam af nie, beur ’n miskruier met sy bolletjie oor die veld, ’n tweede klou daaraan vas, rol saam, skielik stop die een wat rol, klim op die bolletjie, doen ’n draai-dansie, klim af, kies koers, nou loop dit weer agterstevoor op die voorpote met die agterent in die lug, dan rol hy dit met die agterpote in ’n reguit lyn oor die ruwe terrein in die rigting bepaal verder.

Elke nou en dan kom sit ’n voël by die suiping om water te drink, vlieg en kies koers terug ruigtes toe.

’n Mikstertbyevanger met die onnette diepgevurkte stert kom maak per geleentheid daar ’n draai, jaag in die lug op agter ’n insek aan, maak sy vangs, vlieg na ’n struik ’n entjie weg, waar hy op ’n tak gaan sit, die kossie herhaaldelik teen die sitplek slaan om van die angel ontslae te raak, voor hy dit vreet.

Kwit-kwit kwit kwit-kwit kwit kwit, rits ’n swartoogtiptol met die klein kuifie en delikate slank snawel waar dit ’n ent duskant die suiping in die veld op ’n struik, wat daar tussen die klippe staan, se tak sit.

Elke af en toe vlieg dit in die lug op, dartel agter ’n motjie aan en vang dit. Na hy dit terug op die takkie gevreet het, kyk hy weer rond.

Kwit-kwit kwit kwit-kwit kwit kwit, rits dit dan weer dat die bottergeel onderstertvere so flits.

’n Fris bloukopkoggelmander met die baie mooi helder metaalkleure het daar, ’n ent regs van waar die tiptol motjies jag, op een van die groot klippe in die sonnetjie gaan sit en bak. Hy stut met sulke reguit armpies weerskante van hom op die klip, die bolyf oor die voorpote gelig terwyl hy rondkyk, dan beweeg hy nou en dan die kop en voorlyf op en af.

Twee voëls kom voormiddag bykans ongesiens, met wye vlerke uit die verte doer hoog in die lug aangesweef. Af en toe klap dit die vlerke. Aan die vorm kan ’n mens sien dit is arende. Bokant die ruigtes sweef hulle met ’n spoed af grond toe. ’n Ent van die watergat af word die pote al onder die lyf uitgestoot, naby die grond rem dit met die vlerke, dan gaan sit dit daar by die suiping.

Roofarende!

Hulle het ’n eenvormige geelbruin verekleed, donkerbruin op die voorvlerke en die stert, met sterk geveerde bene. Hulle het krom skerpgepunte snawels en kragtige, skerp geboë kloue. Nou gaan sit hulle so ’n entjie van die water af vanwaar hulle die omgewing vir ’n tyd met hul onbevreesde blik bespied, toe stap hulle met ’n fiere houding afgemete na die water toe. Daar vertoef hulle sommer lank, sit meestal doodstil, drink nou en dan, kyk rond.

Baie rustig.

Olifant- en kameelperdspore kan rondom die suiping tussen die menigte ander in die modder waargeneem word – die olifante s’n met ovaal agterpote en ronde voorpote. Die kameelperd het ’n onmiskenbare vierkantig-getoonde spoor. Daar kan nog op ’n plek gesien word waar ’n kameelperd staan en suip het met die voorpote uitmekaar geplant.

Nie lank na die twee roofarende koers gekies het nie, kom ’n paar rooikeelfisante tussen die lang grasse duskant die ruigtes treetjie vir treetjie aangestap, koppies laag oor die grond, al soekende. Hulle pik nou en dan iets op, dan gaan maak hulle hul op ’n plek waar ’n klomp redelik vars olifantmis lê, tuis.

Kewers het daar reeds ’n fees.

Nou raak die fisante bedrywig, skrop dat die mis na alle kante toe trek, pik, soek, pik. Daarna skrop dit weer. Die mannetjie rooikeelfisant het ’n kaal rooi gesig en keel, opvallende wit strepe aan die sye, spore aan die rooi onderbene.

Kwoor-kwoor-kwoor-kwaaa, gesels hy so ’n slag, wikkel ’n keer die agterent heen en weer, dan tree hy terug, gaan staan en kyk of daar nie ’n kossie oopgeskrop is nie.

Die volgende oomblik kom ’n leeuwyfie uit die rigting van die ruigtes anderkant die watergat tussen die grasse deur na die suiping toe aangestap.

’n Ongelooflike gespierde lyf, plat pens, kragtige bene, donkerbruin kwas aan die punt van die stert, met die yslike voorpote wat na binne gedraai word soos sy stap.

Haar goudbruin pels blink in die son.

’n Mens kan sien sy is in die fleur van haar lewe.

Wat ’n gesig!

Sy lig ’n slag die stert en swaai dit oor die agterlyf om vlieë wat pla te verjaag. Later gaan staan sy by die suiping, hurk en laat sak die voorlyf oor die sterk voorpote.

Nou kan ’n mens die gespierde borskant waardeer, die voorbene, bultend by die skouers.

Daar drink sy vir ’n geruime tyd, lek die water op terwyl sy met sulke sagte oë rondkyk.

Haar borskant is witterig met rosette en kolle op. Wit om die oë, bokant die neus, om die bek wat na die keel afloop en aan die binnekante van die bene. Ook wit by die pote en tussen die kloue.

Pragtig is die goudbruin van haar rugkant, met ’n effe donkerder smal streep, van die voorkop tussen die oë na agter oor die rug.

Sy lig die stert weer ’n paar maal en swaai dit oor die agterlyf.

’n Keer draai sy die kop, tóé kan ’n mens ’n letsel bokant die linkeroog sien, op die res van die lyf is daar egter geen teken van enige skermutseling nie.

Na sy klaar gesuip het, kom sy orent, kyk vir ’n oomblik oor die veld uit, toe draai sy om en loop fier terug na die ruigtes.

Skryf vir ons

Is jy lief vir die natuur? Het jy al enige interessante dieremaniere dopgehou of pragtige landskappe in die buiteland ontdek? Deel jou staaltjies en foto’s met ons by wereldwyd@afriforum.co.za

Lees ook: Natuurhoekie – Groot ontdekking in die Karoo

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis: ’n e-pos uit Florida

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Nicolene Coetzee, wat vir...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest