Leesvordering:

Belangrike vrae voor jy emigreer

Jun 23, 2016

Vir diegene wat steeds kniediep in die emigrasieproses is of nog besluit of hulle landuit wil trek, is daar belangrike vrae wat gevra moet word voor die groot skuif. Ons sal natuurlik nie almal dieselfde antwoorde op hierdie vrae hê nie, en die onus lê dus daarop om die regte besluite vir jou en jou gesin te neem. Daar is verskeie maniere hoe jy hierdie emigrasiereus kan takel, maar eers moet jy besluit of dit die regte skuif vir jou is.

Die emigrasie-taaklys – kom ons vra die regte vrae

Waarom wil jy trek?

Eerstens (en mees belangrik), waarom wil jy landuit trek? Dis die belangrikste vraag om jouself af te vra voor jy wegvaar op jou nuwe avontuur.

Vrees jy vir jou gesin – dryf die misdaad jou na vreemde oewers? Skuif jy om vir jou gesin ‘n beter lewe te bied – en indien wel, is jy realisties oor die realiteite van jou nuwe wêreld? Sal hierdie nuwe tuiste aan jou behoeftes voldoen en opmeet teen die positiewe aspekte van jou huidige situasie? Inderdaad, maak seker dat jy ‘n volledige lysie van voordele en nadele tussen die twee lande optrek ten einde ‘n nugter besluit te kan neem.

Na watter land wil jy trek?

Sodra die besluit geneem is om oorsee te skuif, is die tweede vraag natuurlik waarheen. Het jy familie en vriende wat jou inwag in jou nuwe tuiste? Het jy reeds ‘n prentjie van jou nuwe huis in jou kop? Is jy seker waar jy gaan inpas? Hoewel meeste mense reeds weet waarheen hulle wil verhuis, is daar tog ‘n paar van ons wat nie juis seker is watter land ons die beste gaan pas nie.

Indien jy in hierdie kategorie pas, is sorgvuldige navorsing die antwoord. Kyk na die skole, kerke, inkopiesentrums, taal en kultuur. Sluit aan by landverhuiser-forums aanlyn en sien wat ander oor die land te sê het – dit sal jou help om die regte besluit te neem.

Kwalifiseer jy vir immigrasie?

Dis belangrik om die visum en immigrasiereëls na te gaan voor jy jou werk bedank en die hele familie ontwrig. Die feit bly staan, jy moet jou ouderdom, kwalifikasies sowel as jou eie en die gesondheid van jou gesin in ag neem. Het jy reeds ‘n werk? Is daar iemand wat vir jou borg staan? Beoog jy om ander familielede in ‘n latere stadium oor te bring en, indien wel, sal hulle kwalifiseer vir immigrasie?

Te veel mense oorweeg nie hierdie reëls en regulasies nie, so dis belangrik om al hierdie faktore op te weeg.

Is jou familie psigies en verstandelik voorberei?

Noudat jy besluit het, is dit belangrik om objektief na jou familie te kyk en vas te stel hoe hulle die skuif gaan hanteer. Gaan hulle dit baasraak – en gaan jou eie spanningsvlakke en manier wat jy teenspoed hanteer, hul help om hierdie enorme skuif te aanvaar, of gaan jy hul probleme vererger? Dink aan die verskillende maniere wat elkeen van julle verandering hanteer en hoe julle mekaar se spanning en trauma verwerk. Sommige van ons wil alles summier opknap, party van ons wil weghardloop, party raak obsessief en kompulsief ten einde die situasie te beheer en ander raak weer aggressief of apaties. Die ding is, aangesien elkeen van julle die situasie op ‘n indivduele vlak gaan hanteer, sal jou beplanning reg moet wees en jy jouself, asook jou geliefdes, moet voorberei vir die pad vorentoe. Jy kan selfs oorweeg om ʼn terapeut in te span, ten minste in die kort termyn, om julle met die groot skuif te help.

Sal jou geliefdes wat agterbly die skuif kan hanteer?

Het jy die impak van jou skuif op jou geliefdes wat agterbly oorweeg?

Jy moet verstaan dat haat, hartseer of gebelgdheid dalk jou voorland kan wees. Sommige vriende mag selfs hulle verbinding met jou permanent staak. Hoewel jou skuif dalk die beste besluit vir jou is, mag jou geliefdes dalk verworpe of verlate voel.

Jy mag dus gedurende en ná jou trek oorlaai voel met die addisionele spanning as jy gebroke verhoudings probeer bestuur. Jy moet dink hoe jy hierdie situasie gaan hanteer en of hierdie verhoudings die opoffering werd is. Indien wel moet jy onthou om gereelde tye te skeduleer om met jou geliefdes kontak te maak en op te vang om die verhoudings gesond en aan die gang te hou.

Gaan jy jou besittings verskeep of nuut koop?

‘n Gereelde vraag op uitlander-forums is of jy jou besittings oorsee moet verskeep of nuwe besittings moet koop.

Hoewel verpakking en verskeping dalk soos ‘n enorme taak klink, moet jy in ag neem dat hierdie selfde besittings jou ‘n arm en ‘n been kan kos in die vreemde. Doen maar die sommetjies en stel vas hoeveel toebehore en meubels in die nuwe land kos voordat jy jou besittings in Suid-Afrika verkoop. Jy moet jouself ook afvra of jy op ander se welwillendheid kan staatmaak om jou ‘n hupstoot te gee. Dis dalk nie iets wat jy graag wil doen nie, maar talle nuwe immigrante moet op tydelike/leen-meubels en toebehore staatmaak gedurende die eerste paar maande in die buiteland.

Gaan jy huur of koop?

Dieselfde reël geld vir jou behuising – navorsing, navorsing, navorsing. Suid-Afrika mag dalk sy foute hê, maar in werklikheid is ons bestaanskostes veel goedkoper as verskeie ander lande. Behuising, byvoorbeeld, gaan jou duurder kos en jou ‘n veel kleiner huisie kry in lande soos Nieu-Seeland, Australië en die VK.

Jy moet dit dalk oorweeg om in ʼn kleiner plekkie in te trek of te huur in plaas van koop. Dis natuurlik nie die einde van die wêreld nie – maar loop maar oop oë in jou nuwe omgewing in.

Wat gebeur met jou troeteldiere?

Ah, vir sommige van ons is hulle weliswaar ons “tweede” kinders. Ons praat natuurlik van ons troeteldiere.

Het jy al jou troeteldiere se toekoms oorweeg, nou dat jy besluit het om te emigreer? Die eerste ding wat jy jouself moet afvra is of jy hulle wil agterlaat of saamneem.

Indien jy hulle wil agterlaat, het jy reeds ‘n nuwe huis vir hulle? Gaan hulle veilig wees? Gaan hulle betyds nuwe tuistes kry? Natuurlik wil jy hulle nie haweloos laat nie – maak dus seker dat jou wollerige vriende versorg is. Indien jy hulle egter wil saamneem, moet jy eerstens uitvind of jou nuwe land dit sal toelaat – onthou dat sekere diere nie in ander lande toegelaat word nie.

Indien jou diere die groot tog mag meemaak, moet jy seker maak dat jy dit kan bekostig en die regte roete vir hul emigrasie gevolg het.

Gaan jy daar bly, weer trek, of terugkeer na Suid-Afrika?

Vir verskeie mense is emigrasie maar ‘n tydelike ding – hulle wil die wêreld sien, bietjie geld maak en dan weer aanbeweeg as die tyd reg is.

Jou besluite en metodiek vir jou skuif sal afhang van die beplande termyn wat jy in die nuwe land gaan bly. Dit sal onder meer bepaal hoe jy jou finansies handhaaf. Dink, byvoorbeeld, of jy jou pensioen wil laat oorplaas of vir finansiële-emigrasie wil aansoek doen. Moet jy jou huis verkoop, jou polisse oorplaas of eienaarskap van hierdie polisse oordra? Oorweeg hierdie dinge en bepaal watter besluite jou in die lang termyn gaan baat.

Is jy finansieel stabiel om die korttermynnadele te oorkom?

Emigrasie is sonder twyfel ‘n duur affêre. Ons het reeds oor jou troeteldiere, besittings en behuising gepraat – so vra jouself af of jy kan deurkom met die minimum terwyl die stof gaan lê?

Gaan jy gelukkig wees met minder? Het jy mense wat jou kan ondersteun in die eerste jaar of twee of het jy dalk ‘n spaarvarkie wat jou kop voorlopig bo water sal hou? Hierdie is alles belangrike vrae voor jy finaal verhuis.

Is jou finansies in Suid-Afrika afgehandel?

Vir talle Suid-Afrikaners wat landuit trek, is finansies in hul ou tuiste nie juis ‘n bekommernis nie. Maar daar is belangrike dinge wat jy in ag moet neem as jy oorsee verhuis. Byvoorbeeld – het jy geweet dat jy nie jou Suid-Afrikaanse kredietkaart oorsee mag gebruik as jy geëmigreer het nie (en dat jou bank jou tien-teen-een nie daarvan in kennis gaan stel nie)?

Het jy boonop geweet dat jy voordeel kan trek uit Dubbelbelastingooreenkomste of pensioenaansporingskemas in jou nuwe tuiste (ja, jy kan selfs geld terugkry)? Weet jy wat die jaarlikse oorplasingslimiete is? Is jou belastingrekord skoon? Het jy al ʼn nuwe bankrekening oorsee? Moet jy vir finansiële emigrasie aansoek doen?

Alles belangrike vrae – en iets waarmee cashkows.com jou kan help!

Is jy voorbereid vir die taalkundige en kulturele veranderinge?

Ongeag jou bestemming, jou nuwe land sal beswaarlik soos Suid-Afrika wees. Eerstens, tensy jy binne Suider-Afrika hervestig, is die kanse goed dat die mense nie jou moedertaal of sekondêre taal gaan praat nie.

Die kultuur sal boonop soos dag en nag verskil. Daar sal ander maniere wees om dinge te doen – mense sal geregte anders voorberei, anders sosialiseer, aan sport deelneem en godsdienstig verkeer. Aanvaar maar dat die lewe gaan anders wees en berei jouself voor deur sorgvuldige navorsing. Vestig jouself in hierdie nuwe kultuur en geniet elke ervaring. Die moeilikste deel hiervan gaan wees om jou eie angste te aanvaar en uit jou gemaksone te tree. Dit beteken natuurlik nie dat jy jou waardes en behoeftes moet opgee nie – slegs dat jy beter gaan vaar as jy jouself toelaat om die nuwe kultuur te ervaar.

Daar het jy dit – van die belangrikste vrae wat jy moet vra voor jy trek. Ons hoop die nuwe lewe bied jou talle avonture.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest