Leesvordering:

Nomadegade: Vind jou buffel

Mei 25, 2022

Daar sit ek in sak en as toe ek besef dat ek nie gou genoeg Duits sou kon praat om in Switserland te gaan kuns gee nie. Die glans van ’n opwindende avontuur in ’n vreemde land verdof in ’n stikdonker wolk van “Wat de os nou?”

Wat doen ek as ek nie kan skoolhou nie? Wie is ek dan?

Die penarie waarin die meeste “trailing spouses” hulle bevind, is om hulself in elke nuwe land te herontwerp.

Die “trailing spouse” is die eggenoot wat saam met die hoofbroodwinner van land tot land agter sy/haar werk aan trek.

Die beste vertaling wat ek daarvoor kon kry, is “nomadegade” vir die goeie dae en “sleepsel” vir die res.

Daardie dag was ek ’n sleepsel. Die deur na my droomwerk het in my gesig toegeklap. Nou moet ek aan ander deure gaan klop. My man kon sien dat dié vasvatvrou van hom sukkel om die feniks uit die as te laat verrys. Min het ek geweet dat my toekoms letterlik in daardie as gelê het en dat ek ’n hele nuwe lewe vir myself sou moes oopteken met die stukke in die as. Nee, nie die houtskool in jou braai wat na wors en tjops ruik nie, maar die as waarmee kunstenaars ander mense betower.

Wim torring al jare aan my om weer kuns te skep. Maar as ‘n mens ander mense leer hoe om kuns te skep, bly daar maar min tyd oor om dit self te doen. En kuns as stokperdjie is lekker, maar dit sit nie kos op die tafel nie. Om met kuns ’n inkomste te verdien, is nie maklik nie. Dit is juis daarom dat ek die makliker pad gekies en ’n kunsonderwyser geword het. Maar nou is klasgee nie meer ’n opsie nie, dus het ek niks om te verloor nie. ’n Mens kan nie verder val as jy reeds ’n sleepsel is nie; jy kan net boontoe.

Ek stof myself toe af en skraap my paar rappen bymekaar om die grootste stuk papier te koop wat ek kan kry. En teken daar vir jou ’n stofwolk op! Die grootste buffel wat ek kon.

Hy is pragtig en pryk vir maande trots bo ons bank. Met elke kuier is die buffel in die middel van die gesprek en sy storie loop later wyd. Uit die bloute bel kunstenaars, organisasies en galerye. Ek skrik my so wit soos die papier – so geïntimideerd dat ek amper weer tot op sleepselvlak daal en onder ’n klip gaan wegkruip. Maar toe besef ek die ander deur begin oopgaan, al is dit net op ’n skrefie.

Jinne, maar ek teken dat die stof so staan – letterlik, want daai houtskool dwarrel oral in die huis rond. Kort voor lank het ek darem dertig stukke om van te kies vir ’n uitstalling. Ek is op Facebook, Instagram en het ’n tuisblad.

’n Paar jaar later, met oor die dertig uitstallings agter die rug, meer as honderd en vyftig verkope en talle werkswinkels, gassprekergeleenthede en persverskynings, kan ek nie glo wat uit die as verrys het nie.

Nou kyk, dit was nie maklik nie. En moenie dink dat ek nie deur donker dieptes van selfvertwyfeling en kommer oor kontantvloei is nie. Daar was veel meer sleepseldae as fênsie nomadegade-dae. Maar waarom ek vandag dié stuk skryf, is om te sê wanneer ’n deur toegaan – nee, kliphard in jou gesig toeklap – is daar ’n ander deur wat oopgaan. En moenie dink jy gaan deur daardie deur wals nie – jy gaan hom waarskynlik moet oopstoot tot die sweet jou aftap of hom selfs met ’n byl afkap, soos ek! Maar moenie opgee nie. Ek weet hoe jy voel. Jy is nie alleen nie. Jy kan dit doen. Jy kan jouself herontdek, herskep en hope pret daarmee hê in die vreemde. Vind jóú buffel.

Meer oor die outeur

Ira van der Merwe

Ira van der Merwe hop al vir meer as ‘n dekade in die buiteland rond. Met houtskool in die hand deel sy haar land met die wêreld. En met ‘n pen in die ander deel sy die humor in die vreemde met haar eie mense. Met Afrika-diere bedags en grappies skryf snags, verwerk Ira die hoogte- en laagtepunte van lewe in die vreemde.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Breytenbachs Immigration Consultants Limited

Onderneming in die Kollig: Breytenbachs Immigration Consultants Limited

Hierdie week se kollig is op Breytenbachs Immigration Consultants Limited. Breytenbachs Immigration Consultants Limited is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

ʼn Reuseverkiesingsjaar kan wêreldpolitiek in nuwe rigting stuur

ʼn Reuseverkiesingsjaar kan wêreldpolitiek in nuwe rigting stuur

Deur Jaco Kleynhans Die Suid-Afrikaanse verkiesing wat oor enkele weke plaasvind, is van groot belang vir die toekoms van ons land. Hierdie verkiesing vind egter ook binne ʼn internasionale konteks plaas in ʼn jaar met deurslaggewende verkiesings wêreldwyd en die...

Kuiers by jou kinders in ’n verre land

Kuiers by jou kinders in ’n verre land

Wat ouers moet weet Deur Sulette Ferreira Die oomblik wat jy van die vliegtuig afstap, word jy oorweldig deur gemengde gevoelens – gevoelens van vreugde én onsekerheid. Jou hart loop oor van afwagting vir die langverwagte kuier by jou kinders en kleinkinders wat nou...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest