Leesvordering:

Lumiere London – Edelweiss Arnold

Jan 28, 2016

Op ‘n koue Vrydagaand in Januarie staan ek met kinderlike blydskap op my gesig saam met honderde toeriste en Londenaars, gewoonlik knorrig, in die middel van Piccadilly en staar na vlieënde, visvormige kreature. Ek is omring deur mense met dieselfde uitdrukking. Dis koud en dit krioel van die mense, maar die visse se hipnotiserende bewegings en die vrolike musiek hou my vasgenael; vir ‘n paar oomblikke laat dit my van alle ongerief vergeet.

Die helderkleurige visse genaamd Les Luminéoles was oorspronklik ‘n opdragwerk vir die Festival of Lights in Lyon. Nou is hulle te sien by die Lumiere London, ‘n vier aande lange fees van liginstallasies regoor Londen. Die geleentheid word aangebied deur die liefdadigheidsorganisasie Artichoke, wat al sedert 2009 ‘n tweejaarlikse ligfees in Durham aanbied. Die installasies is versprei oor King’s Cross, Mayfair, Piccadilly, Regentstraat, St James’s, Trafalgar-plein en Westminster.

Op Donderdag, 14 Januarie is ek by King’s Cross en gaan kyk na die installasies in daardie omgewing. Ek staan ‘n hele ruk en kyk na die Circus of Light wat op die kant van die Granary Building geprojekteer is. Dis groot pret met helder elemente wat aan die Monty Python-animasie herinner. Ek wil langer bly, maar die winter het met alle mag toegeslaan en ek bibber. Die ander installasies, soos die binaryWaves, Light Graffiti en die Identified Flying Object is gelukkig op pad.

Vrydagaand begin ek naby my werk in Victoriastraat en besoek Westminster Abbey waar Patrice Warrener se Light of the Spirit die Wesfront transformeer deur die beeldjies van die twintigste-eeuse martelare in helder kleure te verlig. Dit is een van my gunstelinginstallasies by die skou. Dis absoluut pragtig en verlig dele van die fasade wat ‘n mens maklik as gevolg van die grootsheid van die pragtige gebou kan miskyk.

Van daar af loop ek tot by Trafalgar-plein waar Centre Point en Plastic Islands ‘n skerp lig laat val op die kwessie van plastiekbesoedeling, veral die plastiekverstopping van die Noord-Stille Oseaan. En dan verder tot by Leicester-plein wat in ‘n skouspelagtige ligtuin omskep is, kompleet met blomme en gloeiende riete. Dis regtig pragtig.

Van daar af dobber ek saam met die stroom voetgangers deur Piccadilly Circus na die pragtige viskreature by Piccadilly, die swewende mense op St. James-plein, die klein mannetjies wat mekaar op en af teen Liberty House jaag en die vreemde, interaktiewe toubeeld in die middel van Oxford Circus.

Om die waarheid te sê, is dit ‘n aardigheid net om in die middel van Regentstraat te kan loop, want hierdie deel van die stad is gewoonlik oorvol voertuie. Die hele aand is gevul met verrassende genot en so baie glimlagte. Die koue maak nie eens saak nie.

Ek wou Saterdagaand die Mayfair-gebied besoek, maar die skare het handuit geruk en twiets het gemaan dat ‘n mens liewer moes wegbly van die oorvol moltreinstasies waar dit moeilik was om die skares te beheer. Ek het dus besluit om liewer my herinneringe mooi te hou en nie te gaan kyk na die installasies wat ek nog nie gesien het nie.

Ek hoop die vertoning sal weer volgende jaar gehou word. Ek hoop groot skares sal in gedagte gehou word by die keuse van die areas en ek hoop Londen sal nog ‘n kans kry om te glimlag en vir ‘n verandering net ʼn koue, donker winteraand te geniet.

 

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest