Leesvordering:

Plaasmoorde in kollig by Amerikaanse konferensie

Okt 5, 2017

deur Jhua-nine Wyrley-Birch

As burgerregte-organisasie voer AfriForum die stryd teen plaasmoorde en -aanvalle op verskeie vlakke.

Benewens die druk wat op die regering geplaas is om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar, neem die burgerregte-waghond ook leiding deur plaasmoorde internasionaal in die kollig te plaas deur verslae en voorleggings by verskeie internasionale konferensies aan te bied.

Lorraine Claasen, ʼn misdaadanalis en navorser van AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI) het onlangs ʼn referaat in die VSA gelewer by die jaarlikse opleidingskonferensie van die Internasionale Vereniging van Misdaadanaliste (IACA).

IACA is ʼn professionele vereniging wat in 1990 gestig is met die doel om opleiding, inligting, netwerk-geleenthede en professionele ontwikkelingshulpbronne aan individue beskikbaar te stel wat in die misdaadanalise-professie is.

Claasen se voorlegging het gehandel oor die voorkoms van plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika. Sy het in haar voorlegging ’n oorsig van die krisis gegee en op die uitdagings gewys waarmee die SAPD en ander rolspelers te kampe het om doeltreffende misdaadanalise te doen ten einde die voorkoms van dié misdaad pro-aktief aan te pak. Sy het ook na die regering se hantering van plaasmoorde verwys wat hul nog nooit oor die erns van dié misdade uitgespreek het nie.

Volgens Claasen het sy positiewe terugvoer oor haar voorlegging gekry omdat baie mense nie werklik weet wat in Suid-Afrika aangaan nie. Sy het in haar voorlegging na die Potgieter-gesin verwys, wat in 2010 wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is.

Attie Potgieter (40) is 151 keer met ’n tuinvurk, kapmesse en ander gereedskap gesteek. Sy vrou, Wilna (36), en dogter Willemien (2) moes toekyk.

Daarna is Willemien met ’n skerp voorwerp op die kop gekap, in die kop geskiet en in die buitekamer in ’n boks gegooi. Nadat Wilna moes toekyk hoe haar man en kind vermoor word, is sy ook oor die kop gekap en na die plaashuis geneem waar sy in die nek geskiet is.

“Amerikaners is baie oningelig oor Suid-Afrikaanse misdade en weet niks van plaasmoorde af nie. Die meeste was veral geskok oor die ekstreme vlakke van brutaliteit en marteling wat met plaasaanvalle gepaard gaan,” sê Claasen.

Claasen het ook by ander internasionale misdaadanaliste soos Dermot Shea, hoof van misdaadbeheerstrategie van die New Yorkse Polisiediens, kers opgesteek oor ander moontlike vorme van misdaadanalise wat in Suid-Afrika oorweeg kan word om ’n einde aan dié tipe geweld te bring.

“Inligting is ʼn baie belangrike element van misdaadbekamping. Ons hoef nie die wiel te herontwerp as dit by misdaadanalise kom nie. Daar is strukture en mense wat gewillig is om ons te help, maar die regering en polisie moet almal inkoop by die idee as ons plaasmoorde werklik wil hokslaan.”

Claasen is ook na afloop van haar voorlegging genooi om volgende jaar by ʼn kollege in Kalifornië te gaan praat oor plaasmoorde en misdaadanalise.

Hierdie artikel het oorspronlik verskyn op Forum Nuus se webtuiste.

 

Meer oor die outeur

Jhua-nine Wyrley-Birch

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest