Leesvordering:

Solidariteit stel Werkherstelprogram van R4,7 miljard bekend

Okt 8, 2020

Solidariteit het ’n Werkherstelprogram met ’n begroting van R4,7 miljard bekendgestel. Die program gaan oor die volgende vyf jaar geïmplementeer word.

Volgens Solidariteit is die Werkherstelprogram in reaksie op die versnelling van staatsverswakking en druk op die ekonomie en werk as gevolg van die COVID-19-inperkingsregulasies. Solidariteit beskryf dit as ’n massiewe selfhelpprogram uit die gemeenskap, vir die gemeenskap. Die slagspreuk van die veldtog is: Ons sal self.

Die program word deur verskeie werk- en opleidingsinstellings van die groter Solidariteit Netwerk van Werk moontlik gemaak.

Dit sluit nuwe arbeidsverhoudingeprosesse, ’n netwerk van beroepsgildes, ’n interaktiewe werksplatform, welstandprogramme, studiehulp en omvattende opleidingsplanne in. Nuwe kampusse vir Sol-Tech en Akademia en ’n nuwe wêreldklas Afrikaanse skoolstelsel vorm alles deel van die omvattende planne.

Begrotings en strukture is heraangepas om die versnelling van planne moontlik te maak.

“Covid-19 het agteruitgang versnel, maar daar was reeds strukturele probleme voor Covid-19. Ons plan kan dus nie ’n korttermynreaksie op Covid-19 wees nie, maar werk met langtermyn strukturele probleme in die land,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

“Die Solidariteit Werkherstelprogram is die grootste opstaanprogram in die 118-jaar-bestaan van Solidariteit. Covid-19 het die regering finaal ontbloot. Ons kan nie meer op die staat staatmaak nie. Die gemeenskap moet self verantwoordelikheid neem,” het Hermann gesê.

Die Solidariteit Werkherstelprogram is gevestig op drie bene, naamlik werk, welstand en opleiding.

Solidariteit-personeel gaan heropgelei word om vir werkherstel tydens kollektiewe bedinging te onderhandel.

Solidariteit het ook bekend gemaak dat hy ’n netwerk van Gildes gaan stig. Beroepsgemeenskappe gaan help dat jongmense toegang tot beroepe verkry en gaan self verantwoordelikheid neem vir werkherstel in die beroep.

’n Nuwe interaktiewe werkplatform is ook op pad. Werk, mentorskappe, internskappe, opleiding en dienste gaan op dié platform gefasiliteer word.

Solidariteit Helpende Hand het ’n welstandbarometer ontwikkel om te help om mense op alle vlakke gesond te hou. Die Werkherstelprogram fokus dus nie net op werk nie, maar ook op die mense wat die werk verrig.

Die groot fokus van die Werkherstelprogram is opleiding. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum gaan verantwoordelikheid neem om te help om wêreldklas Afrikaanse onderwys nou en vir die toekoms te verseker.

Sol-Tech het bekend gemaak dat hulle nuwe kampus reeds in 2021 gereed gaan wees en dat die proses om koshuise te bou reeds begin het.

Akademia gaan reeds in 2021 voltydse eerstejaars op die Centurion-kampus ontvang en beplan om ’n nuwe kampus van R1,5 miljard te bou.

Die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum gaan in 2021 meer as R40 miljoen in die vorm van studiefondse uitbetaal.

Die instellings binne die groter Solidariteit Netwerk van Werk wat die program moontlik maak sluit in Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, die eiendomsmaatskappy Kanton, Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding, S-leer, Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum, SFD, die Solidariteit Boufonds en die Solidariteit Beleggingsmaatskappy.

’n Nuwe Afrikaanse lied, Ons sal self, wat deur 16 van die land se voorste sangers opgeneem is, is ook bekendgestel.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest