Leesvordering:

Is jou kind ’n Besigheidsbytjie? Vyf wenke vir ouers om entrepreneurseienskappe by hul kinders aan te moedig

Mei 5, 2021

Deur Leandie Bräsler

Môre se besigheidsleiers en -stigters is vandag se kinders wie se ouers hulle met ’n entrepreneurpsige grootgemaak het. Dit is ’n toenemend belangrike vaardigheid om in vandag se samelewing te hê, veral omdat werk skaars is. Ons kan ons kinders leer om werkskeppers te wees, om selfbestuur toe te pas en dinge self gedoen te kry.

As ouer kan jy entrepreneurskap by jou kinders inspireer deur belangrike emosionele vaardighede by hulle aan te moedig, soos doeltreffende probleemoplossing, gemak met die neem van risiko’s en ’n positiewe ingesteldheid of houding teenoor mislukkings.

Volgens dr. Andrea Vazzana, ’n kliniese assistentprofessor in kinderpsigiatrie aan die New York Universiteit se Langone Child Study-sentrum, gaan dit alles oor die vorming van ’n kind se gedrag. Sosiale emosionele vaardighede is juis baie belangrik – en hoe vroeër jy jou kind kan help om hierdie vaardighede te ontwikkel, hoe beter.

Hier is vyf wenke wat ouers kan help om entrepreneurseienskappe by hul kinders aan te moedig:

Skep doeltreffende probleemoplossings. Om jou kinders voor te berei om besigheidsidees in die alledaagse lewe te vind, moet jy hul probleemoplossingsvaardighede ontwikkel terwyl hulle nog jonk is. Wanneer daar probleme in jou kind se lewe opduik, hou ’n dinkskrum en soek saam na oplossings. Help jou kind om die probleme te identifiseer, dink aan moontlike oplossings, weeg die voor- en nadele teen mekaar op en kies die beste opsie. Hoe meer dinge ouers kan identifiseer wat in die probleemoplossingstaak nodig is, dit dan te verwoord en dit daarna met hul kinders bespreek, hoe beter sal dit vir die kinders wees.

Help kinders om uit hul foute en mislukking te leer. As ouer beïnvloed jy jou kind se bereidwilligheid om iets te probeer, om te misluk, om daaruit te leer en om wéér te probeer – ’n noodsaaklike vaardigheid vir entrepreneurs. Om dit te kan doen, moet jy kritiek as ’n leergeleentheid voorstel deur jou kinders te help om dié vaardigheid te oefen en ’n dinkskrum te hou oor wat hulle volgende keer anders kan doen. Dit staan as opbouende kritiek bekend. Wanneer jy voorstelle maak oor hoe en waar jou kinders kan verbeter, is dit belangrik om hulle ook lof toe te swaai: Gee eers komplimente en positiewe terugvoer, lewer daarna kritiek en eindig dan weer met komplimente en positiewe terugvoer. Dit word die “terugvoertoebroodjie” genoem. Vazanna sê dat die terugvoertoebroodjie juis help dat kinders nie voel dat hulle te hard gekritiseer word nie. Hulle kan op dié wyse ’n positiewe boodskap saam met hulle vat en iets daaruit leer.

Laat kinders toe om besluite te neem. ’n Entrepreneur se selfversekerde besluite is gewortel in vroeë onafhanklikheid. Wanneer kinders nog kleuters is, kan jy hulle byvoorbeeld laat kies of hulle óf spinasie, óf wortels saam met hul aandete wil eet, of jy kan hulle toelaat om hul eie uitrustings vir die dag te kies. Jy stel hulle dus bloot aan hoe dit voel om ’n besluit te neem; jy help hulle ook om goed te voel dat hulle daartoe in staat is om besluite te maak, hoe klein dit ook al mag wees. Wanneer kinders nog jonk is, moet jy dié keuses tot twee of drie beperk. Kinders kan maklik oorweldig voel wanneer hulle te veel keuses moet maak of te veel opsies het. Namate hulle ouer word, kan hulle groter besluite begin neem.

Bevorder ’n gevoel van bemeestering. Entrepreneurs moet dikwels groot risiko’s neem en dit sluit onsekerheid in. Ommet onsekerheid gemaklik te wees, gebeur egter nie oornag nie. Kinders het vryheid nodig om hul grense te toets en hul vrese te oorwin terwyl hulle nog jonk is. Wanneer ’n situasie met risiko’s jou kind in die gesig staar, kan jy hulle eers help en daarna die oorskakeling maak dat hulle situasies onafhanklik moet hanteer. Take moet geleidelik moeiliker raak. Dit gee aan kinders die gevoel dat hulle iets bemeester. Deur hulle te help om te slaag, bemagtig jy hulle om gemaklik te voel deur risiko’s te neem.

Leer hulle konstruktiewe wyses waarop die bestaande toestand (die status quo) uitgedaag kan word. Kinders word dikwels geleer om die reëls blindelings te volg – ’n gewoonte wat entrepreneurskap belemmer. Leer jou kinders eerder om bestaande norme konstruktief uit te daag deur hulself rasionaal uit te druk. Vra: “Wat dink jy moet verander, en hoekom? Wat stel jy eerder voor?” Dit is baie belangrik om te onthou dat jy as ouer ook die leiding bied deur self die voorbeeld te wees. Die wyse waarop ouers met mekaar en met hul kinders praat, stel die gedrag voor wat kinders sien en ook self volg. Jou gedrag sal jou kinders help verstaan hoe om norme diplomaties te bevraagteken en wanneer om bloot die reëls te volg.

Het jy familie of vriende met kinders wat in Suid-Afrika woon? Moedig hulle aan om hul kinders se entrepreneursvaardighede te ontwikkel deur aan AfriForum se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie deel te neem. Dié kompetisie word aanlyn aangebied en alle kinders van graad 1 tot graad 12 kan vanaf 13 April tot 5 Oktober 2021 inskryf. Besoek gerus www.besigheidsbytjies.co.za vir meer inligting oor die kompetisie. Daar is groot pryse op die spel!

Meer oor die outeur

Leandie Bräsler

Leandie Bräsler is bestuurder van junior leierskapontwikkeling by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest