Leesvordering:

Swem in ’n swembad met uitsig

Sep 8, 2020

Een van die eerste dinge wat mens moet besef wanneer jy Kuala Lumpur besoek, is dat dit ’n baie warm plek is. Maak nie saak watter tyd van die jaar of in watter maand of seisoen jy die stad besoek nie, jy kan maar daarop reken dat die sweet jou gaan aftap van sonsopkoms tot sonsondergang, en selfs in die nag as jou verblyf nie geseënd is met doeltreffende lugreëling nie. Maar met ’n paar van die beste oorloopswembaddens in die wêreld kan ’n verfrissende duik met uitsig op die stad se wolkekrabbersilhoeët die hitte gou kafdraf. ’n Swembadbesoek aan ’n oorloopswembad bo-op die hotel se dak is egter uiters gewild en gevolglik het hotelle en woonstelblokke die toegang eksklusief voorbehou aan oornaggaste en bewoners. Daar is nie eers een enkele hotel wat dagpasse aanbied vir die gebruik van dakswembaddens nie. As jy dus ’n duik wil neem, moet jy slim wees en selfs effens skelm.

Indien jy reeds akkommodasie geboek het maar nogtans die ervaring van ’n oorloopswembad op die dak wil hê, het ek die volmaakte truuk vir jou. Die Regalia Residences is ’n kompleks bestaande uit drie wolkekrabbertorings wat onderdak bied aan enkele klein hotelle, vakansiewoonstelle en goedkoop oornaggeriewe soos jeugherberge. Dit is effens buite die hoofsentrum van Kuala Lumpur geleë en die uitsig vanaf die 57e verdieping is asemrowend. Dit het ’n swembadkroeg met goeie musiek en is minder besig as baie ander hotelswembaddens; kortom, dit is ’n plek met ’n lekker atmosfeer.

Soos by alle ander plekke moet jy ’n geregistreerde gas wees by een van die hotelle of akkommodasies in die kompleks om toegang te kry tot die swembad. Om dit reg te kry sonder om ’n fortuin te bestee, kan jy ’n bed bespreek by een van die jeugherberge, selfs al beplan jy glad nie om daar te oornag nie. Vir so min as £4 per persoon kan jy ’n bed bespreek by die Sky Pool Kuala Lumpur Hostel. Jy meld aan, kry jou sleutelkaart en kan dan die hele dag die swembadgeriewe benut sonder dat jy eers jou bespreekte kamer hoef te betree. Hierdie is ook ’n gawe opsie as jy reeds vroegoggend moet uitteken by jou ander akkommodasie, maar eers die aand ’n vlug moet haal. Jy kan jou bagasie in die bagasiekluis van die oornagtingsplek los en jou laaste sonnige dag in Kuala Lumpur geniet deur in die swembad te ontspan.

Vir meer inligting oor al die fantastiese swembaddens wat jy kan besoek en die skitterende hotel met die beste swembad in Kuala Lumpur, kan jy my KL Swembadgids raadpleeg by Where to swim in an infinity pool in Kuala Lumpur.

Ontvlug die stad na die Berembun-reënwoud

’n Besoek aan Maleisië sal nie volledig wees sonder dat jy ’n draai maak by een van die donkergroen reënwoude nie. Op minder as twee uur se ry van die sentrum van Kuala Lumpur vind jy die Berembun-reënwoud, wat die volmaakte plek is om weg te breek van die rumoer van die besige stadslewe en weer in pas te kom met die natuur.

 

Die Berembun-natuurreservaat is geleë in die Maleisiese deelstaat Negeri Sembilan naby dié se hoofstad Seremban. Voordat jy selfs oorweeg om ’n voet in die reservaat te sit, moet jy jouself van kop tot toon insmeer met ’n omgewingsvriendelike insekweerder, want die muskiete in die reservaat is regtig uiters dors. Die paadjies, stroompies en riviere is ook oortrek met bloedsuiers; dra dus liefs lang sokkies of kouse en inspekteer jou bene gereeld. Alhoewel dit regtig grillerige goggas is en dit amper onmoontlik is om hulle af te kry, is hulle eintlik grotendeels skadeloos. Neem ten minste twee liter saam om op te maak vir die vog wat jy verloor deur sweet, en dra dienlike stapskoene of tekkies vir hierdie glibberige, modderige, heuwelagtige, enkel-brekende terrein. Ten slotte: moenie vergeet om jou kamera in te pak nie, selfs al is dit reënerig en moet jy dit dus in ’n plastieksakkie verpak. Die reënwoud is versier met die fyn besonderhede van ’n ongelooflike plant- en dierelewe wat jy beslis sal wil vaslê met jou kamera.

As jy jou eers in die reservaat bevind, lei amper onsigbare en oorgroeide voetpaadjes jou tot in die hart van die modderige oerwoud. Praat so min moontlik en beweeg so saggies as wat jy kan om die kans te vergroot dat jy sekere plaaslike bosbewoners teëkom: die withand-mensaap, uilape of makake, bosvarke, dwergbokkies, tapirs en klein boomspitsmuise wat hoog in die takke rondspring. As gevolg van ontbossing in die omringende gebied en die algemene proses van verstedeliking word Maleisiese tiers, wat tans gelys word in die IUBN-rooilys as ’n kritiek bedreigde spesie, al baie jare lank nie meer aangetref in die Berembun-bosreservaat nie.

In die hoë bome bied Berenbum ook ’n tuiste aan honderde voëlsoorte, waarvan die luidrugtigste seker die Asiatiese koël (’n soort koekoek) is. Varings, blomme en ander plante bedek die bodem van die woud. Hou jou oë deurentyd oop vir paddas, vlermuise, skoenlappers, duisendpote en selfs slange! Die woudbodem loop letterlik oor van wriemelende en kronkelende goggas wat net wag om opgedelf, ondersoek en gefotografeer te word. Natuurliefhebbers en navorsers het in onlangse jare na hierdie grotendeels onverkende reënwoud gestroom in die hoop om opwindende nuwe spesies te ontdek.

Een van de gewildste wandelroetes in die Berembun-reënwoud lei stappers langs stroompies wat kabbel oor die mosbegroeide hellings, oor klein riviertjies met behulp van omgevalde boomstamme, oor reusagtige granietrotse totdat mens uiteindelik uitkom by ’n waterval met meerdere vlakke, waar die Batang Penar-rivier in ’n groot rotspoel stort en waar mens kan swem en ontdekkings maak onder die welige reënwoud se blaredak. Jy kan ook stap tot by die wrak van ’n Britse Royal Air Force-vliegtuig wat in 1945 neergestort het in die woud, of die stywe uitdaging aangaan om te stap tot op die piek van die Gunung Berembun, wat 1014 m bo seevlak verrys.

Om meer te lees oor die Berembun-reënwoud en hoe mens dit op ’n daguitstappie vanuit Kuala Lumpur kan besoek, besoek asseblief my volledige reisgids na hierdie ongelooflike plek by Everything you need to know before hiking through the Berembun Rainforest.

Bly ’n paar nagte oor in die reënwoud

Daar is bitter min plekke oor op hierdie aarde waar jy regtig kan wegkom van die mens se werk en wêreld – ’n plek waar voëls se gesang die plek inneem van motorgetoeter, waar die gekwaak en gebrul van paddas jou aan die slaap laat raak en waar die enigste wat jy kan doen, is om te lees, te rus en te ontspan. Minder as twee uur se ry van die besige sentrum van Kuala Lumpur is daar so ’n plek: die Dusun.

Die Dusun betaan uit ses unieke huise, gebou met omgewingsvriendelikheid as uitgangspunt en om saam te smelt met die ongeëwenaarde prag van sy ligging in die reënwoud. Elke huis het sy eie onderskeie styl, ontwerperskenmerke en verskillende slaapkwartiere, maar almal beskik oor goed toegeruste kombuise met yskas, gasstoof, basiese eetgerei en potte en panne; jy kan dus jou eie kos, versnaperings en drinkgoed saambring en geniet van die selfsorgopsie. Die hoogtepunt is dat die huise almal oop vergesigte bied oor die omringende Berembun-reënwoudreservaat. As ’n gas in die oord het jy toegang tot twee pragtige oorloop-swembaddens waar jy die dag kan verwyl; daar is ook ’n gemeenskaplike eet- en sitarea met ’n eerlikheidskroeg vir ingeval jy ’n paar yskoue biere wil hê.

Met ’n fokus op volhoubare ontwikkeling, boerdery en bouaktiwiteite het die hele projek gelei tot ’n pragtige en gesonde ekosisteem wat kan dien as ’n tipe uitbreiding op die Berembun-reservaat, op die grens waarvan dit gelëe is. Die Dusun neem plaaslike personeel in diens, poog om ’n goeie verhouding te handhaaf met die plaaslike gemeenskap en het as doelstelling om ’n groter bewuswording te kweek van Maleisië se pragtige natuurlike erfenis. Dit ondersteun ook plaaslike gebruike, gemeenskappe en NSO’s. Die natuuroord is ook trots daarop dat hulle verantwoordelike en volhoubare reisgeleenthede bevorder. Die Dusun bedien slegs organiese vrugte en groente uit hulle eie groentetuin en het hulle verbind tot beskerming van die plaaslike gebied en tot verantwoordelike watergebruik. Die oord gebruik slegs omgewingsvriendelike skoonmaakprodukte verkry van die Maleisiese maatskappy sonder winsoogmerk Truly Loving Company (TLC), en in elke huis word plastiekvrye seep- en sjampoeprodukte aangebied van Kinder Soaps.

As gevolg van hulle inagneming van die natuurlike omgewing beskik die oord glad nie oor enige vorm van lugreëling nie, maar wees gerus! Die koel bergbriesie of ’n duik in die swembad is meer as voldoende om jou aan die verstikkende hitte van Maleisië te laat ontsnap. Ook hier word jy aangeraai om omgewingsvriendelike muskietweerder saam te bring, aangesien muskiete alomteenwoordig is in hierdie deel van die wêreld.

Indien jy beplan om ’n reënwoud-wegbreek te bespreek by die Dusun, beveel ek ten sterkste aan om die Berembun House te boek – ’n huis in Maleisiese styl, op stelte en met stoepe aan twee kante, ’n klein braai-eenheid vir private gebruik en ’n uitsig oor die Berembun-reservaat wat jou asem sal wegslaan! Selfs al is die huise ingerig vir selfsorg, beveel ek aan om maaltye vooraf te bestel vanaf die klein restaurantjie in die oord: die kos is hoofsaaklik afkomstig uit hul eie groentetuin, word voorberei deur plaaslike mense en smaak voortreflik.

Vir meer inligting oor die Dusun en hoe jy verblyf kan bespreek vir hierdie fantastiese reënwoud-wegbreek, kan jy my volledige reisgids besoek by Rainforest bliss, The Dusun – Kuala Lumpur’s top weekend getaway destination.

As jy meer foto’s wil sien van my verblyf in Kuala Lumpur en meer wil weet oor al die fantastiese dinge wat jy hier kan sien, doen, eet en drink, besoek asseblief my blad op Pinterest by @LuzanneFletcher en volg my op Instagram by @luzanne_f. Kyk ook gerus na die afdeling verwante artikels hieronder vir skakels na die volledige gidse oor Kuala Lumpur se beste besienswaardighede en daguitstappies.

Lees ook: Kuala Lumpur: Van Petronas-tweelingtorings na Heli Lounge Bar

Meer oor die outeur

Luzanne Fletcher

Luzanne Fletcher is gebore in Johannesburg en het in Krugersdorp aan die Wes-Rand grootgeword. Ná sy haar studies aan die Noordwes Universiteit voltooi het, het sy vir ’n jaar as ’n fotograaf op P&O Cruises Australia se plesierbote (cruise ships) in Australië gaan werk. Dit was haar eerste ervaring van in die buiteland bly. Buiten Australië het sy ook die geleentheid gehad om onder meer Nieu-Seeland, Fidji, Tonga en Singapoer te besoek. Dit is ook op een van hierdie plesierbote waar sy ’n aantreklike Engelsman ontmoet het. Ná haar tyd op die skepe het sy na Suid-Afrika teruggekeer en in die mediabedryf begin werk. Ná ’n langafstandverhouding van twee jaar met haar Engelsman het hulle in Suid-Afrika afgehaak en is sy vanaf Desember 2017 voltyds in Scarborough – ’n klein dorpie aan die noordoostelike kus van Engeland – gevestig.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest