Deur Cecilia Barnard

30 Maart 2019

Die laaste drie dae ná my terugkeer uit die Kalahari was ’n kaleidoskopiese dwaal. My sintuie is oorweldig deur die oorvloed mense, geluide, kleure en stemme ná ’n week van eenvoud en stilte.

Daarom dat ek vanaand die eerste keer die moed kon bymekaarskraap om te probeer verwoord en neer te pen wat hierdie afgelope week met my siel gebeur het.

Ek het van die begin af geweet hierdie staptoer sou ’n lewensveranderende ervaring wees. Maar presies hóé sou ek nooit kon raai nie.

Dit is onmoontlik om so ’n uiteenlopende spul mense bymekaar te gooi – tesame met ’n enorme vrag hout en ’n tenk vol drinkwater – en net te verwag dat alles seepglad sal verloop.

En tog, met stampe en stote, ’n hele paar skuur- en skaafmerke, en minimale beserings het vreemdelinge binne ’n kwessie van ’n dag familie geword. ‘n Familie wat ek tot aan die einde van my dae sal koester.

Daar is iets aan die Kalahari-son wat jou van al jou pretensie en voorbehoud stroop. Jou menswees word tot op die been ontbloot en jou siel oopgelê vir die mense om jou.

Dit is een van die angswekkendste gevoelens wat in ’n persoon ontketen kan word, maar ook een van die mees bevrydende. Jy vind weer vreugde daarin om terug te keer na die eenvoudighede van hierdie lewe; klein goedjies wat so dikwels oorskadu word en in ons alledaagse gejaag na wind verlore gaan.

Die kameraderie wat tussen mense ontstaan wanneer jy so sonder genade saamgegooi word, is onbetwisbaar. Niemand word agtergelaat nie, niemand word vergeet nie.

Hierdie week was emosioneel en fisies uitputtend. Ek het myself harder as ooit tevore gedruk en my limiete keer op keer oorgesteek. Daar was tye wat ek slegs op die klank van my eie voetval gekonsentreer het. My gedagtes kon nie verder strek as die aksie van net die een voet voor die ander sit en sodoende aan die beweeg bly, sonder om te dink aan die hittige kilometers wat nog voorlê nie.

Die deursettingsvermoë en krag wat in myself – en ander – na vore gekom het, het my verstom. Nog nooit vantevore was ek só trots op my herkoms, my voorouers en my landsgenote van vandag nie.

Elke sekonde wat ek in hierdie stukkie aarde bestee het, het my met dankbaarheid en nederigheid vervul. Op die laaste aand het ek en ’n paar ander die koppie bo Van Rooisvlei uitgeklim. ’n Gevoel van ootmoed wou my oorweldig toe ek oplaas bo staan en na die duiselingwekkende landskap om my afkyk. Ek het lank ná sononder nog op die rotslys gesit en my verwonder aan die ongereptheid van die land hier onder my.

Daar is niks, maar niks, in hierdie wêreld wat jou so ontsaglik klein laat voel nie as die besef dat jy in die spore gestap het van mense, gewone burgers, wat 105 jaar terug besluit het om op te staan en te bly veg vir hul nasie, nageslag en die strewe na vryheid. Later sonder skoene, sonder perde, sonder wapens en sonder kos. Maar nooit sonder hoop nie. En met ’n beslistheid en trots in hul harte wat geen uniemagte hulle kon ontneem nie.

Ek het hierdie week weer leer lag soos ’n kind, ek het weer leer glo soos ’n kind. Sonder sorge, sonder twyfel. Soggens, wanneer die kamp begin roer het, lank voor die son oor die horison loer, was ek sekerder as ooit vantevore van wie ek is as mens, as Afrikaner, as vrou. En wanneer die dag met gebed geopen is en elke man en vrou stil hul hoofde gebuig het, was ek seker oor my plek in die koninkryk van my Skepper.

Ek kan teruggaan en elke oomblik in detail oorvertel. Maar sommige belewenisse word beter bewaar in die harte van dié wat dit meegemaak het. Somtyds is ’n oomblik te kosbaar om met die mensdom te deel of in woorde te probeer vertaal, en bly dit agter in die veiligheid van jou eie herinneringe.

Jy, en die wat saam met jou daar was. Julle weet. Julle verstaan.

Ons harte het agtergebly in die rooi sand van die Boesmanland.

Lees meer oor AfriForum Jeug en die Rebelspoorvasbyt

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd
Wêreldwyd

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest