Leesvordering:

Uit en tuis met Wêreldwyd: Anuschka Hesse

Jul 13, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Anuschka Hesse wat in Australië woon.

Van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het jy besluit om oorsee te gaan woon?

Ek is van die Vrystaat – Bloemfontein. My pa het in 2008 ’n goeie werksgeleentheid gekry en my ouers het toe besluit om as ’n gesin te emigreer. Ek was 16. Ongelukkig het alles op die ou end nie so uitgewerk nie. My ouers is in 2009 geskei en my ma het besluit om met my Downsindroom-boetie in Suid-Afrika te bly.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek en my man is al twee Suid-Afrikaners en het mekaar hier in Perth ontmoet. Ons het twee seuns; Nathan is 11 jaar oud en Levi is 8.

Om in ’n nuwe land aan te pas, kan uitdagend wees. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland?

Ek was ’n paar maande hier in die skool. Die feit dat grimering, lang naels en lang en los hare op skool toegelaat is, was vir my baie vreemd. Die ander vreemde ding was dat jy baie vinnig leer hoe om self petrol in jou kar te gooi. Hier is nie petroljoggies nie!

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Australië met dié in Suid-Afrika?

Dit is baie dieselfde as in Suid-Afrika – dis nou soos wat ek Suid-Afrika onthou. Op die oomblik is huurhuise hier in Perth nogal skaars en om te koop is baie duur.

Praat julle nog Afrikaans?

Ja, absoluut! Ek en my man praat net Afrikaans met mekaar by die huis. Afrikaner-harte! Ons oudste seun kan redelik goed Afrikaans verstaan en praat. Alhoewel die jongste een meer Engels is, is hy wel geïnteresseerd in Afrikaanse woorde en sêgoed. Ek werk saam met ’n paar Suid-Afrikaners en van ons vriende is ook Afrikaans, so ons almal praat nog lekker saam!

Hoe gereeld sien julle familie mekaar?

My pa en suster bly ook hier in Perth, so ons sien mekaar gereeld. My ma en broer is steeds in Suid-Afrika; ek het hulle agt jaar laas gesien. My man se broer is ook hier in Perth en ons sien hom gereeld. Hulle ouers en suster woon steeds in Suid-Afrika. Ons het sy ouers so drie jaar laas gesien toe hulle vir ons kom kuier het.

As jy in tyd kon teruggaan, wat sou jy nog in jou tas gepak het voordat jy Suid-Afrika verlaat het?

My beste vriende! Maar ongelukkig is dit nou nie iets wat ’n mens in jou tas kan pak nie.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Ja, baie! Hier is ’n paar Spur-restaurante; ons vier steeds verjaarsdae by die Spur! Hier is ook baie Suid-Afrikaanse winkeltjies wat tradisionele disse soos biltong en melktert en allerhande Suid-Afrikaanse gunstelinge soos Ouma-beskuit, speserye, lekkernye, skoonmaakmiddels en tierlantyntjies verkoop. Hier word gereeld sokkies gehou en Suid-Afrikaanse basaars, konserte en opvoerings deur bekende kunstenaars soos Bok van Blerk, Jo Black, Appel, Elandré en Danny Smoke.

Hoe vergelyk die lewenskoste met dié in Suid-Afrika?

Ek was agt jaar laas in Suid-Afrika, maar as ek hoor wat my ma en skoonouers sê en ook vriende van ons wat gereeld Suid-Afrika toe gaan, klink dit vir my maar dieselfde. Alles is duur.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Dit maak nie saak waar jy bly nie, daar is en sal altyd voordele en nadele wees vir elke persoon, gesin en hulle omstandighede. Ek is geseënd om hier in Perth te kan bly, maar dit beteken nie ons het nie elke dag probleme en uitdagings nie. Ek bly al veertien jaar hier, en steeds soek my siel nou en dan na moeder Afrika!

Dankie dat julle my gevra het om my ervarings met julle te deel!

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit België

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest