Leesvordering:

Nuut by LAPA in Junie

Jun 22, 2017

Moenie ons boek oor tradisionele disse mis nie. Asseblief. Vetkoek tot mopaniewurms, als. Boonop so geskryf dat selfs ’n gewone mens die interessante kos kan regkry.

Ons het ’n nuwe Annelie Ferreira in ons lys hierdie maand. Dié gerekende jeugskrywer se boek het ’n lekker titel: Die rooikop, die leeu en die handgranaat.

Verder is daar nuwe boeke van Madelein Rust (natuurlik is daar is weer bloed in Bloem!), Vita du Preez (vol oud vryheidsvegters in Noord-Ierland) en Fanie Viljoen se boek oor ’n seun wat wil dans. Bestel nou al die pizza, hulle al drie lees lekker.

Die lekkerste nuus is dalk dat ons ’n boek van Marilé Cloete het wat handel oor ’n Bruce Springsteen-konsert. As jy nog nie weet nie, dit is die skuilnaam van Alta Cloete, sekerlik die grootste Springsteen-fanatikus in Suid-Afrika. Die internet gons reeds.

Gelukkig is daar ook ’n boek om pa en die kinders te leer kook, so kry dit vir die kroos en lees lekker terwyl hulle kook.

Fiksie

Moordhuis
Madelein Rust
R258.00
ISBN: 9780799385007

Die sewejarige Gainsford-tweeling word op grusame wyse in ’n skuur op Mooiplaats in die Bloemfontein-distrik vermoor. Binne die opstal is vier van die welgestelde Therons vermoor, die liggame grusaam uitgestal in die sitkamer. Doktor Renata Malan en die span van Malan & Coetsee Privaatondersoeke word deur die tweeling se ouers aangestel om die moordenaar aan te keer.

Die ondersoek neem Renata in onverwagse rigtings: Bloemfontein se seksbedryf, die donker web, die nasleepsels van misdaad gedurende die bosoorlog in die tagtigs, die wêreld van kinderpornografie en pedofilie, hebsug, haat en buite-egtelike verhoudings.

Die een geraamte na die ander tuimel uit die kas en hoewel die lys van verdagtes daagliks groei, is bewyse skaars. Wie, behalwe die Therons se erfgenaam, sou voordeel trek uit die gesin se dood? Hou die Gainsfordseuns se dood verband met ’n baba se verdrinking drie jaar vantevore? Was Jakes Gainsford dalk self betrokke by sy kinders se dood?

Was hierdie dalk die perfekte misdaad?

Moordhuis is die derde boek in die reeks met doktor Renata Malan as die hoofkarakter. Die eerste twee boeke in die reeks is Monstersaad en Bloedlyn. Renata is ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim. Die oorgeërfde boosheid wat in haar gene skuil, maak van haar ’n gedugte teenstander en ’n gehate vyand.

Wilde klawer
Vita du Preez
R230.00
ISBN: 9780799384994

Vita du Preez was nog nooit skaam om haar lesers deur ’n mynveld te lei nie en die wilde McKenna Wilde se stewels dit gaan nog eens doen.

Solitaire, Woestynroos, Droomland en Wilde klawer is ’n vierluik oor vier vroue wat deelgeneem het aan ’n Boer Soek ’n Vrou-kompetisie en hulle wedervaringe daarna.

Wilde klawer is die vierde boek in die reeks en gaan oor McKenna Wilde wat ’n spesiale gawe het om deur aanraking te “sien”. Vir hierdie ekstrovert wat verkies om eerder op die ligter sy van die lewe te fokus, is dit eerder ’n vloek as ’n seën. ’n Brief van ’n onbekende vrou lei haar terug na haar geboorteland, Noord-Ierland. Hier word sy gekonfronteer met haar ma se verlede. Die Wildes was betrokke by die IRL (Ierse Republikeinse Weermag) se bloedige stryd teen Britse oorheersing.

Vir McKenna is dit ook ’n reis na selfontdekking. Sy moet leer dat sy nie van haarself en haar herkoms kan vlug nie. Eger nog: in haar soeke na selfaanvaarding, word dit vir haar duidelik dat ’n vrou eers ’n man met haar hart moet, vertrou voor sy hom met haar lyf kan vertrou. Dit ruk haar binneste, want wilde McKenna het nog altyd weggeskram van blywende verhoudings en sien oplaas in dat intimiteit sonder liefde bloot ’n gejaag na wind is.

In Portballintrae, ’n klein hawedorpie aan die Ierse Noordkus, kruis haar pad met verskeie mense en nie almal is haar noodwendig goedgesind is nie.

Toe Tim Els, ’n tandarts wat vir reeds twee jaar in Noord-Ierland werk, haar pad kruis, moet McKenna begin keuses maak waarvan sy niks hou nie.

Niefiksie

Clover Gunsteling Suid-Afrikaanse Kos
Clover SA
R200.00
ISBN :9780799382792

Suid-Afrika is ’n wonderlike vermenging van kulture en nêrens is dit meer duidelik as in die interessante verskeidenheid tradisionele kosgunstelinge nie. Die kombinasie van inheemse kulture en honderde jare se immigrasie beteken dat Suid-Afrika een van die wêreld se mees kleurryke en diverse kostradisies het.

In Clover Tradisionele Suid-Afrikaanse Gunstelinge deel ons iets van die verskeidenheid – soos ’n Bunny Chow, romerige marog, smoorsnoek, soetsuurlewer, vetkoek, isidudu, mashonza (mopaniewurms), wildspastei en botterhoender.

Met Clover aan die stuur, val die kollig natuurlik op Cloverprodukte wat op slim maniere inkorporeer word om smullekker resepte te ontwikkel – van ligte etes tot hoofgeregte en ietsie soet. Marlo Carstens het elkeen van die resepte getoets en toeganklik gemaak.

’n Persentasie van die boek se verkope word aan die Clover Mama Afrika-projek geskenk.

Nie vir ma’s nie
Karin Behm-Joubert & Daleen van der Linde
R230.00
ISBN: 9780799384550

Met dié boek word ma’s tydelik uit die kombuis verban, want jou wederhelf en kinders is van plan om jou te bederf met heerlike kos wat hulle sonder hulp of te veel moeite kan voorberei. Nie vir Ma’s nie se resepte is maklik, beproef en het stap-vir-stap aanwysings wat enige groentjie gemaklik sal laat in die kombuis.

Die boek verskaf ook die nodige omskakelingstabelle en wenke en laat kinders toe om meer te leer oor die doel van kombuistoerusting. Buiten heerlike resepte, is daar ook ’n hele hoop wenke wat kosmaak sommer kinderspeletjies maak.

Komaan, pa! Jy en die telge kan! Daar is heerlike idees vir ontbyte, ligte etes, voorgeregte, kitskos, aandetes, bykosse, braaidisse, nageregte, teetyd-versnaperinge en smulgoed vir smulpape.

Kinder- en jeugboeke

Die rooikop, die leeu en die handgranaat
Annelie Ferreira
R140.00
ISBN: 9780799383614

Adele was nog altyd versot op kuns. Dit was haar díng. Maar sedert die begin van die jaar kry sy skielik vrot punte. Dalk hou die nuwe kunsjuffrou nie van haar nie. Hoekom sukkel sy so met haar selfportret vir die volgende klasprojek? Is dit omdat sy haar bos rooi hare en kurwes so verwens?

Die afgelope tyd voel dit buitendien of ’n groot hand haar wêreld gevat en geskud het. Soos daai ou bordspeletjies wat hulle kleintyd saamgevat het op vakansies. Iemand stamp per ongeluk net liggies aan die Slangetjies-en-Leertjies en al die knope en dobbelsteentjies is deurmekaar, en niemand het meer ’n cooking clue of hulle naby die einde of die begin is nie.

En dit alles begin die middag toe sy van die skool af stap en ’n leeu in hulle tuin ontdek …

Annelie Ferreira het al twee maal die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen. Sy skroom nie om moeilike onderwerpe aan te raak nie. Hierdie nuwe jeugverhaal uit haar pen is ’n holderstebolder wipwarit vol humor, romanse, aksie en avontuur.

Dromers
Fanie Viljoen
R120.00
ISBN: 9780799383621

Dans is Byron Carelse se hele lewe. Dit is sy energie, sy passie, sy geluk … sy vonk. Wanneer die ritme sy lyf beetkry, vergeet hy van die probleme wat by die huis op hom wag.

Sy beste vriendin, Tasha, sê altyd hy moenie toelaat dat ander mense sy vonk steel nie. Maar sy weet nie van die dinge wat by sy huis gebeur nie. En dalk is dit beter so. Wat sal sy van hom dink?

Op ’n dag sien iemand Byron se talent raak. Hy kry saam met ’n groepie ander township-kinders die kans om deel te wees van ’n glansryke vertoning by die kunstefees. Die kans om groot drome te droom … groter as die township waar hy bly. Maar wat doen jy as die lewe jou drome probeer steel?

Hierdie splinternuwe jeugroman uit die pen van Fanie Viljoen is in eenvoudige, maklik verstaanbare taal geskryf – perfek vir trae lesers of lesers wie se tweede of derde taal Afrikaans is.

Hoezit 12: Die wonderwêreld van vreemde diere
Jaco Jacobs & Fanie Viljoen
R70.00
ISBN: 9780799383638

Waar sal jy vlieënde paddas kry?
Watter soort bok het tande soos Dracula?
Watter diertjie kan kilometers onder die see en selfs in die buitenste ruimte oorleef?
Waar sal jy ’n verkleurmannetjie kry wat so groot soos ’n kat is?

Ontdek van die vreemdste diere op ons planeet met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Met 48 bladsye vol prettige feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van vreemde diere kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry! Maak van naderby kennis met vampiervlermuise, ietermago’s en tapirs – en verstom jou aan van die eienaardigste diere wat jy ooit gesien het! Die temas en aktiwiteite maak hierdie reeks boeke die perfekte hulpbron vir skoolprojekte en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.

Lana en Rakker 3: Speeltyd vir Rakker
Holly Webb
R90.00
ISBN: 9780799366242

Die skool se sportdag is om die draai en Lana is bekommerd sy gaan heel laaste in elke enkele item kom. Maar dan kry sy ’n briljante idee: Sy kan saam met Rakker begin oefen om lekker fiks te word!

Lana en Rakker 4: Die pajamapartytjie
Holly Webb
R90.00
ISBN: 9780799366259

Dit is amper Lana se verjaardag, en sy beplan ’n pajamapartytjie. Maar dan erken Lana se nuwe maat, Lisa, dat sy bang is vir honde. En in Lana-hulle se huis is daar geen wegkomkans van die spelerige Rakker nie.

Romanza

Hoe diep die liefde lê
Elsa Winckler
R200.00
ISBN: 9780799384987

Elsa Winckler se vorige omnibus, Liefde langs die Eersterivier het lesers laat vra vir nog. LAPA het geluister. Hierdie omnibus bestaan weer uit drie van Elsa Winckler se vorige Romanzas: Waar liefde lê, Want daar’s skoenlappers en Heldergeel dag.

Waar liefde lê: In Lana se kort joernalistieke loopbaan vertrou die redakteur haar net met berigte oor celebs, tot sy die dag ’n kollega moet uithelp toe ’n omgewingskundige ’n lesing gee. Nie dat dit haar opgewonde het nie, want sy wil oor politiek verslag doen, nie oor “groen aktiviste wat bome loop en omhels” nie. Niemand het haar egter gesê hierdie groen aktivis is so lenig en het sulke blou oë nie; ook nie dat sy passie veel intiemer kan word nie. Hoe klink ’n klimekspedisie Kilimandjaro toe saam met ’n man wat nie net bome omhels nie? Die probleem is egter: niemand het vir hóm gesê Lana het ’n doodse vrees vir berge nie.

Want daar’s skoenlappers: Gemma is ’n mediese dokter en Nick ’n oorlogsfotograaf. Boonop is Gemma se broer met Nick se suster getroud. Hierdie twee aangetroude familielede het die talent om mekaar verkeerd op te vryf, want kort-kort is daar ’n uitval. Wat hierdie situasie ietwat eienaardig maak, is dat hulle nie hulle hande van mekaar kan afhou nie en gedurig in mekaar se gedagtes is. Toe Nick saam met ander oorlogsfotograwe in Libië gevange geneem word en Gemma terselfdertyd siek word in Haïti, is dit asof ’n onsigbare mag hulle na mekaar toe aantrek.

Heldergeel dag: Vir ’n wynmaker soos Cara is dit sommer ’n helderblou dag wanneer iets goeds gebeur. En ’n heldergeel dag wanneer daar nou regtig iets wonderliks gebeur. Met haar vriendin se broer, Henry, in die omgewing kan die geelste dag egter vaal word. In al die jare sedert sy hom leer ken het, kon hulle mekaar nie verdra nie. Of dink hulle net so omdat hulle eintlik te veel van mekaar hou? Die man se lang lys verskonings help Cara egter net mooi niks!

Liefde vir ’n vlinder
Didi Potgieter
R85.00
ISBN: 9780799384864

Emma Parker vlug van haar weelderige lewe in New York om as huishoudster vir Pieter Joubert op sy Bosveldplaas te werk. Hy het in die verlede ’n groot bloutjie met ’n rykmansdogter geloop en gaan Emma ten alle koste vermy …

Romanse in rock
Marilé Cloete
R85.00
ISBN: 9780799384871

Beth kan haar “Groot Liefde” – Bruce Springsteen – se konsert in Noorweë bywoon. Sy moet net eers die vlug soontoe met die aantreklike Etienne Benade aan haar sy oorleef. En nie op hom verlief raak nie, want hy het ’n meisie.

Liefde in die Karoo
Rika du Plessis
R85.00
ISBN: 9780799384888

Karin verloor haar loopbaan, balletskool en kêrel na ’n ongeluk. Vir ’n nuwe begin trek sy na die Karoo en ontmoet Jaco – die man wat sy verantwoordelik hou vir die ongeluk. Omstandighede gooi hulle keer op keer saam en stadig vind hulle harte mekaar.

Die plaasvervanger
Magda Schmidt
R85.00
ISBN: 9780799384895

Linda se suster vra haar om ’n kind by haar man te kry om haar huwelik te red. ’n Verbode liefde vir haar swaer ontwaak in haar hart, terwyl haar eie held geen passie in haar wakker maak nie.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest