Leesvordering:

Tien wenke om die beste reisfoto’s met jou slimfoon te neem

Apr 11, 2019

Wetenskaplikes beweer dit is byna onmoontlik vir die menslike brein om werklik te “lewe in die oomblik”. Daarom is foto’s ’n fantastiese manier om nie net spesiale oomblikke te dokumenteer nie, maar ook vas te vang.

Die gevorderde tegnologie van slimfone maak deesdae van enigeen ’n amateurfotograaf (ek weet die professionele fotograwe rol nou hulle oë) en daarom is daar geen verskoning vir jou om nie jou spesiale reisoomblikke op jou slimfoon te verewig nie.

Ek is in die bevoorregte posisie om plaaslik en internasionaal te reis vir werk en omdat ek self nie ’n professionele kamera vir persoonlike gebruik het nie, maak ek altyd die beste van wat my slimfoon my bied.

Hier is tien kort wenke van een amateurfotograaf aan ’n ander:

Maak seker jy het genoeg spasie op jou slimfoon vir foto’s.

Hoewel meeste slimfone reeds groot stoorspasie het, moet jy jouself nie misgis met hoe vinnig dit opgebruik word nie. Verwyder onnodige foto’s voor jou reis afskop of koop ’n ekstra geheuekaart vir jou slimfoon.

Doen navorsing oor jou slimfoon se kamera en sy kenmerke.

Die meeste van ons mik en druk net, maar doen ʼn bietjie navorsing oor jou foon se kamera. Ek was aanvanklik nie bewus van die bykomende kenmerke op my foon nie, byvoorbeeld die “selektiewe fokus”-kenmerk nie. Eksperimenteer ook met die verskillende stellings en filters op jou foon.

Skemerkelkies afgeneem met “selektiewe-fokus” in Gordonsbaai

Doen navorsing oor interessante besienswaardighede by jou bestemming.

Bo en behalwe die stereotipiese foto’s wat jy vriendelik verplig is om te neem van jou bestemming (Parys se toring, Londen se klok of Kaapstad se berg) gaan soek vooraf watter interessante of onbekende winkels of besienswaardighede daar by jou bestemming is en maak ’n punt daarvan om hulle te besoek en af te neem. Onthou, jou foto’s vertel jou unieke reisverhaal, dit moenie lyk soos ’n gidsboek nie.

’n Tweedehandseboekwinkel in Kaapstad.

Laai ’n filter-toep af.

Die meeste sosialemedia-platforms het reeds ingeboude filters, maar party is oordadig of beïnvloed die foto se gehalte. ’n Filter moenie die foto oorheers nie, maar eerder die mooi eienskappe daarvan beklemtoon. My gunstelinge toepe op die oomblik is VSCO, Lightroom Mobile en Snapseed.

Hierdie foto’s is met VSCO “gedokter”.

Moenie in die selfie-strik trap nie.

Daar is seker ’n tyd en plek vir selfies, maar ek glo dit is omtrent nêrens en byna nooit as jy reis nie. Ja, ’n vinnige selfie om vir jou ma te Whatsapp is aanvaarbaar, maar sluk jou trots (as jy alleen reis) en vra eerder ’n vriendelike toeris om jou af te neem. As jy nie alleen reis nie, is daar geen verskonings vir honderde selfies nie. Dit is ook nie noodwendig nodig om te poseer nie, natuurlike en spontane foto’s is dikwels die mooistes.

Voor die Eiffel-toring en die Peter Pan-standbeeld in Perth, Australië, waar ek ander toeriste gevra het om my af te neem.

Speel met komposisies.

Daar is talle maniere waarop jy jou foto’s interessant kan maak. Let op na weerkaatsings of refleksies in geboue, kyk vir mooi natuurlike lig, kantel jou selfoon of neem iets af direk van bo af.

’n Kaapse strand en ʼn pragtige gebou in Auckland, Nieu-Seeland.

Neem interessante disse af.

Met die klem op interessant! ’n Tuna en mayonnaise geroosterdebroodjie is nie juis ’n foto werd nie… Fokus op interessante inheemse disse van jou bestemming, soos vis en skyfies op ʼn Nieu-Seelandse strand of ʼn Italiaanse gelato (roomys) terwyl jy die strate van Florence verken.

Vermy die flits indien moontlik.

Die meeste slimfone se flits-funksie is gestel om af te gaan as dit té donker is, maar soms is die flits nie eers nodig nie en kan dit die foto onnodig helder maak. Indien moontlik, probeer eerder om natuurlike lig of beligting te gebruik.

Soek vir Insta-inspirasie.

Indien jy (soos ek) graag Instagram of Pinterest gebruik, gaan volg gerus @doyoutravel, @gypsealust, @ariellesays of @alexstrohl. Hierdie reisigers se profiele gaan jou groen van jaloesie maak, maar jou beslis inspireer.

Laai jou foto’s af en druk jou foto’s uit!

Dit help nie jou foon is vol, maar jou mure is leeg nie. Sodra jy kan, laai jou foto’s af op jou rekenaar of stoor jou foto’s op jou foon se “wolk” en druk selfs ʼn paar uit vir jou aansteekbord by die werk of jou yskasdeur om jou solank opgewonde te maak vir jou volgende reis!

 

Lees ook: Drie dae alleen in Parys, die “moets” en “moenies”

Meer oor die outeur

Jhua-nine Wyrley-Birch

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest