Leesvordering:

Terugkeer Afrika(ner) toe

Okt 22, 2019

Toe ek 13 jaar gelede Amerika toe is om te gaan studeer, het ek nooit verwag ek sou uiteindelik insweer as Amerikaanse burger nie; dit was veronderstel om net ’n kort avontuur te wees. Toe gebeur dit in April hierdie jaar, en nou is Amerikaner-wees onomwonde deel van my identiteit: ek sing die Amerikaanse volkslied met trots, ek neem die taal en kultuur aan as my eie, en ek moet besluit of ek volgende jaar vir Donald Trump gaan stem vir sy tweede termyn of vir die Demokraat wat teen hom gaan staan. Of miskien sal die Libertariërs uiteindelik ’n goeie kandidaat nomineer?

Amerika kry dikwels ’n slegte beeld, meestal te wyte aan Hollywood se manewales, maar dit sal ’n fout wees om 350+ miljoen mense oor een kam te skeer. Ek het ontsaglike liefde en omgee ervaar van my mede-Amerikaners.

Maar terwyl ek opgaan in Amerikaner-wees, bly my Afrikaner-wees steeds na aan my hart. Een van my Afrikanervriende wat óók ingesweer is as Amerikaner sê hy glo nie jy kan vasklou aan een identiteit terwyl jy die ander probeer aangryp nie. Hy leer selfs nie eens sy seuntjie Afrikaans nie.

Vir my voel dit soos om die baba met die spreekwoordelike badwater uit te gooi as jy iewers anders ’n landsburger word en jou gewese taal en identiteit net agter los.

Dis hoekom ek besluit het om weer langer tydperke in Suid-Afrika deur te bring, daar waar die meeste Afrikaners nog te vinde is. Ek wil die kultuur weer op ’n manier herontdek, want nou kan ek waardeer hoe kosbaar dit is – al beskou die meeste mense dit as vanselfsprekend. Let wel: Ek sê nie Suid-Afrikaanse kultuur nie, want dis nog moeiliker om te definieer. As Afrikaner- en Zoeloe- en Xhosa- en Indiër-kultuur, ens. alles deel is van Suid-Afrikaanse kultuur, is dit nie dan  soos om te sê  Duitse kultuur is eintlik maar dieselfde as  Franse kultuur nie? Dit maak mos nie sin nie, of hoe?

Steel jy iets van elke Suider-Afrikaanse kultuur as jy hulle so probeer saamroer net omdat hulle binne dieselfde kolonialistiese grense vasgevang is? Dit wil vir my so voorkom. So nou toer ek rond en asem Afrikanerkultuur in – van Aardklop tot Orania, van padstal tot tuisnywerheid, van langarmdans tot jukskei. Daar is soveel om te geniet en op trots te wees; ook heelwat om oor te grinnik en jou kop te skud.

Maar Afrikanerkultuur en -geskiedenis bly deel van my, met al die mooi én al die letsels. En ek kan met gemoedsrus aanbeveel dat alle Afrikaners – dié in die diaspora én dié op eie bodem – ook die kultuur op hul eie klein manier ondersteun. Maak gebruik van Wêreldwyd en AfriForum Netwerk se webblaaie; soek die ondernemings naby jou wat in Afrikaans diens bied en ondersteun hulle. Lys ook jou eie onderneming en help die taal en kultuur só voortleef met jou koopkrag en kliëntewerwing.

En laastens, maak tegnologie jou vriend. Daar is deesdae soveel Afrikaanse inligting aanlyn te vinde. Gaan luister op Podmedia, ’n splinternuwe, alternatiewe mediamaatskappy, na my podsending en vele ander. Raak betrokke en praat saam op Twitter. Ons hoor graag van jou.

Afrikanergroete

Dirk

Lees ook: Uit en tuis met Dirk Scheepers

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest