Leesvordering:

Netwerk: Wat dit is en waarom dit belangrik is

Apr 24, 2019

Netwerk en besigheid is onafskeidbaar; die een is doodgewoon doelloos sonder die ander. Dit gaan in die sakewêreld net soveel oor wie jy ken as oor wat jy weet, en dit is belangrik dat jy goeie verhoudings met ander kweek ten einde ’n sterk reputasie te handhaaf en nuwe geleenthede te skep.

Om ’n besigheid te bedryf, moet jy bande met kliënte, ander entrepreneurs en sakemense smee en dit val nie uit die lug nie. Om doeltreffend te netwerk, is ’n fyn kuns en die meeste mense weet nie regtig waar om te begin of wat om in gedagte te hou nie.

Sodra jy verstaan hoe belangrik dit vir jou onderneming is om te netwerk, word dit tweede natuur en sal jy die vrugte in oorvloed pluk.

Netwerk is ’n wedersydse transaksie

Die gesegde dat geld praat, is nêrens meer van toepassing as in die sakewêreld nie. Al is dit belangrik om passievol oor jou werk te wees, moet jy nooit vergeet dat jou hoofdoel is om wins te genereer nie. As jy daarmee kan vrede maak, is jou kop halfpad deur.

Niemand netwerk vir die lekkerte of om bloot ’n positiewe beeld uit te straal nie. Jy moet nuwe kontakte opbou om meer geleenthede te skep ten einde inkomste te genereer – dit is so eenvoudig soos dit. Daar is niks kouds daaraan om dit te besef en in gedagte te hou nie.

Jy kan ’n treetjie voor die res wees as jy onthou die ander party is ook altyd op soek na geleenthede om geld te maak al is dit indirek ’n gevolg van die produk/diens wat jy aan hulle kan bied, byvoorbeeld bemarking van hul maatskappy. Respekteer en aanvaar dit en jou besigheidsnetwerk sal floreer.

Gaan strategies te werk

Baie sakemense vergeet om die groter prentjie raak te sien wanneer hulle netwerk. Dit is belangrik om verhoudings te kweek met individue en besighede binne jou industrie. Hierdie verhoudings verseker dat jou kontakte moontlike kliënte na jou sal verwys.

Wenk: Jy sal soms teen laer pryse besigheid moet doen met nuwe kliënte sodat jy jou werk wyer kan bekendstel om sodoende nuwe geleenthede te skep.

Speel altyd oop kaarte

Moenie dinge belowe waartoe jou maatskappy nie in staat is nie. Om gereeld nuwe kontakte te bou, moet jy ’n reputasie as ’n betroubare entrepreneur met integriteit ontwikkel. Verwys die kliënt eerder na ’n ander onderneming wat toegerus is om die werk te doen. Onthou, op die ou end was een hand die ander.

Kommunikeer doeltreffend

’n Ferm handdruk en goeie sosiale vaardighede in netwerksituasies is van kardinale belang, maar dis nie al wat belangrik is nie. As jy beskou wil word as iemand met mag en invloed in die industrie, moet jou besigheid se kommunikasiekanale altyd sterk vloei.

As jy nog nie het nie, belê in ’n moderne webtuiste met goeie funksionaliteit en SEO (soek-enjinoptimalisering) en ’n effektiewe strategie vir bemarking op sosiale media. Verbreed ook jou kennis oor die nuutste kommunikasiemiddele. Al dié platforms beteken jou netwerke word gebou selfs terwyl jy slaap.

Stel werknemers aan wat kan netwerk

Die meeste werkplekke het lede in hul span wie se taak dit is om deurlopend met potensiële en bestaande kliënte in verbinding te tree ten einde nuwe besigheid te genereer. Dis waar dat elkeen van ons kan leer hoe om beter te kommunikeer en ons beter te handhaaf in netwerksituasies, maar party mense is meer daarop ingestel om netwerke te bou.

 

Hierdie artikel het oorspronklik op AfriVriendelik se webtuiste verskyn.

AfriForum Netwerk is ’n inisiatief van AfriForum waar verbruikers sakeondernemings in Suid-Afrika op ’n webplatform kan opspoor.

AfriForum Netwerk is nie net vir Afrikaanse ondernemings nie, maar ook vir Engelse ondernemings wat hulle dienste ook in Afrikaans aanbied. Dié platform is nie net tot voordeel van verbruikers en entrepreneurs nie, maar ook tot voordeel van Afrikaans.

AfriForum Netwerk is tot diens van kliënte, asook klein én groot sakeondermenings reg oor Suid-Afrika.

Nog vrae? Stuur ’n e-pos vir ons na afrivriendelik@afriforum.co.za of besoek ons Facebook-blad.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest