Leesvordering:

Die lekker gevoel om Afrikaans in ’n vreemde land te hoor

Nov 15, 2021

Die gevoel wat jy kry as jy Afrikaans hoor in ’n vreemde land, is iets wat mens nie maklik kan beskryf nie. Jy spits vinnig jou ore net om seker te maak of jy reg hoor, dan begin jou hart vinniger klop soos wat jy die rol van die “r” en die growwe “g”-klank herken. En dan stap jy vinnig en sonder enige huiwering nader om jou mede-Afrikaansprekende te groet soos net Afrikaanse mense kan.

Ons het onlangs ons Wêreldwyd-vriende op Facebook gevra of hulle al Afrikaans in die buiteland gehoor het. Ons het behoorlik uit ons mae uit gelag vir die stories wat julle met ons gedeel het. Ons deel graag van die stories hier.

  • Reël nr. 1 in Australië: moenie iemand kliphard in Afrikaans bespreek nie, want daar is áltyd iemand wat gaan verstaan. ’n Afrikaanse vriendin het by een van haar vriendinne gaan kuier in die noorde van Queensland en saam gaan uiteet. Sy besluit toe om vir haar vriendin te vertel (in haar normale stemvolume) hoe mooi die vrou by die tafel langsaan is, en wonder hoe ’n lelike man só mooi vrou kan kry. Toe die mense opstaan van die tafel af, waai hul klein seuntjie vir die twee dames, toe die pa naderstap en sê: “Kom nou, moenie die tannies pla nie!”
  • Ek staan een Saterdagoggend in ’n stokperdjiewinkel, Michaels, hier in Saskatoon, SK in Kanada. Ons bekyk en bevoel die wol. Ons praat te lekker in Afrikaans, want, jy weet niemand kan jou mos verstaan nie. Praat sommer oor die ongeskikte vrou wat so al-al met haar trollie oral indruk en rondstaan dat mens by niks kan uitkom nie. Die volgende oomblik sê ’n manstem agter my: “Lekker om Afrikaans op die platteland te hoor!” En hy lag en loop weg. Nou fluister ons maar en gee vir mekaar “die kyk”!
  • In Vancouver, Kanada hoor ons gereeld hoe mense Afrikaans praat. Dis asof mens net daai bietjie nader staan om dit weer te kan hoor.
  • Ons het die dag in Pompeii lekker gelag. Twee tienersussies in ons toergroep het die aantreklike Italiaanse gids bespreek toe hy hulle vlot in Afrikaans antwoord. Dit blyk toe dat sy pa ’n krygsgevange in SA was en hy so leer Afrikaans praat het.

Ja, ons hoor gereeld Afrikaans. Ek het eendag ‘n foutjie gemaak in Parys. Ek en my ma was in die hysbak by die Eiffeltoring. Ek sê vir haar: “Kyk hierdie outjie voor my se mooi boude”. Hy draai om en sê: “Baie dankie.”

  • Ek het in ’n ry gestaan om vir my inkopies te betaal in Australië, die man voor my sê toe ewe vir sy klein seuntjie: “As jy stout is gaan ek jou vir die tannie hier agter ons gee.” Ek speel toe saam en sê: “Ja jy moet pasop, die tannie vat stoute kinders huis toe.” Ons het lekker gelag maar die arme knapie was nie baie beïndruk nie.
  • So staan ons en kyk na ’n uitstalling in Parys, Frankryk. ’n Man wat langs ons staan, leun te ver vorentoe en stamp sy kop teen die glasvenster. Die Afrikaanse vloekwoorde borrel uit sy mond. Ons begin lag en hy vra: “Is julle van Suid Afrika?” Was so lekker om Afrikaans te hoor en saam te lag oor sy kopstampery.
  • Ons was by ’n kerkdiens in ons tuisdorp Nanaimo, Kanada. Terwyl ons motor toe stap, gesels ons kleindogter aanmekaar. ’n Waardige gryskopdame het nader gestaan en gevra: “Excuse me, did you just speak Afrikaans to the little girl?” Sy was amper in trane toe sy sê: “Ek het in 1968 na Kanada toe geëmigreer en dis die eerste keer wat ek weer Afrikaans hoor!” Ons het goeie vriende geword en sy het die kleine Ruby heerlik bederf.
Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest