Leesvordering:

AfriForum by VN-forum om regeringskending van Afrikaanse taalregte in die kollig te plaas

Nov 27, 2019

Afgevaardigdes van die burgerregteorganisasie AfriForum sal vir die volgende twee dae die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland bywoon. Vanjaar se tema is “Onderwys, taal en die menseregte van minderhede”. AfriForum beoog om die regering se skending van Afrikaanssprekendes se regte by hierdie geleentheid in die kollig te plaas.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, verteenwoordig dié organisasie by die Forum. Volgens haar is dit nodig dat hierdie platform die internasionale gemeenskap inlig oor die regering se voortdurende aanslae teen Afrikaanse onderwys. Die gebrekkige beskerming wat grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSAT) en howe vir taalregte bied, en die gebrek aan politieke wil om tale hoegenaamd te probeer bevorder of ontwikkel, kan verder grootskaalse verengelsing in alle sektore veroorsaak.

“Vir AfriForum is regte op hierdie terrein, veral die reg tot moedertaalonderrig, van die allergrootste belang. Ons sien hoe die gebrek daaraan veroorsaak dat ál minder mense kwalifikasies van hoogstaande gehalte op tersiêre vlak behaal. Dit het wye nadelige gevolge op ekonomiese, maatskaplike en vele ander gebiede,” sê Bailey.

Wanneer iemand op Afrikaanse moedertaalonderrig aandring, gebruik regeringslui en ideoloë dit moedswillig om allerlei ongeldige motiewe soos die kastige teruggryp na die vorige bestel of ’n strewe na eksklusiwiteit aan Afrikaanssprekendes toe te dig. “Gemeenskappe word gepolariseer en op al meer terreine verloor mense die selfvertroue om hulle eie taal te gebruik, wat hulle net verder benadeel,” sê Bailey.

Die regering versaak alle inheemse Suid-Afrikaanse tale en die gevolg is dat mense toenemend geradbraakte Engels gebruik. “Dit veroorsaak nie net die genoemde daling van geletterdheidsvlakke in die land nie, maar ook onder meer lewensgevaarlike situasies in die werksplek of gesondheidsdienste, omdat werkers en opdraggewers, of pasiënte en medici mekaar nie behoorlik kan verstaan nie. Sodoende kom al meer menseregte in die gedrang,” voeg Bailey by.

Die VN-byeenkoms ondersoek ook beste praktyke, byvoorbeeld in die opstel van beleid om taalregte te bevorder. In dié verband het AfriForum in die veertien jaar van sy bestaan al waardevolle ervaring opgedoen wat hulle met die internasionale gemeenskap kan deel. Die forum bied verder die geleentheid om ook uit ander taalgroepe se ondervinding te leer.

Deur die saak by hierdie VN-forum in die kollig te plaas, hoop AfriForum om toenemende druk op die regering toe te pas om die regte van Afrikaanssprekendes te erken en respekteer – in die openbare en privaatsektor.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest