Leesvordering:

’n Spraakterapeut praat oor tweetaligheid – Deel 1

Jul 27, 2022

Deur Sumari Erasmus, PhD Spraak-taalterapie (Universiteit van Pretoria) 

My kind en ’n tweede taal

In baie lande is dit nie ongewoon dat kinders twee of meer tale leer praat en dit daagliks gebruik om met mense rondom hulle te kommunikeer nie. Ekspat-ouers wat tuis ’n ander taal praat as die oorheersende taal in hul nuwe land, staan dalk voor ’n dilemma: Moet ons ons kinders slegs die oorheersende taal leer, of moet ons probeer om hulle tweetalig groot te maak?

Alhoewel dit uiteraard belangrik is om die taal van die land waarin ’n mens woon te leer, is dit vir baie mense ook belangrik dat hul kinders die taal van hul ouers, grootouers en ouer broers en susters leer. Ons kan na hierdie tale verwys as minderheidstale, of gemeenskapstale. Navorsing toon dat daar baie voordele daaraan verbonde is om jou kinders tweetalig groot te maak.

Voordele van tweetaligheid

  • Breinfunksionering

Meertaligheid hou onder andere neurologiese voordele in vir die breinontwikkeling van kinders. Vanuit ’n neurologiese oogpunt ontwikkel hulle ’n groter breinnetwerk, wat aan hulle ’n intellektuele hupstoot gee. Tweetalige kinders het die voordeel dat hul breinkapasiteit vergroot, aangesien meer dele van die taalarea geaktiveer word as in ’n eentalige brein. Onlangse studies toon dat tweetalige kinders ’n ander nuwe taal ook makliker aanleer as eentalige kinders.

  • Algehele kognitiewe funksionering

Navorsing toon dat tweetalige kinders se divergente denke (wat dui op ’n kind se vermoë om op ’n kreatiewe, verbeeldingryke, ope en vrydenkende wyse te werk te gaan) beter ontwikkel is as dié van eentalige kinders. Tweetalige kinders se kognitiewe styl verskil ook van dié van eentalige kinders. Hul denkwyse, veral met betrekking tot sortering van inligting, geheue, transformasies, konsepvorming en gebruik van inligting, toon hoër spesialisering as eentalige kinders s’n.

Onlangse studies het ook bewys dat tweetalige kinders oor beter uitvoerende beheer beskik as eentalige kinders. Uitvoerende beheer verwys na neurologiese funksies, gesetel in die prefrontale korteks, wat betrokke is by doelgerigte hoër-orde-redenering en -beplanning.

  • Metalinguistiese bewustheid

Metalinguistiese vaardighede is denkvaardighede wat ’n kind in staat stel om oor strukturele kenmerke van gesproke taal te kan nadink en dit te manipuleer. Tweetalige kinders word ook metalinguisties bevoordeel deurdat hulle oor meer kennis van die twee tale beskik en daarom beter begrip toon vir taalstruktuur. Hulle beskik ook oor die vermoë om klanke en betekenis op ‘n vroeë ouderdom van mekaar te onderskei.

  • Werkende geheue

Kinders wat tweetalig is, se werkende geheue is beter ontwikkel as dié in kinders wat net een taal magtig is. Werkende geheue verwys na die vermoë om inligting in die brein te stoor, asook om die inligting te gebruik in die uitvoer van verskeie kognitiewe opdragte.

Voorbeelde van wanneer kinders gebruik maak van werkende geheue, sluit onder andere in: (a) die vermoë om komplekse opdragte met veelvuldige stappe uit te voer; (b) die vermoë om getalle bymekaar te tel in sy/haar kop sonder om dit neer te skryf; (c) die vermoë om na die volgorde van gebeure in ’n storie te luister en die storie dan terug te vertel; asook (d) die vermoë om te konsentreer. Belangrike en deurlopende bevindinge is ook dat ’n goeie werkende geheue nodig is vir leesbegrip en wiskunde.

  • Sosio-emosionele ontwikkeling

Kinders wat meertalig is en ook dieselfde taal kan praat as hul ouers en grootouers behou ’n sterk band met hulle familie, kultuur en gemeenskap. Navorsing toon ook dat kinders wat tweetalig is, makliker vriende maak omdat hulle twee tale kan praat en dus ook vriende kan maak in hulle tweede taal. Dit is ’n belangrike vaardigheid om te hê in ons diverse samelewing.

Hierdie is die eerste in ’n reeks van drie artikels deur Sumari Erasmus. Sy is ’n spraakterapeut, maar ook ’n Afrikaanse mamma in die buiteland. Sumari en haar gesin woon in Kanada. Sy het haar doktorsgraad in Spraak-taalterapie aan die Universiteit van Pretoria voltooi en het ’n passie vir die behoud van Afrikaans.

Ons sien uit na Deel 2: Tien wenke om tweetaligheid in jou kind te bevorder en Deel 3: Vyf mites oor tweetaligheid!

Hierdie artikel was oorspronklik geplaas deur Boekwurm.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest