Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Apr 23, 2024

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses jaar in Nederland woon.

Hallo, Natasha! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Nederland te gaan woon?

Ons is oorspronklik van Johannesburg. Ons het baie vroeg in ons huwelik ’n passie vir reis ontwikkel en toe die geleentheid oor ons pad kom om in Europa te werk, het ons besluit dat Nederland die ideale plek is om dié passie uit te leef omdat dit so sentraal is vir reis.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ons gesin bestaan uit my, Natasha, my man Robert en ons driejarige dogtertjie Amber. Ons het ’n groot passie vir reis en glo daarin om ons dogter wêreldwys groot te maak. Ons deel ook graag ons reise en ons advies op ons blog by www.viljoen-adventures.com of op Instagram: viljoenadventuresblog. Ons het spesiaal met ’n blog begin om ons stories te deel.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak en wat was die grootste aanpassing in die buiteland?

Vir ons was die grootste aanpassing om ons nuwe normaal te vind. Dinge soos waar om klere te koop of hardewarewinkels te kry, want jy word groot met sekere handelsmerke en nou is alles ewe skielik anders. Dit vat ’n rukkie om winkels te kry waarvan jy hou en om te weet waar jy wat kan koop. ’n Ander aanpassing was die kultuurverskil. Nie noodwendig die taal nie, maar die kultuur. Soms wonder ek of ’n mens ooit daaraan gewoond sal raak, maar dan herinner ons ons dat ons Suid-Afrikaanse kultuur net so spesiaal is en ook sy plekkie het.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Nederland verskil van dié in Suid-Afrika.

Ons is beide in finansies. Ek is ’n finansiële kontroleur en Robert is ’n risiko-analis, maar werk nou as ’n projekbestuurder in een van die groot banke. Die grootste verskil is die Hollanders se direkte manier van praat. Waar ons in Suid-Afrika altyd in omgewings gewerk het waar mense vriendelik is en jou graag help en dinge op ’n mooi manier sê, sê hulle hier ’n ding soos dit is en dink nie aan hoe dit gesê word of hoe dit jou gaan laat voel nie. Dit vat ’n rukkie om daaraan gewoond te raak en dan besef ’n mens dit is nie so erg nie.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika en wat is jou gunstelingherinnering aan Suid-Afrika?

Ons mense. Ons familie en vriende. En dan natuurlik die sonskyn. Ons gunstelingherinnering aan Suid-Afrika is om te gaan kamp en langs ’n vuur te sit of na ’n sonsondergang te kyk.

Watter interessanthede het jy oor Nederland ontdek wat jy nie vantevore geweet het nie?

Dit het ons verbaas hoe innoverend hulle landbou is en hoe baie op klein stukkies grond verrig kan word. Nederlanders volg ook graag die reëls, en dit was opvallend maar ook lekker.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? En watter tradisies laat jy en jou gesin in die buiteland voortleef?

Ja, natuurlik praat ons Afrikaans en ons probeer seker maak dat ons dogtertjie ook Afrikaans praat al is sy in ’n Hollandse skool. Ons dra nog graag ons Suid-Afrikaanse truie tydens groot rugby of op braaidag en ons probeer altyd klem lê op Geloftedag. Ek dink die grootste tradisie is om te braai en dit doen ons nog so gereeld as moontlik.

Daar is heelwat Suid-Afrikaners in Nederland. Kom julle soms bymekaar en het julle maklik by die gemeenskap ingeskakel?

Die meeste van ons vriende is Suid-Afrikaners. Ons kinders is ook maatjies en dit is waar ons gemaklik voel. Die Hollanders is baie vriendelike mense, maar dis moeilik om in hulle kringe in te kom. Dit is maar ons ervaring.

Hoe vergelyk die lewenskoste en verblyfopsies met dié in Suid-Afrika?

Dit is ’n vraag wat ons gereeld kry en dis moeilik om te antwoord, want ’n mens se salaris is ook anders as wat dit in Suid-Afrika was. In die begin dink jy alles is ongelooflik duur, want dit is natuurlik om dit terug te werk na rande toe, maar in werklikheid is dit maar hoe ’n mens in Suid-Afrika ook gevoel het. Dit is duurder, maar dit hang ook af hoe jy jou geld spandeer en wat vir jou belangrik is.

Ons het oor die jare agtergekom as ons Suid-Afrika toe gaan, het die lewenskostes daar net so duur geword. Verblyf is geweldig duur, dit is ’n feit, en dit is ook omdat verblyf skaars is. Verblyf is definitief anders as in Suid-Afrika en daar is baie dae wat ’n mens die spasie mis, maar jy kom ook agter dat dit vir die Hollanders belangrik is om ’n lekker leefarea te hê, want jy spandeer baie tyd binne en dan wil jy gemaklik wees.

Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Die wonderlike ding van mense is dat hulle aanpasbaar is. As ek hierdie vraag in die eerste jaar moes antwoord, sou ek dalk ’n hele lysie gehad het wat ek sou wou inpak, maar vandag, byna ses jaar later, is daar nie iets waaraan ek aan kan dink wat my lewe hier makliker sou maak nie. Ek sou graag my familie wou saambring, maar dit is ’n ander wens.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Hier is twee groot Suid-Afrikaanse winkels wat ons graag ondersteun, Kuierkos en Die Spens. Maar jy leer ook om sonder Suid-Afrikaanse produkte te leef. As ons iets gaan koop, is dit vir ’n bederf of omdat dit lekker is.

Hoe bou of behou jou dogter ’n verhouding met haar grootouers en hoe gereeld sien julle as familie mekaar?

Tot dusver was ons nog baie bevoorreg dat ons ten minste een keer per jaar Suid-Afrika toe kon gaan en dat ons ouers een keer ’n jaar hierheen kon kom vir vakansie, so dit help geweldig baie. Ons maak ook gereeld video-oproepe.

Enige lesse wat julle geleer het?

Die Here sal jou op die plek sit waar Hy jou wil hê. Nederland was nie ons eerste opsie nie, maar ons het geleer dat dit is waar die Here ons wou hê. En as dit sy wil is, gebeur dinge baie vinnig en maklik.


Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Malta

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest