Leesvordering:

Natuurhoekie 70 – Die groot wildebeesmigrasie, ’n uiters gevaarlike onderneming – Deel 1

Jun 19, 2024

André Christof

Omstreeks Februarie-maand jaarliks, beset troppe blouwildebeeste die kortgrasvlaktes in die noorde van Tanzanië wat oor die laer noordelike hange van die Ngorongoro-kraterhooglande en rondom Olduvai-kloof in die suide van die Serengeti Nasionale Park versprei is. Honderdduisende kalwers word binne ’n tydperk van twee tot drie weke hier gebore.

Die oorvloed van kwesbare jong kalwers beteken dat die roofdiere in die omgewing met gemak jag.

Nadat hulle hul kalfies in Februarie en Maart gebaar het, begin die wildebeestroppe teen April noordwes na die varser gras van die sentrale Serengeti beweeg en trek duisende sebras en kleiner groepe wildsbokke saam. Teen Mei strek kolomme wildebeeste vir etlike kilometers soos die diere by die Moru Kopjes [sic] begin saamdrom.

Geleidelik kry die beweging momentum en die wildebeeste begin in hul massas in die Serengeti se Westelike Korridor opbeweeg.

Die troppe vorm in groot getalle langs die poele en kanale van die rivier wat hulle moet oorsteek om op hul reis voort te gaan.

Gedurende Junie begin die droë seisoen met groot konsentrasies wildebeeste in die Wes-Serengeti en op die suidelike oewer van die Grumetirivier. Elke migrerende dier moet die uitdaging trotseer om die krokodil-besmette rivier oor te steek, die eerste van vele skrikwekkende en spannende rivierontmoetings.

Einde Junie, begin Julie, gaan die honderdduisende wildebeeste en sebras steeds noordwaarts langs die westelike rand van die park na ’n selfs meer gevaarlike versperring: die Mararivier in die noorde van die Serengeti. Hierdie togte oor die rivier na die Masai Marareservaat in Kenia is seker een van die opwindendste natuurlewe gebeurtenisse op aarde. Hulle begin gewoonlik met die aanvang van die hoogseisoen in Julie, maar tydsberekening hang alles van die natuur af.

Wat ’n ongelooflike gesig is dit nie om die uitgestrekte oop grasveld in die wintermaande, so ver as wat die oog kan sien, in die Masai Marareservaat te aanskou nie – die yl bebosde savanne met kol-kol ’n boom of twee, hier en daar ’n eiland plantegroei, lae bossies. Die gebiede langs die Mararivier is bebos en is die tuiste van meer as ’n honderd voëlspesies.

’n Ent weg, doer anderkant die rivier, lê die lae Oloololo bergreeks.

Meeste van die diere kan ’n myl-ver tussen die lang grasse deur gesien word. Daar is kameelperde, olifante, sebras, en wat ’n belewenis is die blouwildebeeste nie wat in hul massas uitgesprei teen die berg se hang staan en vreet nie, mens hoor hul gebulk sommer al van ’n ent weg, sien die koppe knik, die sterte swaai soos dit die steekvlieë wat pla verjaag.

’n Hele ent duskant die blouwildebeeste lyk dit op ’n plek kompleet soos ’n hopie grond wat daar in die lang grasse te sien is, maar dan verraai die leeu se massiewe dos woeste diep donkerbruin maanhare hom soos hy daar lê en oor die veld uitkyk.

Die blouwildebeeste of gewone wildebeeste, soos dit daar bekend staan, met die kenmerkende blougrys velvoue aan weerskante van die nek wat oor die skouers (van sekeres tot by die flanke) strek, swart maanhare, dik sterk nek, opvallende horingbasis en ’n opmerklike lang swart stert, het lang wit baarde. Dan is daar ook die topi’s, ’n subspesie van die basterhartbees wat hier by ons in Suid-Afrika gesien word.

Die waterbokke wat daar aangetref word is ’n subspesie van dié wat hier by ons aangetref word. Hulle het nie ’n ring om die boude nie, maar is solied wit agter.

Die Mara-rivier loop deur die reservaat van noord na suid met baie seekoeie en krokodille, en dit maak van die jaarlikse migrasie van by die tweemiljoen wildebeeste en honderde duisende sebras ’n uiters gevaarlike onderneming.

Tydens die migrasie kom die wildebeeste en sebras doer uit die verte oor die golwende heuwels aan, die wildebeeste búlk.

Foto: Katie Visagie

Blaf-blaf-blaf, blaf-blaf-blaf, roep die sebras uitgelate soos die troppe mekaar opwerk en hulle oor dae in hul massas vanuit die horison oor die veld nader kom. Hulle word gedryf deur die drang van oorlewing in hul soeke na weivelde en water wat in hul behoeftes voorsien om sodoende die besonderse spesie se voortbestaan te verseker.

En die roofdiere volg!

Op ’n dag in die middel van Augustus kom ’n magdom blouwildebeeste, doer uit die veld, waar sulke lang geel-wit grasse met polle groenigheid tussenin gesien kan word, op ’n streep na ’n plek in die rivier toe aangestap, daar waar ’n stuk van die rivierbedding ’n ent spits in die water in loop en waar die rivier relatief stil en minder diep is.

Dit is net een massa donker lywe wáár mens kyk, die kop van die trek met die leiers aan die voorpunt, agter hulle volg ’n menigte met hul kenmerkende gedraaide horings in ’n breë strook oor die veld uitgestrek, sover as wat die oog kan sien. Dit verminder al gaande tot ’n lang stert wat nog drupsgewys doér uit die verte aankom.

’n Mens hoor hulle in aantog tussen die lang vaalgroen grasse deur, aanvanklik net so ’n dowwe dreuning. Daar is die veraf tromslag van hoewe op die harde aarde, dit raak al luider en styg later bo die geraas van die rivier uit.

Die voorstes begin draf, die res volg, galop, gaan later met ’n spoed geleidelik teen die helling van die reeds uitgetrapte wal af, daar waar vorige oorgange plaasgevind het, beweeg oor daardie stuk van die rivierbedding wat spits die water in loop dat die roesbruin stowwe vir ente so om die pote staan, dit hulle soos ’n wolk bedek voor die wind dit skep en oor die rivier waai.

Nou gaan staan die voorstes teen die kant, en binne oomblikke is die rivierbedding weerskante van hulle oortrek met wildebeeste wat op ’n ry ingeryg ongeduldig rondtrap, enkeles staan in die vlak water, laat sak die kop, suip, terwyl die druk van agter af al groter raak soos die menigte aankomelinge opdam.

’n Ent stroomaf, net voor die draai in die rivier, steek heelparty seekoeie se koppe anderkant rotse nuuskierig bo die oppervlak uit. Hulle beloer die petalje.

En die krokodille, wat op die nat sand op die linkerkantse wal te sien is, met enkeles reeds in die water, is wagtend …

Nie lank nie, of die leier blouwildebees beweeg die water in, loop skuins stroomop, ’n paar ander volg kort op sy hakke, dan die res in hul hordes in ’n V-formasie agter hulle saamgebondel wat tot doer anderkant die wal terug oor die veld strek.

Die rivier is daar redelik vlak, dus loop hulle so driekwart weg na die anderkant terwyl dit geleidelik al dieper raak, dan swem hulle die laaste dertig meter of so skuins teen die sterk stroom in na die anderkant.

Skielik kry die water lewe! Binne ’n ommesientjie is dit net een donker massa wat daar op ’n streep oorbeweeg, mens hoor die water soos ’n menigte pote van links daardeur gaan, dit wit teen die bene op spat, teen die lywe, regs aan die oorkant teen die rotse klots, die konstante dreuning oor die veld van die getalle in aantog.

Elke nou en dan word ’n wildebees deur ’n krokodil weggevat.

Maar nou het hulle aan die anderkant ’n kolossale uitdaging, daar wag ’n baie steil wal van heelwat oor die twintig meter waarteen hulle moet uit en dit is aan die onderkant net rotse wáár mens kyk.

Die lang vaalgroen grasse en lae plantegroei in die veld aan die bokant waai in die wind.

Die leier neem die wildebeeste na ’n plek waar daar ’n paadjie tussen die yslike rotse deur teen die wal uit skuins na die bokant toe gaan, hulle moet egter eers al struikelende uit die water oor gladde rotse met hul nat lywe klim, van die knieë opstaan voor hulle daar kan uit, maar nou mik al wat blouwildebees is vir daardie plek, later lyk dit soos ’n drukgang waar almal gelyktydig wil deur, dit stroom daar na bo, werk die grond aan die bokant van die wal weg soos hulle daar uitgaan, die paadjie raak breër, en die massas kom net onophoudelik in hul getalle van agter af uit die veld deur die water aan, die druk raak net al erger.

Hordes is later bo-oor mekaar, vertrap mekaar, in die vorm van ’n piramiede teen die wal afgeëts, en by die basis, daar waar hulle uit die water klim, sien ’n mens nie eens meer die rotse nie, dit is net rye en rye donker wriemelende nat lywe soos hulle daar oor mekaar en die rotse beur in hul poging om die ander hoër op in die paadjie te volg.

Die aanhoudende gebulk en dan die angs van daardie tussen die rotse vertrap sny deur murg en been, die geluide van die magdom in aantog oor die veld en deur die water. Die besef van wat op hulle wag, maak dit nie makliker nie.

Wegbreek-troppies word op ’n paar plekke stroomaf in die water deur rotse gekeer dat hulle nie daar kan uit nie, sekeres slaag wel, na ’n massiewe poging, daarin. Ander nie, nou maal hulle daar rond, wend naarstiglik ’n laaste poging aan, dan probeer hulle verder stroomaf ’n ander plek vind.

Teen daardie tyd hang daar al ’n digte roesbruin stofbank oor die rivier soos die blouwildebeeste in hul getalle nimmereindigend van agter uit die veld en teen die skuinste van die wal af na die water toe aankom.

Intussen het die blouwildebeeste weerskante van die hoofstroom teen die rotsagtige wal uit in twee groot groepe verdeel wat hul weg uit die water tussen die rotse deur op ander plekke ’n weg na bo gevind het. Nou stroom die nuwe aankomelinge in hul massas ook agter dáárdie aan.

Wat wag nou op hulle? In deel twee vertel ek meer oor hulle avonture.

Foto: Katie Visagie

Skryf vir ons

Is jy lief vir die natuur? Het jy al enige interessante dieremaniere dopgehou of pragtige landskappe in die buiteland ontdek? Deel jou staaltjies en foto’s met ons by wereldwyd@afriforum.co.za

Lees ook: Natuurhoekie 68: Op Vlerke: Die natuur se geheimenisse gee vlerke … eendag by ’n watergat

Foto: Jorge Tung/ Unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees. Jonk, Afrikaans en...

Ons moet praat oor emigrasie

Ons moet praat oor emigrasie

Deur dr. Sulette Ferreira Mense is altyd besig om te trek – na ’n nuwe huis, ’n nuwe dorp of stad, of selfs somtyds na ’n nuwe land. Die lewensveranderende besluit om uit jou land van oorsprong te emigreer kan die skaal van die lewe enige kant toe laat kantel. Ons kan...

Kollig-nuusbrief: 11 Julie 2024

Kollig-nuusbrief: 11 Julie 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest