Die voordele van tweetaligheid

Die Afrikaanse digter Cornelis Jacob Langenhoven, beter bekend as C.J. Langenhoven en Sagmoedige Neelsie, het waarlik ’n diepe meningsverskil aangeraak toe hy gesê het: “Om jou een, eie taal tot nut te gebruik is ’n groter kuns as om sewe vreemde tale by te leer”.

Is dit egter altyd die waarheid— selfs al sou ’n mens emigreer? Vir talle ekspat is die kwessie van tweetaligheid ’n groot stresfaktor. Hoe hou ’n mens jou moedertaal in die buiteland aan die lewe?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet daar krities gekyk word na die definisie van tweetaligheid en die voordele wat dit inhou. Kom ons ondersoek dus tweetaligheid om te bepaal of ons werklik met Langenhoven kan saamstem.

Wat beteken dit om tweetalig te wees?

Die term tweetaligheid verwys na die vermoë van ’n individu of lede van ’n gemeenskap om twee tale effektief te kan gebruik en, met ander woorde, beide tale vlot te kan praat. Meertaligheid verwys weer na die effektiewe gebruik van meer as twee tale.

Die huidige statistiek dui daarop dat ongeveer 43% van die wêreldbevolking tweetalig is en ’n verdere 17% meertalig. Aangesien meer as die helfte van die wêreldbevolking dan óf tweetalig óf meertalig is, is dit noodsaaklik dat ons die voordele hiervan ondersoek.

Die voordele van tweetaligheid

Buiten die feit dat tweetaligheid brûe bou wat die skeidings tussen verskillende kulture kan oorbrug, dra hierdie vaardigheid ook tot positiewe kognitiewe funksie by. Die tweetalige brein beskik oor ’n groter vermoë om tussen take te skakel, danksy die feit dat dit een taal stoor terwyl ’n ander gebruik word.

Tweetaligheid hou ook voordele in vir albei kante van die ouderdomspektrum: tweetalige kinders so jonk as sewe maande pas beter by omgewingsveranderinge aan, terwyl seniors wat vlot is in twee tale minder kognitiewe agteruitgang kan ervaar.

Hiermee dan die verskeie voordele wat tweetaligheid vir ons inhou:

1. Bobaas-breinontwikkeling

Omdat tweetaliges voortdurend van een taal na ’n ander kan oorskakel, is dit bewys dat hierdie individue ook beter kan konsentreer, asook verskeie take op een slag kan verrig. Dus speel tweetaligheid ’n belangrike rol in breinontwikkeling en kognitiewe funksie. Navorsing bewys hoeka dat tweetaliges meer geneig is om akademies in hul moedertaal te presteer as hul eentalige eweknieë. Kinders wat van jongs af aan meer as een taal blootgestel word, bou ’n groter woordeskat wat hulle lewenslank kan gebruik en koester.

2. Indiensnemingsvoordele

Kommunikasie in die werksplek is ’n noodsaaklikheid. Daarom kan tweetaligheid juis voordelig wees vir kandidate wat aansoek doen om werksgeleenthede. Vir maatskappye met internasionale kantore, byvoorbeeld, is tweetaligheid ’n moet!

Snelgroeiende velde soos die toerisme en joernalistiek skep voortdurend nuwe werksgeleenthede vir twee- en meertaliges. Die gemiddelde tweetalige persoon kan tot 25% meer verdien as die gemiddelde eentalige persoon. Die vermoë om doeltreffend met ’n wyer verskeidenheid mense te kommunikeer is van baie waarde in die sakewêreld.

3. Gesondheidsvoordele

Navorsing dui daarop dat tweetaligheid bydra tot kognitiewe gesondheid, aangesien die eerste simptome van Alzheimer se siekte in tweetaliges eers vyf jaar later gesien word as in eentaliges. Ander gesondheidsvoordele sluit ’n vinniger beroerteherstel en laer stresvlakke in.

4. Sosiale aanpasbaarheid

Tweetaliges het toegang tot twee wêrelde! Dus kan hulle met mense van beide tale geselsies aanknoop en verhoudings bou. Om met mense van verskillende kulture te kan gesels gee ’n mens beslis ’n sosiale voorsprong.

5. Die wêreld as jou tuiste

Alhoewel dit moontlik is om ’n ander land te besoek, en selfs te geniet, sonder dat jy die taal praat, maak jy vir jouself ’n hele nuwe wêreld oop deur ’n tweede taal te praat. Deurdat jy met die plaaslike inwoners in hul eie taal kan kommunikeer, is daar soveel meer geleenthede om jouself in hul kultuur te verloor.

Tweetaligheid in ekspat-kinders

Waarom is dit belangrik vir ekspats om hul kinders tweetalig groot te maak? Buiten die bogenoemde voordele en die feit dat dit ons taal aan die lewe hou, hou tweetaligheid ook talle voordele spesifiek vir kinders se ontwikkeling, en toekomstige sukses, in.

Sosiale-emosionele ontwikkeling

Volgens Sumari Erasmus, ’n spraakterapeut, is kinders wat meertalig is en ook dieselfde taal kan praat as hul ouers en grootouers in staat om ’n sterk band met hulle familie, kultuur en gemeenskap te behou. Navorsing toon ook dat kinders wat tweetalig is, makliker vriende maak omdat hulle twee tale kan praat en dus ook vriende kan maak in hulle tweede taal. Dit is ’n belangrike vaardigheid om te hê in ons diverse samelewing.

Wenke om tweetaligheid te bevorder

Indien jy op soek is na kreatiewe wenke om tweetaligheid te bevorder in die huis, kan jy nou diep asemhaal. Om ’n nuwe taal aan te leer, kan lekkerder wees as wat jy dink!

Buiten die tradisionele leermetodes wat die lees en skryf van ’n taal insluit, moet daar ook na die algehele kultuurverskuiwing gekyk word. Luister dus gereeld na Afrikaanse musiek daar waar jy in die buiteland woon, vertel stories en geniet Afrikaanse films en TV-reekse.

Foto: Getty Images/ Unspalsh

Besoek AfriForumTV vir Afrikaanse kykgenot.

Alhoewel Langenhoven se impak op die Afrikaanse taal vir ewig sal voortduur, moet ons erken dat ons nie ten volle met sy standpunt rondom meertaligheid kan saamstem nie.

Dit is vir ons duidelik dat Afrikaans selfs in die buiteland kan floreer, danksy die mens se tweetaligheidskapasiteit. Hits dus jou kognitiewe ontwikkeling aan, knap jou sosiale vaardighede op en ervaar die wêreld op ’n unieke manier deur jou moedertaal in die buiteland lewendig te hou.

Teken in op ons nuusbrief

Wees die eerste om die jongste nuus en meer te ontvang!

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest