Leesvordering:

Ses redes waarom jy bande moet smee met Suid-Afrikaners, selfs in jou nuwe gasheerland

Jan 19, 2022

Deur Hendrika Jooste

Ons het dit al dikwels gehoor: “Ek wil met die plaaslike mense meng, nie met Suid-Afrikaners nie.” Daar is so baie Suid-Afrikaners wat so redeneer. Integrasie is baie belangrik, maar dit is dalk verrassend om te weet dat onlangse navorsing toon dat emigrante met ’n gemengde vriendegroep – sommige van die land waar hulle vandaan kom en sommige van hul nuwe land – minder spanning tydens emigrasie ervaar en dit baie makliker vind om hul voete in ’n nuwe land te vind.

Ons word in ’n spesifieke gemeenskap gebore en is dus ten volle verbind aan ander. Sonder verbintenis kan ons nie oorleef nie. Dit is in ons DNA om te behoort. – Radha Agrawal

Baie mense weet van die voordele daarvan om deel te word van die plaaslike kultuur, maar wat is die voordele om naby aan jou landsgenote te wees?

Begin vroeg werk aan verhoudings

Daar is deesdae baie maniere om kontak te bewerkstellig met mekaar in die tye waarin ons leef. Baie van ons het reeds kennisse, vriende of familie wat oorsee woon. Indien dit nie die geval is nie, is daar baie sosialemediagroepe waar jy kan inskakel om dié belangrike menslike verbintenisse te begin vestig.

Wetende dat ek na Australië sou verhuis, was dit vir my ’n prioriteit dat my tiener Christelike vriende maak. Ek het op Google gaan soek na “Reformed” of “Presbyterian” kerke in Melbourne. Ek het ’n gemeente opgespoor met ’n Suid-Afrikaanse pastoor en met hom en sy vrou begin gesels. Op hul beurt het hulle my verwys na ander Suid-Afrikaners met kinders van dieselfde ouderdom as my tieners, sowel as na watter skole hul kinders gaan, wat dit baie makliker gemaak het om ’n skool in die nabygeleë voorstede te vind.

’n Mens kan ook van ander maniere gebruik maak. Oorweeg internasionale organisasies soos  “Scouts and Guides”. Een van ons lesers het haar kinders ingeskryf lank voordat hulle geëmigreer het. Met hul aankoms in Australië het sy en haar kinders baie ondersteuning ontvang en kon hulle sonder moeite vriende maak. Hul nuwe “Scout”-familie het hulle dadelik ondersteun.  

Ses redes waarom ’n Suid-Afrikaanse ondersteuningsnetwerk belangrik is

1. Jy vind makliker jou voete

Toe ons in Australië aangekom het, het ons nuwe gemeentelede vir ons tydelike meubels geleen terwyl ons gewag het dat ons skeepsvraghouer opdaag. Ons het ’n broodrooster, mikrogolfoond en eetgerei gehad en dit het ons ’n hoop geld gespaar. Ons nuwe vriende het vir ons tiener skooluniforms gegee, asook ’n baadjie en trui. Ons moes net twee hemde en skoolskoene aanskaf. Sy het van die eerste dag af vriende gehad en haarself vining in haar nuwe skoolomgewing gevestig.

As hervestigingsagent het Robyn Vogels (sy is nou my sakevennoot) ons gehelp om ’n huureiendom te kry wat ons sak gepas het en ons behoeftes in ag geneem het. As ’n Suid-Afrikaner het sy geweet waarna Suid-Afrikaners kyk voordat hulle op ’n eiendom besluit. Die proses was baie maklik, selfs al het ons ’n troeteldier gehad.

Ons eerste Kersfees in Australië was ’n vreugdevolle gebeurtenis. Ons het dit saam met ons nuwe Suid-Afrikaanse vriende gevier, wat tradisionele Suid-Afrikaanse geregte bedien het (vir diegene wat huis toe verlang het), maar ons ook laat kennis maak het met die tradisionele Australiese Kersdisse. Ons het baie mooi herinneringe van daardie eerste paar maande in ons nuwe land.

2. Wanneer dinge rof raak, het jy jou eie mense om jou nodig wat verstaan

Ons almal weet dat die lewe nie ’n strandpartytjie is nie. Onvoorsiene dinge kom soms oor jou pad en dit is juis dan wanneer jy jou Suid-Afrikaanse vriende die nodigste het. Hier is ’n paar voorbeelde:

  1. Familielede in Suid-Afrika sterf, maar jy is nie finansieel in staat om terug te vlieg vir elke begrafnis nie. Mede-migrante verstaan die gegriefdheid, gemengde gevoelens en hartseer. Hulle verstaan jou situasie beter as vriende van die nuwe land waarin jy jou bevind.

2. Jy trek na ’n ander huis toe en jy het hulp nodig met die swaar Suid-Afrikaanse meubels.

3. Jy is beseer en jou vriende help jou met kosmaak en ander take.

4. Jy het emosionele ondersteuning nodig en dis moeilik om jou gevoelens en emosies in Engels te verwoord aan ’n terapeut. ’n Goeie vriend wat bereid is om te luister, en dieselfde taal as jy praat, is soms al wat jy nodig het.

5. As jy ’n taal- of kultuurflater begaan het by die werk of terwyl jy inkopies gedoen het, is dit net soveel beter as jy dit met een van jou Suid-Afrikaanse vriende kan deel. Om te kan lag help baie met die integrasieproses.

6. Jy het ’n klankbord nodig om te gesels oor spesifieke Suid-Afrikaanse dilemmas, soos die veiligheid van jou familie wat in Suid-Afrika agtergebly het, die verval van infrastruktuur en versorging van bejaarde ouers. Jou vriende in die nuwe land gaan nie verstaan waardeur jy gaan nie, want hulle verstaan nie die Suid-Afrikaanse kuturele agtergrond nie en hul raad gaan dus nie veel beteken nie.

3. Amptelike verwysings en karaktergetuies

Wanneer jy in jou nuwe land aansoek doen om burgerskap, vereis die meeste lande handtekeninge en beëdigde verklarings van mense wat jou sedert jou aankoms ken. Suid-Afrikaners wat jou reeds ken voordat jy in die land aangekom het, sal tot jou voordeel wees tydens hierdie proses. ’n Suid-Afrikaanse rekenmeester wat twee jaar gelede Australië toe verhuis het, het onlangs ’n karaktergetuienis nodig gehad van mense buite haar werksirkel tydens ’n regsgeding rondom bedrogverwante aktiwiteite wat sy tydens die uitvoering van haar pligte ontdek het. In sulke gevalle het jy vriende nodig wat nie verwant is aan jou nie en nie tans saam met jou werk nie.

Dit geld ook vir wettige voogde vir jou kinders terwyl jy in die nuwe land is. Tot ons kind 18 jaar oud was, het ons in elke land waar ons gewoon het, ons testament verander sodat van ons Suid-Afrikaanse vriende as haar voog sou kon optree as iets dalk met ons albei gebeur het. Dit moet mense wees wat jou kinders se kultuuragtergrond en taal verstaan (as dit nie Engels is nie).

4. Om die rol van grootouers en oppassers te vervul

Met Covid-19 en die wêreld wat afgesny was van vriende en familie, het dit duidelik geword hoe belangrik dit is om konneksies met ander Suid-Afrikaners te hê. Ek en my man vervul die rol van grootouers vir ’n paar jong Suid-Afrikaanse kinders. Ons bederf hulle met uitstappies, gee drukkies en soentjies, lees stories (in Afrikaans) en vee traantjies af as hulle na hul regte oupa en ouma verlang. Ons ondersteun ook die ouers wat nie meer weet watter kant toe met die inperkings nie, en die feit dat hulle húl ouers mis wat nie kan kom kuier soos wat hulle beplan het voordat hulle emigreer het nie.

Vriende van jou nuwe land verstaan nie jou situasie nie. Daarenteen is jou mede-Suid-Afrikaners en migrantvriende in dieselfde bootjie. Hulle verstaan beter hoe moeilik dit is om nie naby ’n geliefde te kan wees wat terminaal siek is nie, of om nie in staat te wees om ’n begrafnis by te woon nie. Zoom-begrafnisse is aaklig en dit gee ’n mens nie die afsluiting wat jy nodig het nie. Mense wat nie in dieselfde situasie as jy is nie, verstaan nie jou verlies en hartseer nie.

Ek was ’n paar weke gelede by ’n mediese sentrum en terwyl ek gesit en wag het, het die ontvangsdame met my gesels en vertel hoe moeilik die inperkings vir haar was. Haar ma woon in Victoria en sy het haar weke laas gesien. Uiteindelik vra sy my toe hoe dit met my gaan. Ek het haar vertel dat my ma in Suid-Afrika woon, dat ek haar vir twee jaar nie gesien het nie en dat ek haar 80ste verjaarsdagvieringe ‘n paar weke later sou mis. Haar lomp, mompelende antwoord en stilte daarna het duidelik gewys dat sy maar afsydig staan oor die situasie waarin migrante hulself bevind.

5. Op soek na werk

In Australië, net soos in die VSA, Kanada, die VK en Nieu-Seeland, is geleenthede in die arbeidsmark nie altyd geredelik sigbaar nie. Dit sal help as jy LinkedIn gebruik om kontak te maak met mede-Suid-Afrikaners wat reeds by ondernemings werk waarin jy belangstel. Dit is noodsaaklik om kontak te hê met mense met soortgelyke beroepsrigtings as jy, wat begrip het vir jou situasie.

Sakenetwerkgroepe op sosiale media, soos ’n Suid-Afrikaanse sakenetwerk of groep vir migrantsakevroue kan van groot hulp wees. Daar sal jy elke maand rekenmeesters, ingenieurs of eienaars van klein ondernemings ontmoet wat ook geëmigreer het. Julle kan in ’n sosiale omgewing saam kuier en netwerke vorm. Hierdie groepe deel ook beskikbare werksgeleenthede voordat dit op openbare webtuistes geadverteer word. Hulle kan jou ook bystaan met uiteenlopende wenke en raad oor hoe om werk te kry en jou in die regte rigting stuur. Sodoende spaar jy baie tyd en onnodige moeite.

6. Die erfenis van jou geboorteland, ’n vlaag vreugde

Daar is bitter min dinge wat ’n mens so goed laat voel soos wanneer jy ’n Suid-Afrikaanse kultuurgeleentheid bywoon, of dit nou ’n kunstenaar of komediant is wat in jou nuwe land optree, of ’n Suid-Afrikaanse kamp of basaar.

Jy sing uit volle bors saam met Steve Hofmeyr wanneer hy “Die Blou Bul” begin sing, selfs al is jy nie ’n Blou Bul-ondersteuner nie, jy lag saam met Trevor Noah oor sy grappies en jy sokkie tot die vroeë oggendure want dit maak jou emosionele (erfenis) tenkie vol. Jy eet vetkoeke, samoesas en koeksisters, jy braai boerewors en eet nageregte soos malvapoeding of melktert.

Jy vertel grappies en praat jou huistaal, en vir ’n paar ure is jy weer heeltemal jouself en voel jy tuis. Hierdie geleenthede is noodsaaklik vir ouers, maar dit help ook die jonger generasie om deel te voel van hul geboorteland se erfenis en tradisies. Dit is hul kulturele skakel met hul grootouers en niggies en nefies by die huis. Tydens sulke geleenthede kry ’n mens ’n ordentlike dosis van die natuurlike breinchemikalieë wat ’n mens so broodnodig het: dopamien, oksitosien, serotonien en endorfiene.

Soos alles in die lewe, gaan alles oor balans. Om ’n suksesvolle immigrasie- en integrasiereis te verseker, het jy vriende nodig wat jou Suid-Afrikaanse erfenis met jou deel sowel as vriende van die nuwe land waar jy jou vestig. Moenie probeer om ’n “klein Suid-Afrika” in jou nuwe land te maak nie, maar moenie al jou kulturele brûe verbrand nie. ’n Boom kan nie sonder sy wortels groei nie.

Foto: dim-hou-unsplash

Meer oor die outeur

Hendrika Jooste

Kontak Hendrika Jooste – The Migrant Whisperer, by www.facebook.com/themigrantwhisperer of besoek haar webtuiste by www.migrantwhisperer.com.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest