AfriForum Jeug is die jeugvleuel van die niepolitiese burgerregte-organisasie AfriForum. AfriForum Jeug is op Christelike waardes geskoei. Ons missie is om ’n bymekaarkomplek vir jong Afrikaners op kampusse en in dorpe te wees waar AfriForum-strukture gevestig is, en om op te tree as spreekbuis waar daar teen jongmense gediskrimineer word deur hulle van moedertaalonderrig te ontneem of hulle grondwetlike regte te skend. AfriForum Jeug streef die uitbouing van Afrikaans en Afrikanertradisies na en bied opleiding aan jongmense om hulle te bemagtig sodat hulle kan standpunt inneem oor kwessies wat hulle toekoms raak.

AfriForum Jeug wil hierdie missie bereik deur die volgende te doen:

  1. Regstellende aksie teenstaan
  2. Afrikaans en moedertaalonderrig bevorder
  3. Gehalte-onderrig bevorder
  4. Jongmense se leierskap, kennis en vaardighede ontwikkel
  5. Jongmense se veiligheid verseker en verskerp
  6. ’n Gesonde studentelewe daarstel
  7. Jongmense in dorpe mobiliseer om ’n verskil in hul gemeenskap te maak

Om jongmense se leierskap, kennis en vaardighede te ontwikkel, is een van AfriForum Jeug se grootste prioriteite. Marike van As, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir jeugontwikkeling, vertel ons hoe hulle leierskap- en geskiedenisstaptoere gebruik om dit reg te kry. Een so ’n toer is die Rebelspoorvasbyt. In sy boek Rebelspoor vertel dr. Louis Bothma:

Dit was die Afrikaner se donkerste uur toe die bittereinders van die Anglo-Boereoorlog mekaar twaalf jaar later die stryd aansê: Aan die een kant die regeringsmagte (Kakies) van premier Louis Botha en Jan Smuts, sy minister van verdediging – aan die ander kant die rebelliekommando’s (Boere) van kommandant-generaals Christiaan de Wet en Christiaan Beyers. Ná ’n paar maande was alles verby. Die einde was bitterder as in 1902. De la Rey en Beyers was dood. De Wet, Kemp, Conroy, Wessels en duisende ander helde uit die Anglo-Boereoorlog was in die tronk. Jopie Fourie is op ’n Sondagoggend, net voor Kersfees, gefusilleer. Manie Maritz het in selfopgelegde ballingskap die wêreld vol geswerf. Hoe gebeur só ’n tragedie? Wie is die skuldiges? Hoe kyk mens 100 jaar later daarna?

In 2016 het AfriForum Jeug in samewerking met dr. Louis Bothma vir die eerste keer ’n gedeelte van die Rebelspoor met bussies, waentjies en ’n spul studente aangepak. In 2017 het ons dit weer gedoen, maar met ’n groter groep. Een aand om die vuur op die plaas Zwartmodder vra Michelle Peens, een van die toerlede: “Oom, hoekom stáp ons nie die roete nie?” Die idee het behoorlik vlam gevat en in 2018 het ons ’n gedeelte van die roete vir die eerste keer gestap. Van toe af was daar geen keer aan die vestiging van Rebelspoorvasbyt as ’n uitnemende leierskap- en geskiedenisstaptoer nie.

Die staproete dek ’n gedeelte van die roete wat genl. J.C.G. Kemp met sy kommando aangepak het om genl. Manie Maritz op Duits-Wes se grens te bereik. Die tweede deel van die roete is die pad wat die rebellekommando’s na die klein gehuggie Nous in die Boesmanland gevolg het. Die toer sluit af by die Rebellieboom op ’n plaas tussen Keimoes en Upington.

Die doel van die toer is om jongmense met ’n soeke na hul identiteit as Afrikaners bymekaar te bring en hulle met kennis oor hul erfenis toe te rus sodat hulle betrokke kan raak in hul gemeenskappe en hul plek in die toekomstige Suid-Afrika met passie en trots kan volstaan.

Met hierdie toere wil ons ons geskiedenis ons eie maak. Ons wil weet wie ons helde was en ons wil weet wat hulle moes trotseer vir hul vryheidsideaal – iets waarna ons vandag nog streef!

Lees ook Cecilia Barnard se ervaring van die Rebelspoorvasbyt 2019

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest