Leesvordering:

Die heel belangrikste bouprojek

Jan 9, 2022

Dit is nie vir almal ’n ding nie.

Maar vir baie mense is die begin van ’n nuwe jaar die geleentheid om verwysingsraamwerke en oortuigings op die skaal te plaas en van voor af te weeg. 

Om jou eie aandeel aan die suksesse en die “teachable moments” van die vorige jaar objektief en sonder verskonings in ag te neem.

Om jou eie begin-van-die-jaar- en einde-van-die-jaar-self in die spieël van die Woord staan te maak en die goggas of die groei raak te sien.

Soveel beginne.

Soveel eindes.

Soveel sê-nou-maars.

Soveel wat-het-my-besiel’e.

En die een gemeenskaplike deler in elke moontlike situasie – tensy jy jouself alleen op ’n verlate eiland bevind het die afgelope 12 maande – is … mense.

Tim Keller meen die een onteenseglike karaktertrek van ‘n groeiende Christen is ’n sagte gees. 

“Gentleness”.

Ai.

Hoeveel keer hierdie laaste 365 dae het my growwe kante se ongeduldige verbyskuur in die drukgang van hierdie lewe die nerwe van my naaste naastes laat bloei?

En as ’n mens diep, dieper – nee, nóg dieper gaan grou, dan maak die volgende stelling dalk uiteindelik sin:  Die teenoorgestelde van liefde is nie noodwendig haat nie, maar vrees.

Dit is nie haat wat my jou kop laat afbyt nie.

Dit is die vrees dat jy reg is.

Dit is nie haat wat my driftig met jou keuses laat verskil nie.

Dit is die vrees dat ek nie genoeg sal kan doen om jou te red van die gevolge daarvan nie.

Dit is nie haat wat my verhoed om gehaltetyd saam met jou deur te bring nie.

Dit is die vrees dat ek die feilbaarheid van my liefde sal ontdek.

In die tyd van Haggai het die volk die kans gekry om die tempel van die Here weer van voor af op te rig en te bou. Maar hul eie stryd om oorlewing het hulle nie juis entoesiasties gemaak daaroor nie. Buitendien, hulle kon net nie sien dat hulle ooit die perfeksie van die oorspronklike Huis van die Here kon herhaal nie.

En hulle raak moeg.

Vrees vir mislukking verlam hulle.

Maar dan bring die profeet hierdie bemoedigende woord:

“Haggai then told them that the Lord had promised to be with them.

So the Lord God All-Powerful made everyone eager to work on His temple …”

Haggai 1:13 CEV

My maatemmer is gereeld soggens maar legerig wanneer ek nog slaapoog voor die Here gaan kniel.

Maar dank die Vader, ek hoef nie leeg daar weg te stap nie!

Solank ek bly kom na die fontein, dag ná dag ná dag,

sál Hy my daar ontmoet,

sal Hy daagliks my vrees verruil vir Sy verstaan dat alles nie altyd verstaan hóéf te word nie.

Solank ek bly glo dat Hy my liefhet ten spyte van die uitgrawings en verbouings en aanbouings wat op die ewige konstruksieterrein van my hart aangaan, hoef ek geen vrees te hê om Hom die vrot pype te wys nie. 

Daardie dele wat nog net reg is vir platslaan, is juis die dele van myself wat Hom opgewonde maak!

Jou inspirasie vir die week: Arrows

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest