Leesvordering:

NUWE VEREISTES VIR KINDERS WAT DEUR SUID-AFRIKAANSE GRENSPOSTE REIS

Mar 23, 2017

Die nuwe vereistes vir kinders wat na of van die Republiek van Suid-Afrika reis, het op 1 Junie 2015 in werking getree. Die vereistes is gemik op die implementering van die beginsel dat alle minderjariges hul ouers se toestemming moet hê om na of van die Republiek te reis.

1.TOEPASSING VAN DIE NUWE VEREISTES

1.1. Die dokumente wat in paragraaf 4 genoem word, moet op versoek by ʼn binnekomshawe (“port of entry”) getoon word deur:

  • Suid-Afrikaanse minderjariges wat die Republiek verlaat; en
  • minderjariges wat buitelandse burgers is en vrygestel is van visumvereistes wanneer hulle deur ʼn binnekomshawe van die Republek reis.

1.2. Minderjariges wat by enige missie of VFS-dienspunt (Visa Facilitation Service Centre) aansoek doen vir ʼn Suid-Afrikaanse visum moet saam met die aansoek die dokumente indien wat in paragraaf 4 hier onder genoem word voordat sodanige visum uitgereik sal word.

1.3. Dit moet standaardpraktyk wees dat alle stawende dokumente voorgelê moet word voordat ʼn visum uitgereik word aan ʼn minderjarige wat in Suid-Afrika of by ʼn Suid-Afrikaanse ambassade in die buiteland aansoek doen vir ʼn visum. Beëdigde vertalings van die dokumente moet saam met die visumaansoek ingedien word, soos uiteengesit in Regulasie 9(4) van die Immigrasieregulasies, 2014. Persone wat vrygestel is van visumvereistes hoef egter geen vertaling in te dien wanneer hulle by ʼn immigrasiebeampte by ʼn binnekomshawe aanmeld nie. Stawende dokumente moet óf die oorspronklike dokumente wees óf gesertifiseerde afskrifte daarvan.

2. VRYSTELLINGS

  • Daar sal nie van minderjariges wat hul reis voor 1 Junie 2015 begin het verwag word om die dokumente wat in paragraaf 4 genoem word voor te lê indien die terugreis na 1 Junie 2015 plaasvind nie.
  • Geen stawende dokumente sal vereis word van minderjariges wat in regstreekse transito op ʼn internasionale lughawe is nie.
  • Daar sal nie van minderjariges wat in besit is van ʼn geldige Suid-Afrikaanse visum vereis word om die dokumente wat in paragraaf 4 genoem word voor te lê wanneer hulle deur ʼn binnekomshawe van die Republiek reis nie.
  • In die geval van lande wat die ouers se besonderhede in die kinders se paspoorte of ander identifikasiedokumente endosseer, sal hierdie dokumente aanvaar word as bevestiging van die identiteit van die reisende minderjarige se ouers. Voorbeeld: Indiese paspoorte bevat die name van die ouers. In hierdie geval kan weggedoen word met die vereiste van ʼn onverkorte geboortesertifikaat soos uiteengesit in paragraaf 4.
  • In die geval van skooltoere kan die beëdigde verklaring wat die ouers se toestemming bevestig vervang word met ʼn beëdigde verklaring deur die skoolhoof wat bevestig dat alle toestemmingsbriewe deur die skool gehou word. Wanneer hierdie beëdigde verklaring voorgelê word, sal immigrasiebeamptes by binnekomshawens en Suid-Afrikaanse missies in die buiteland geen bykomende dokumente, soos bevestiging van die ouers se toestemming, onverkorte geboortesertifikate, doodsertifikate, hofbevele of afskrifte van die ouers se paspoorte of identiteitsdokumente en van die persoon wat die kind in SA ontvang, van individuele skoliere vereis nie. Hierdie spesiale vrystelling is van toepassing op alle skole wat by die Departement van Basiese Onderwys en die ekwivalent daarvan in die buiteland geregistreer is. Laai die voorgestelde formaat van hierdie beëdigde verklaring hier af.

3. DEFINISIES

3.1. Alternatiewe sorg

  • Artikel 167 van die Kinderwet, 2005 (Wet No. 38 van 2005), bepaal dat ʼn kind in alternatiewe sorg is as die kind geplaas is in:
    • pleegsorg;
    • die sorg van ʼn kinder- en jeugsorgsentrum op bevel van ʼn hof ingevolge daardie Wet of die Strafproseswet, 1977 (Wet No. 51 van 1977); of
    • tydelike veilige sorg.

3.2. Kind/minderjarige

  • Die Suid-Afrikaanse reg beskou enige persoon jonger as 18 jaar as ʼn kind of minderjarige.

3.3. Gelykwaardige dokument

  • Enige amptelike dokument (Voorbeeld: identiteitsdokument of paspoort wat uitgereik is deur die toepaslike owerheid van ʼn land) of brief wat uitgereik is deur ʼn buitelandse regering (insluitend ʼn buitelandse ambassade) of ʼn brief wat uitgereik is deur die Direkteur-Generaal van die Departement van Binnelandse Sake van die Republiek van Suid-Afrika wat die identiteit van ʼn kind se ouers bevestig, sal in die plek van ʼn onverkorte geboortesertifikaat aanvaar word. Hierdie instrumente sal voldoende wees om ʼn kind wat van voorneme is om deur ʼn binnekomshawe van die Republiek te reis se ouers te identifiseer.

3.4. Ouer

  • Tensy dit uit die konteks anders blyk, sluit die woord “ouer” aanneemouers en wettige voogde in.

3.5. Beëdigde verklaring van ouers se toestemming

  • ʼn Beëdigde verklaring van ʼn ouer se toestemming is ʼn beëdigde verklaring wat ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument moet vergesel wanneer enige ouer nie saam met sy of haar kind reis nie.
  • ʼn Suid-Afrikaanse ambassade in die reisiger se land van verblyf mag genader word om die eed of plegtige verklaring wat vir die beëdigde verklaring vereis word gratis af te neem.
  • Die verklaring wat voorgelê word, mag nie ouer as 6 maande wees nie. Dieselfde verklaring sal geldig wees vir die vertrek en terugkeer van dieselfde reis, ongeag die duur van die reis.
  • ʼn Voorgestelde formaat vir die beëdigde verklaring van ʼn ouer se toestemming kan hier afgelaai word: ParentalConsentAffidavit.

3.6. Onverkorte geboortesertifikaat

  • In Suid-Afrika is ʼn onverkorte geboortesertifikaat (UBC) ʼn uittreksel uit die geboorteregister wat ʼn minderjarige en sy of haar ouer of ouers se besonderhede bevat. ʼn Onverkorte geboortesertifikaat is ʼn amptelike dokument wat uitgereik is deur die Departement van Binnelandse Sake ingevolge die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes, 1992 (Wet No. 51 van 1992). Enige geboortesertifikaat wat ʼn kind en die ouers van die kind se besonderhede bevat, sal vir die doeleindes van hierdie vereistes as onverkorte geboortesertifikaat aanvaar word, ongeag die land van uitreiking.
  • In die geval van lande wat nie onverkorte geboortesertifikate uitreik nie, sal ʼn gelykwaardige dokument wat die kind en sy of haar ouer of ouers se besonderhede bevat en wat uitgereik is deur die bevoegde owerheid van daardie land of ʼn ambassade van die land gebruik kan word in plaas van ʼn onverkorte geboortesertifikaat.
  • ʼn Voorgestelde formaat vir so ʼn gelykwaardige dokument kan hier afgelaai word: Equivalent Document.

4. DOKUMENTE WAT VEREIS WORD OM DEUR ʼn BINNEKOMSHAWE VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA TE REIS

4.1 Waar albei ouers op reis vergesel word deur een of meer van hul kinders, moet sodanige kinders die volgende voorlê:

  • ʼn geldige paspoort en ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument vir elke kind wat reis.

4.2. Waar slegs een ouer met ʼn kind (of kinders) reis, moet elke kind die volgende voorlê:

  • ʼn geldige paspoort en ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument vir elke kind wat reis asook die beëdigde verklaring ter bevestiging van die toestemming van die ander ouer wie se besonderhede op die onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument verskyn.

4.3. ʼn Onbegeleide minderjarige moet die volgende voorlê:

  • ʼn Geldige paspoort; ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument; ʼn beëdigde verklaring van die ouers se toestemming; ʼn brief van die persoon wat die minderjarige in die Republiek gaan ontvang met sodanige persoon se huis- en werkadres en volledige kontakbesonderhede in die Republiek asook ʼn afskrif van daardie persoon se identiteitsdokument of geldige paspoort en visum of permanenteverblyfpermit.

4.4. ʼn Kind wat reis saam met ʼn persoon wat nie sy of haar biologiese ouer is nie, moet die volgende voorlê:

  • ʼn Geldige paspoort, ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument en ʼn beëdigde verklaring van die ouers se toestemming.

4.5. ʼn Kind in alternatiewe sorg moet die volgende voorlê:

  • ʼn Geldige paspoort en ʼn brief van die provinsiale hoof van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling waar die kind woonagtig is wat sy of haar vertrek uit die Republiek magtig soos uiteengesit in artikel 169 van die Kinderwet (Wet No. 38 van 2005).

4.6. Verklarende aantekeninge:

  • Een van die volgende dokumente mag voorgelê word indien die beëdigde verklaring van die ouers se toestemming waarna hier bo verwys is, ontbreek:
    • ʼn hofbevel wat volle ouerlike regte en verantwoordelikhede of volle wetlike voogdyskap van die kind uitsluitlik aan die reisende ouer toestaan;
    • ʼn hofbevel ingevolge artikel 18(5) van die Kinderwet, 2015, (Wet No. 38 van 2005) wat ʼn hofbevel is wat aan die kind toestemming verleen om te reis in die geval waar daar ʼn geskil is of waar geen toestemming deur die kind se ouer(s) verleen is nie; of
    • ʼn doodsertifikaat van die oorlede ouer.
  • Waar slegs een ouer se besonderhede op die onverkorte geboortesertifikaat of gelykstaande dokument verskyn, word geen beëdigde verklaring van die ouers se toestemming vereis wanneer daardie ouer met die kind reis nie.
  • In die geval van egskeiding waar ouers gedeelde toesig oor ʼn kind/kinders het, word albei ouers se toestemming vereis.
  • Waar ʼn beëdigde verklaring van die ouers se toestemming voorgelê word, word volledige kontakbesonderhede en afskrifte van die ouers of wettige voog se identiteitsdokumente of paspoorte ook vereis.
  • Die ouers se toestemming moet as sodanig op die onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument aangeteken word, ongeag die huwelikstatus van die ouers.

5. ONVERMOË OM TOESTEMMING TE VERLEEN AS GEVOLG VAN ONLANGSE DOOD OF VERSTANDELIKE OF FISIESE GESTREMDHEID

  • 5.1. Waar enige ouer(s) wat op ʼn onverkorte geboortesertifikaat of gelykwaardige dokument genoem word as gevolg van onlangse dood of verstandelike of fisiese gestremdheid nie in staat is om toestemming te verleen dat ʼn kind mag reis nie, kan iemand namens die kind(ers) aansoek doen om spesiale vrystelling van die beëdigde verklaring van ouers se toestemming deur ʼn versoek en volledige motivering, tesame met alle stawende dokumente (byvoorbeeld die behandelende mediese praktisyn se sertifikaat), aan die Kantoor van die Direkteur-Generaal van Binnelandse sake te rig by die volgende e-posadres: consent@dha.gov.za.

5.2. Verklarende aantekening:

  • Hierdie vrystelling is slegs van toepassing in geval van onbevoegdheid en nie waar ʼn ouer óf onwillig is om toestemming te verleen óf nie opgespoor kan word nie as gevolg van skeiding of egskeiding.
  • Waar ʼn ouer weier om toestemming te verleen, kan ʼn hofbevel ingevolge artikel 18(5) van die Kinderwet, 2005 (Wet No. 38 van 2005), in plaas van sodanige ouer se toestemming voorgelê word.

KRY VANDAG NOG ADDISIONELE DOKUMENTE OM MET KINDERS TE REIS!

Soos verskyn op binnelandse sake se webblad, vertaal deur AfriForum se Taalburo.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest