Leesvordering:

Vermy ’n nagmerrie – doen navorsing voor jy reis

Jan 7, 2019

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) word meer as 800 Suid-Afrikaners in die buiteland aangehou weens die oortreding van plaaslike wette.

Die regering se hande is in baie opsigte vas wanneer dit kom by hulpverlening aan Suid-Afrikaners  in die buiteland wat wette oortree het. Net so kan plaaslike organisasies soos AfriForum Wêreldwyd ook nie reisigers bystaan in aangeleenthede waar Suid-Afrikaners in aanhouding is nie. Die enigste manier om te verhoed dat jou reis in ’n nagmerrie ontaard, is om voldoende navorsing te doen voor jy op die vliegtuig klim.

Hier is ses van die beste wenke wat jou uit die moeilikheid sal hou:

1.Hou internasionale gevare dop

Voor jy op reis gaan, maak seker dat jy van enige onmiddellike gevare weet in die land waarheen jy op pad is. Dirco se webtuiste is handig om inligting te bekom oor byvoorbeeld die plaag wat verlede jaar in Madagaskar uitgebreek het, die geelsuggevalle in Brasilië of die Zika-virus wat in 2016 in groot dele van Afrika, Suid-Amerika en Asië uitgebreek het. Besoek gerus http://www.dirco.gov.za/consular/current_issues.html.

2. Belê in kommunikasie

Dit is baie belangrik om te kan kommunikeer terwyl jy in die buiteland is. Belê in ’n draagbare laaier vir jou selfoon en verseker dat jy internasionale minute of genoegsame data op jou slimfoon beskikbaar het. In noodgevalle sal jy dalk die plaaslike polisie, ambulans of jou ambassade moet bel. Maak seker jy en jou kinders het toegang tot al die nodige noodnommers.

3. Gaan jou versekeringsdokumente na

As jy reisversekering uitneem, is dit jóú plig om na te gaan watter noodgevalle gedek word. Maak jouself bekend met die proses indien jy ’n eis moet instel of van mediese dienste moet gebruik maak.

4. Verstaan die verkeersreëls

Openbare vervoer en motorongelukke is die grootste oorsaak van Suid-Afrikaanse sterftes en beserings in ander lande. Die webtuiste www.asirt.org lig mense in oor die gehalte van paaie en openbare vervoer in verskillende lande. Die webtuiste gee ook deeglike verslae oor padtoestande, ongelukke in sekere omgewings en veranderings in verkeersregulasies. Lig jouself in van die padreëls – nie net om jou eie lewe te beskerm nie, maar ook onnodige onderonsies met die plaaslike polisie te vermy.

5. Pas aan by kultuurpraktyke

Waarheen jy ook al gaan, is dit jou verantwoordelikheid om die plaaslike kultuurpraktyke te respekteer. Behalwe vir algemene gebare en simbole verstaan, is kleredrag steeds internasionaal ’n groot twispunt. Lande wat baie streng is oor kleredrag sluit in:

  • Noord-Korea
  • Saoedi-Arabië
  • Soedan
  • Iran
  • Turkye
  • Doebai (Verenigde Arabiese Emirate)
  • Libanon
  • Palestina
  • Katar
  • Jordanië
  • Jemen
  • Koeweit
  • Oman
  • Afghanistan
  • Bahrein
  • Sirië

Dit is ook goeie praktyk om te weet hoe om iemand in hul eie taal te groet of dankie te sê. Wanneer jy na ’n land reis waar die kultuur beduidend van jou verskil, moet jy jou huiswerk doen om nie daardie inwoners onnodig aanstoot te gee nie.

Ander kultuurpraktyke kan ook jou reis bloot net makliker maak. As jy weet dat die land waarheen jy reis van siësta hou, beplan jou dag daarom. Maak ’n punt daarvan om die geskiedenis van ’n plek te ontdek; dit gee mens dikwels ’n dieper insig in daardie kultuur. As jy by plaaslike inwoners woon, verstaan hul sienswyses jeens water- en elektrisiteitbesparing of herwinning. As jou politieke oortuigings lynreg verskil van dié van die meeste plaaslike inwoners, wees sensitief genoeg om nie aanstoot te gee wanneer jy dit nie bedoel nie. Kulture se geloofs- en politieke praktyke is dikwels saamgeflans in dieselfde waardes en oortuigings – leer soveel jy kan voor jy daarheen reis.

Wees versigtig vir slange in die gras

Of jy na China op pad is vir vakansiewerk of bloot toere in Rome wil bespreek, wees maar bedag op mense wat jou ’n rat voor die oë wil draai. As jy die geleentheid kry om vakansiewerk oorsee te doen, maak seker dat jy sélf ook met die land se indiensnemingsregulasies en visumvereistes bekend is. Gaan die naam en adres van die maatskappy deeglik na om slenters uit te skakel en probeer met meer as een kontakpersoon praat. Die kanse op ’n lokval is groot as:

  • jy ’n werksaanbod kry sonder dat jy ’n onderhoud gehad het;
  • daar van jou verwag word om voorafbetalings te maak voordat jy meer inligting mag kry;
  • die posbeskrywings baie abstrak is;
  • die proses té maklik is en die pos of salaris té goed is om waar te wees; en
  • jy geen werkvisum voor jou vertrek ontvang het nie.

Daar is ook natuurlik die taxibestuurder wat jou met ’n ompad na jou bestemming neem, die goeie Samaritaan wat jou bagasie wil dra en eintlik ’n stewige footjie vereis of toeragente wat die prys van hulle uitstappies laai net omdat jy ’n toeris is. Hou maar jou oë oop en maak gebruik verwysingsdienstes soos TripAdvisor om jouself touwys te maak.

Wêreldwyd wil mense bemagtig om sorgeloos oor die wêreld heen te kuier. En die belangrikste bestanddeel om jou reis te geniet, is om voorbereid te wees!

 

Lees ook: Wenke om met kinders oorsee te reis

Foto: daniel-gonzalez-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Kollig-nuusbrief: 19 April 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Wat mis Suid-Afrikaners in die buiteland die meeste?

Soos jy nooit die reuk van ’n stofpad ná die reën sal vergeet nie, so het elke Suid-Afrikaner ervaringe gehad wat ’n mens nie anders kan as om te mis nie. Sê wat jy wil, Suid-Afrika is uniek. Daar is nie veel plekke in die wêreld waar jy oor soveel mooi vlaktes kan...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest