Leesvordering:

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Apr 23, 2024

Deur Alana Bailey

Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag, wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum van die Departement van Basiese Onderwys om met ’n strategie vorendag te kom om die nypende tekort aan skoolbiblioteke aan te spreek.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het dié departement in Augustus 2023 ’n verslag uitgereik waarin bekendgemaak is dat 74,2% van die 22 597 openbare skole in die land, geen biblioteke het nie. Wat die res aanbetref, het 43,1% biblioteke waar daar ’n ernstige tekort aan boeke is.

“Die departement het aangedui dat sowat R8-miljard nodig sal wees om die tekorte aan te spreek, maar met die huidige druk op die departement se begroting, is dit onwaarskynlik dat die situasie gou sal verbeter, tensy ’n werkbare strategie hiervoor ontwikkel word,” het sy bygevoeg.

Bailey noem dat instellings soos AfriForum waar moontlik skenkings aan skole maak om hulle boekevoorraad aan te vul. Verhoudings tussen organisasies sonder winsbejag en die departement kan onder meer oplossings bied, maar dan moet die departement se standpunt oor biblioteke ook duideliker wees, meen sy. In dié verband verwys sy na skole wat onder druk kom om ruimtes wat vir biblioteke benut word, in klaskamers te omskep om meer leerders te akkommodeer. “Die departement bly in gebreke om voldoende skole vir die land se kinders te bou en die gevolg is dat hulpmiddels wat gehalte onderwys bevorder, soos biblioteke, dan geteiken word,” voeg sy by.

“Die feit dat 81% van die land se Graad 4-leerders volgens die internasionale Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS-studie) van 2021 nie met begrip kan lees nie, kan onder meer aan kinders se gebrek aan blootstelling aan boeke toegeskryf word. Ironies genoeg het die meeste skole in welvarende omgewings met openbare biblioteke, boekwinkels en huishoudings met boeke, wel biblioteke, maar in omgewings waar daar groot maatskaplike nood is en die bestaan van biblioteke juis noodsaaklik is, ontbreek dit.”

In die woorde van die skrywer Fanie Viljoen: “Biblioteke is ook ons droomplek, ons saamkomplek, ons leesplek en ons leerplek. Rondom boeke word vriende gemaak, kennis uitgeruil, stories en verwondering gekoester.” AfriForum beklemtoon dat organisasies soos hulle sal voortgaan om waar moontlik skole te help om sulke eilande van uitnemendheid te skep. Daardeur word kinders vir hulle lewe as volwassenes voorberei en geïnspireer. Dit is egter noodsaaklik dat die departement meer moet doen in dié verband, eerder as om onuitvoerbare wetgewing soos die BELA-wetsontwerp te probeer implementeer.

Lees ook: STOP die BELA-wet!

Foto: Kazuend/ Unsplash

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest