deur George de Bruin

Wanneer mens Europa aandurf, is daar beslis drie tipes besienswaardighede op jou lysie: kunsmuseums, katedrale en miskien ’n kasteel of twee. Kunsmuseums word gewoonlik tot die heel bekendstes beperk, soos die Louvre in Parys of die Rijksmuseum in Amsterdam. Neuschwanstein, Versailles en Chambord is sonder twyfel bo-aan die lysie van kastele en paleise (ook miskien die groue, verbeeldinglose Buckingham Paleis). Die Notre Dame in Parys, Westminster Abdy in Londen en die Sagrada Familia in Barcelona kraai koning onder die katedrale.

Maar soms wil mens van dié toeristelokvalle wegkom en iets van die vervloë dae van Europa teëkom. In Duitsland het ons drie sulke Middeleeuse skatte raakgeloop.

Monschau in die Eifel-streek naby Aken (Aachen in Duits en Aix-la-Chapelle in Engels en Frans)

Dié lieflike dorpie word vir die eerste keer in 1198 in geskrifte genoem. Mens ry met so ’n lui bergpas deur die heuwels en dale totdat jy ’n eerste paar huisies links raaksien. Daarna volg die groot hotel en ’n enorme parkeerarea waar jy jou motor kan laat (die straatjies ondertoe is baie beknop, hoewel een of twee bedrewe Duitsers hulle groot Mercedes Benze sowaar daardeur kon navigeer!). Dan begin mens loop (neem stapskoene saam, want glo dit of nie – die keisteenstrate loop glad nie gemaklik nie) – en meteens, om ’n draai, begroet die dorpie jou. Aan weerskante van die straatjie staan pragtige wit vakwerkhuisies (foto 1) wat ouer is as jou familie se geheime pannekoekresep is! Die oulikste antiekwinkels, eetplekkies en selfs speelgoedwinkel nooi jou uit om al jou euro’s so gou moontlik uit te gee. Iewers meng ’n rivier hom in, en aan weerskante van dié rivier (’n gunstelingplek vir forelvangers) gaan die pragtige argitektuur voort (foto 2 en 3). Heel onverwags spog die dorpie ook met ’n protestantse kerk!

Op die plein kan mens heerlik onder dik wolkomberse ontspan (as dit winter is) en van die plaaslike bier proe. Die tradisionele kosse laat mens jou vingers aflek.

Hoewel ons met ’n reënerige dag begroet is en ons elke oomblik geniet het, word daar gesê dat die dorpie se sonskyndae selfs lekkerder is. Volgende keer kom ons egter oor Kersfees dagsê, want die dorpie se Kersmark is wyd en syd bekend. Tot Desember, dus, Monschau!

Bachanach op die oewer van die Ryn

’n Paar kilometer stroomop van die Lorelei (dus aan die Rynrivier) lê die pragtige dorpie Bachanach, wat ook die bombardemente van die Tweede Wêreldoorlog vrygespring het. Wat dié dorpie nogal interessant maak, is die verskeidenheid poorte waardeur mens moet loop voordat jy by die dorpie self bereik. By een van dié poorte word elke vloedhoogte sedert Noag se dae aangedui. Dis eintlik ’n wonderwerk dat die dorpie nie al geheel en al weggespoel het nie!

Net soos Monschau spog Bachanach met vele regte, egte Middeleeuse vakwerkhuisies foto 4 en 5) en velerlei lieflike eet-en-drinkplekkies. Sommige van die geboue hel so erg oor dat mens amper nie daarlangs wol loop nie!

Hier het twee dinge my aan die Joodse Holocaust herinner. Die eerste een is indrukwekkend, selfs al is dit ’n ruïne: Die Wernerkapel (foto 6) gedenk ’n hartseer gebeurtenis uit die 13de eeu, toe ’n Duitse seun, Werner, skynbaar deur Jode doodgemaak is. Dié moord het op ’n pogrom gelei waartydens ten minste 40 Jode in die omtrek doodgemaak is. Dit is eintlik heel gepas dat die kapel, wat uiteindelik tot ’n katedraal ombou sou word, nooit voltooi is nie en vandag ’n skelet versinnebeeld. Die tweede stukkie herinnering is baie klein, onopvallend en, vir my, meer tragies. In een van die dwarsstraatjies voor een van die prentjiemooi huisies is twee keistene met twee koper keie vervang (foto 7). Hierop staan die name van twee inwoners van Bachanach wat tydens die Holocaust hul lewens in die Theresienstadt-konsentrasiekamp verloor het.

Mag dié twee herinnerings ons altyd daaraan herinner dat geen lewe meer of minder werd is as ’n ander nie, en geen ras bó ’n ander verhewe is nie.

Burg Eltz

Wat is ’n Ryn-uitstappie sonder ’n besoek aan ’n Rynlandse kasteel? Reeds in Suid-Afrika het ons al besluit om dié van-die-bekende-roete-vervreemde kasteel te gaan besoek. Dit is die 33ste geslag Eltz’e wat daar woon – die eerste geslag het die kasteel in die 12de eeu gebou. En heel interessant: dit is een van slegs drie kastele aan die linkerkant van die Ryn in die Rynland-Palts (palatinaat) wat nie verwoes is nie.

Wat dié kasteel so anders maak, is dat dit deur gewone mense gebou wat nie kon bekostig om elkeen sy eie kasteel te bou nie. Dié “versamelkastele” het dus meer as een familie gehuisves, en in die geval van Burg Eltz het drie gesinne (in totaal 100 mense) oor generasies heen gelyktydig die kasteel bewoon (foto 8). Die binneplein (foto 9) bied ’n interessante blik op dié saamwonery met vele deure wat na elke deel van die kasteel gaan, want behoede jou as jy deur skoonma se voorhuis na jou eie sitkamer sou gaan!

Daar is wonderlike voorbeelde van Renaissance-kuns en meubels te sien, asook twee semispoeltoilette! En die restaurantjie buite bedien die lekkerste plaaslike bier wat ek nóg in die Palts geproe het!

Tot ’n volgende keer!

(Foto’s: Dirk Scholtz, George de Bruin en Steven van Herk)

 

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Wêreldwyd admin
Wêreldwyd admin

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest