Leesvordering:

Finding Cloud Cuckoo Land – ‘n reisblog deur ʼn getroude paartjie wat deur Suidoos-Asië reis

Apr 21, 2016

Agtergrond

Conrad & Mareli is twee pasgetroudes van sonnige Suid-Afrika. Hulle het onlangs besluit om alles op te pak en deur Suidoos-Asië te gaan toer, beginnende in Viëtnam. Volg hulle storie op hulle webblad (http://www.findingcloudcuckooland.co.za/) en kyk na hulle foto’s of sê net hallo. Hulle is fotograwe, ontwerpers, organiseerders en is altyd op soek na nuwe geleenthede en avonture. Moenie huiwer om hulle te kontak nie!

Goeiemore, Viëtnam!

Veni, vidi, Amavi! Vrylik vertaal: “Ons het gekom, ons het gesien, ons is mal daaroor!” Ons avontuur het net 72 uur gelede begin, maar ons asem Ho Chi Minh-stad in en geniet elke oomblik.

Toe ons op Tân Sơn Nhất Internasionale Lughawe aankom, tasse in die hand en moeg ná ‘n lang vlug, gaan ons reguit na die visumtoonbank. Ons het die vorige dag (op die laaste nippertjie) aansoek gedoen vir visums en was nogal skepties oor die proses. Ons gee ons vorms vir die klein, vriendelike staatsamptenaartjie agter die toonbank en word gevra om vyf minute te wag. Die 5 minute word later 45 minute – terwyl toergidse met hande vol paspoorte verbykom. Uiteindelik is ons visums goedgekeur en ons paspoorte gestempel – en ons is gereed om die stad in te vaar.

Ná dae se gewonder, maande se gepraat en jarelange drome is ons hier. Dit is nou ons werklikheid: moderne nomade met geen idee wat ons toekoms inhou nie. Ho Chi Minh, voorheen bekend as Saigon, is ‘n stad wat nooit slaap nie, vol vriendelike mense en bromponies oral. In Phạm Ngũ Lão Straat, net om die draai van waar ons bly, is kroeë, restaurante, masseersalonne, winkels, reisburo’s, ens. Natuurlik is ons eerste soontoe vir ‘n welverdiende bier. Ons gaan sit in ʼn klein kroegie genaamd Happy Life – toevallig reg langs twee van ons landgenote. Hulle gee ons ‘n bietjie raad oor waar om te eet, waar om inkopies te doen en waarheen om te gaan. Dis altyd lekker om vriendelike mense teë te kom as jy op reis is en dis nóg lekkerder as hulle uit jou vaderland kom. Ons het die res van die aand in hierdie bekende straat rondgeloop en plaaslike biere geniet – Green Saigon, Tiger en Biere Larue, om maar net ‘n paar te noem – almal heerlik en baie bekostigbaar. Oral sit mense op klein plastiekstoeltjies wat na die straat toe kyk en geniet die geselskap van medereisigers en boorlinge tot in die vroeë oggendure.

Die volgende dag is ons na ‘n restaurant in Bùi Viện Straat 145 wat ons landgenote die vorige aand aanbeveel het, ‘n plekkie genaamd Bún chả, waar ons heerlike Viëtnamese kos geëet het: Bún chả en bò nướng lá lốt. Bún chả bestaan uit varkvleisfrikkadelle, rysnoedels en ‘n hand vol kruie en bò nướng lá lốt is beesvleis in peperblare toegedraai, ook op rysnoedels. Albei geregte was ewe lekker en baie vullend. Met ons magies vol begin ons stap, na my mening die beste manier om ‘n stad te verken – ‘n lessie wat ek in Indië geleer het by twee ywerige reisigers op pad na ‘n fort 10 km ver. Ons kry koers na Bến Thành Mark, ‘n plek waar jy enigiets – van die nuutste Nike’s tot ‘n nuwe North Face-rugsak – teen halfprys kan kry. (Wenk: Net buite die mark in die omliggende strate kan jy dieselfde produkte teen ‘n nóg beter prys kry.) En kibbel, kibbel, kibbel. Vir Westerlinge is dit dalk vreemd, maar pryse skiet die hoogte in as jy by ‘n winkel instap en nie soos ‘n local lyk nie. Moenie bang wees om pryse te laag af te stry nie; die inwoners sal nie hul produkte aan jou verkoop vir minder as wat hulle kan bekostig nie. Ons het twee Samsonite-sakke teen ‘n baie lae prys gekry en verder gestap deur Ho Chi Minh.

Ons het toevallig op ‘n paar interessante plekke afgekom, naamlik die Notre Dame Katedraal, die Mekongrivier, ‘n Hard Rock Cafe en ‘n straat wat aan boeke gewy is. Ons reis het by die Sunflower Spa geëindig met ‘n baie bekostigbare voetmassering wat ons sterk aanbeveel.

Ho Chi Minh het baie om te bied en ons het nog maar baie min gesien. Elke dag is meer belowend as die vorige; ons is gretige studente op reis en kan nie wag om te sien wat die toekoms inhou nie.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest