Leesvordering:

Die uitdagings van verhuising en emigrasie

Feb 4, 2021

Buiten die emosionele impak van verhuising en emigrasie is daar ook verskeie praktiese faktore wat uiters uitdagend is. Dié verandering kan voor die hand liggende besluite skielik baie moeilik maak. Ongeag of jou nuwe tuiste in die buiteland of net in ’n ander stad is, is daar talle aspekte van jou lewe wat skielik omvergegooi word. Hier is ’n paar dinge wat jy in ag moet neem.

Koop of huur?

Oor die algemeen is dit beter om eers ’n huis te huur voordat jy die groot finansiële besluit neem om te koop. Maak nie saak hoeveel navorsing jy doen oor die dorp of stad waar jy gaan woon nie, dit is altyd beter om eers ’n gevoel vir die plek self te kry. Dalk kom jy agter daar is beter skole in ’n ander gebied of dalk pas die geriewe in ’n ander woonarea beter by jou behoeftes. Leef eers in ’n area voordat jy ’n groot besluit neem.

Skakel in

Of jy nou emigreer of net na ’n ander stad toe trek, daar is drastiese kultuurverskille en dit is soms moeilik om by ’n nuwe gemeenskap in te skakel. ’n Mens voel oor die algemeen in ’n nuwe omgewing asof jy nie heeltemal inpas nie. Maak ’n punt daarvan om by die gemeenskap in te skakel deur plaaslike geleenthede by te woon, of leer ken jou bure deur hulle oor te nooi vir koffie. Dit beteken nie dat jy jou eie kultuur afsterf nie, maar eerder dat jy begin deel raak van ’n nuwe netwerk in ’n nuwe land of stad.

Kultuurskok

Afhangende van waarheen jy trek, kan die kultuur drastiese aanpassing verg. Dit is veral so as jy emigreer. Mense doen maar net dinge verskillend in verskillende lande. Die sisteme waaraan jy gewoond is, gaan nie altyd dieselfde wees in ’n ander land nie. Leer om aanpasbaar te wees – dit sal jou baie grys hare spaar.

Ons almal weet egter ook dat selfs Pretorianers en Kapenaars van mekaar verskil en dat mense se manier van doen iets is waarby jy moet aanpas. Besluit vooraf dat jy oop gaan wees vir ’n ander manier van doen!

Familie en verhoudings

Dit is emosioneel uiters uitputtend om te verhuis – vir al die lede van jou familie. Neem voor die tyd in ag hoe drasties die verandering vir al jou geliefdes gaan wees. Nie almal pas ewe maklik aan in ’n nuwe omgewing nie en dit kan druk op jou verhouding met jou familie of huweliksmaat plaas. Dit is uiters belangrik om goed met mekaar te kommunikeer. Laat alle lede van die gesin hulle sê sê en werklik vertel hoe dit met hulle gaan.

Werk in ’n nuwe land

Alhoewel dit na een van die eenvoudigste aanpassings klink, is ’n nuwe werk in ’n nuwe omgewing uiters uitdagend. Hoewel baie mense gewoond is daaraan om van werk te verander, is daar gewoonlik ’n mate van bekendheid met die omgewing. Met emigrasie verander alles egter. Alledaagse kultuurverskille kom ook in die werksplek voor en dit is ’n aanpassing om te leer hoe om dinge op ’n nuwe manier te doen.

Gesondheidsorg

Dit is uiters belangrik om so gou as moontlik uit te vind hoe die gesondheidsorgstelsel in ’n nuwe land of gebied werk. In sekere lande is dit byvoorbeeld beter om lid te word van ’n privaat mediese skema terwyl die openbare gesondheidsorg in ander lande uitstekend is. Doen jou navorsing voordat jy verhuis en maak seker dat jy goeie dekking het. Dit kan selfs ’n groot verskil wees as jy net van ’n stad na ’n plattelandse gebied trek. Jy sal meer gemoedsrus hê as jy weet waarheen om in ‘n noodgeval te gaan.

Om die uitdagings van emigrasie en verhuising die hoof te bied, is dit belangrik om deel te word van ’n netwerk. As jy verhuis, skakel in by plaaslike netwerke, sakekamers, AfriForum-takke of liefdadigheidsorganisasies. As jy emigreer, skakel in by netwerke soos Wêreldwyd en behou kontak met ander Suid-Afrikaners wat soortgelyke uitdagings ervaar.

LEES OOK: Emigrasie en verhuising: Maak dit maklik vir jou kinders

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest