Leesvordering:

Die Solidariteit Beweging kondig planne aan om Covid-19 te bestry  

Mar 18, 2020

Die Solidariteit Beweging het vandag omvattende planne bekend gemaak om Covid-19 te bestry. Die Beweging het ook ʼn aanbod aan die regering gemaak om saam te werk om die verspreiding van die virus te keer en die impak van die drastiese maatreëls te versag.

Die planne behels onder meer ʼn korona-krisissentrum, samewerking met die regering se rampbestuursentrum, veiligheidstrategieë, maatskaplike ondersteuning aan gemeenskappe, hulp met opsporing, ondersteuning aan skole, ouers en leerlinge, hulp en inligting aan mense in werkplekke, en ondersteuning aan kunstenaars.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, kan Covid-19 ʼn nuwe wêreld inlui. Hierdie virus kan ʼn nuwe verwysingspunt in die wêreldgeskiedenis word. Dit kan ongelooflike ekonomiese en staatkundige gevolge hê. Die Solidariteit Beweging gaan in krisisbestuursrat,” het Buys gesê.

Die Solidariteit Beweging het ook bekend gemaak dat ʼn krisiskomitee op ʼn daaglikse basis sal vergader om aksieplanne volgens die nuutste inligting te implementeer.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die burgerlike samelewing deurslaggewend in die bekamping van die virus. Solidariteit het ook ʼn korona-krisissentrum in die lewe geroep wat veral mense in werkplekke gaan ondersteun.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die belangrikheid van samewerking beklemtoon. “Politieke en ideologiese verskille moet nou vir eers agtergelaat word. Suid-Afrika het nou een gemeenskaplike vyand en dit is Covid-19,” het hy gesê. Volgens Kriel is die regering se rampbestuursentrum reeds gekontak met ʼn aanbod om te help en saam te werk.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling het ook ʼn spesiale beheerkamer bekend gestel wat onder meer veiligheidsverwante uitdagings sal koördineer en sal help met opsporingspogings.

Die Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende hoof, Hannes Noëth, het sy kommer oor die maatskaplike gevolge van die drastiese stappe uitgespreek. Een voorbeeld is die 8 000 kleuters wat Solidariteit Helpende Hand elke dag kosgee wat skielik nie meer toegang tot maaltye het nie. Hy het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om te help om die dreigende maatskaplike krisis te help hanteer.

Die Skoleondersteuningsentrum het ook bekend gemaak dat die Wolkskool duisende video’s, vraestelle en werkkaarte tot einde Junie gratis beskikbaar sal stel om leerlinge te ondersteun om self by die huis te kan werk.

Daar is ook aangekondig dat spesiale stappe beoog word om kunstenaars te ondersteun.

Akademia het ook aangekondig dat hy steeds voortgegaan word met klasse op sy aanlyn platform.

Die Solidariteit Beweging se Covid-19-krisisplan in ʼn neutedop, is soos volg:

  1. Samewerking met die regering
    Daar is reeds uitgereik na die regering se nasionale gesamentlike rampbestuursentrum. Samewerking op provinsiale en plaaslike vlak word beplan.
  2. Solidariteit se korona-krisissentrum om werknemers te steun
    Werknemers kan hier alle werkverwante vrae en antwoorde, inligting oor die virus en algemene inligting kry. ʼn Spesiale krisislyn gaan ingestel word.
  3. AfriForum se sentrale veiligheidbeheersentrum
    Veiligheidskwessies gaan gekoördineer word. Moontlike onrus sal hanteer word. Algemene strategiese inligting sal ontvang en verwerk word.
  4. Hulp met opsporing
    AfriForum Veiligheid het reeds aangebied om die nasionale rampbestuursentrum te help met opsporing.
  5. Ekonomiese aktiwiteit
    Volledige planne om die ekonomie steeds te laat funksioneer gaan aan die regering voorgelê word. Solidariteit gaan met werkgewers in gesprek tree oor die balans wat tussen besigheid en veiligheid gehandhaaf moet word.
  6. Maatskaplike hulp
    Solidariteit Helpende Hand gaan 15 maatskaplike werkers landswyd gebruik om gemeenskappe in staat te stel om die maatskaplike uitdagings te bowe te kom weens die ingrepe om die virus te keer, en om siekte as gevolg van die virus te oorkom.
  7. Hulp aan skoliere en ouers
    Die Skoleondersteuningsentrum gaan tot 30 Junie duisende video’s, werkkaarte, vraestelle en ander hulpmiddels gratis op sy Wolkskool beskikbaar stel om skoliere in staat te stel om van die huis af te studeer.
  8. Inligting oor virus deur e-leer en webinare
    Solidariteit gaan deur sy S-leer-platform ’n reeks e-leerkursusse aanbied om kinders en volwassenes oor Covid-19 in te lig. Daar gaan ook weekliks webinare aangebied word.
  9. Ondersteuning aan die kunste
    Die FAK, Maroela Media, die Solidariteit Beroepsgilde vir die Kunste en Dapper Media gaan planne uitrol om kunstenaars te beskerm. Op kort termyn gaan gepoog word om te help om onmiddellike finansiële nood te verlig, maar op medium en lang termyn gaan gekyk word na elektroniese platforms en alternatiewe vorme van konserte.
  10. Nasionale krisiskomitee en interne aksie
    Die Solidariteit Beweging het ʼn nasionale krisiskomitee gevestig wat daagliks vergader en aksieplanne volgens die nuutste inligting sal aanpas. Die Beweging het ook alle internasionale reise gestop en binnelandse reise word tot die minimum beperk. Ingrypende maatreëls is in plek om te keer dat personeel die virus opdoen.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest