Leesvordering:

Die inweeg vir die groot geveg 

Jan 23, 2023

Die burgemeester van Nice het sy amptelike Rolls Royces beskikbaar gestel vir die boksers en hulle afrigtingspanne. Die idee was dat hulle langs die see op die pragtige kuspad moes afry om die geveg bekend te maak. Maar die Spinks-groep het nie geweet of nie belanggestel nie en die Coetzee-mense het toe amper elkeen ’n Rolls met ’n bestuurder tot hulle beskikking gehad. Ek sal nooit vergeet dat die Franse plakkate wat op die Rolls Royces en elders was, na “Gerry Coetz” verwys het nie.

Ons het by die inweegseremonie ingestap en niemand het ons gevra wie ons is, of waar ons akkreditasie of paspoorte is nie. Dink jy dit sal vandag gebeur? Gerrie se afrigter was toe nog sy pa en sy amateurafrigter. Gerrie het nie eens sy hemp uitgetrek toe hy op die skaal geklim het nie en sy hele houding was vooroor gebuig, amper inmekaargetrek. Hy het beslis nie gelyk of hy baie selfvertroue gehad het nie. Ek het gesien die Amerikaners knipoog vir mekaar. Hulle het duidelik gedink die outjie gaan ’n “pushover” wees. Ken Norton, die beroemde swaargewig wat drie keer teen Muhammad Ali baklei het en sy kakebeen gebreek het, het langs my gestaan. Hy het NBC of CBS, een van die Amerikaanse televisienetwerke verteenwoordig. Norton was vriendelik en welsprekend en het belanggestel in Suid-Afrika. 

Kort en kragtig 

Die geveg was so beplan dat dit ná middernag in Suid Afrika sou plaasvind, wat elfuur die Sondagaand in Monaco was. Ons het vroeg die aand weggespring van Nice af, waar ons tuisgegaan het, en toe nog twee jong rylopers opgetel op pad na die geveg toe. Hoe op aarde het ons almal in die klein karretjie ingepas? Ons het egter lekker gesels, en die man het vertel dat hy in die handelsvloot was, maar dat hy ernstig siek geword het en in ’n hospitaal in Kaapstad opgeëindig het. Hy moes lank daar bly en is gelukkig suksesvol behandel. Hy was so dankbaar vir die manier waarop hy in Suid Afrika behandel is, dat hy besluit het om die Suid-Afrikaanse kampioen te kom ondersteun. Ons het by die stadion aangekom ’n hele ruk voor die geveg en het gestaan en gesels met ander Suid-Afrikaners, toe Jody Schekter ook daar aangekom het. Ons moes almal opstaan toe Prince Rainier, die heerser van Monaco, net voor die groot geveg daar aankom. Ons het baie goeie sitplekke gehad en toe die groot oomblik aanbreek kon ons hoor hoe Spinks se hoek vir hom skree: “Make it an early night, Leon.” Spinks het onmiddellik vorentoe gestorm, en dit was ideaal vir Coetzee wat ’n “counterpuncher” was. Gerrie was ’n paar keer teen die toue gedruk deur Spinks se aanhoudende en wilde aanslag, maar hy het die meeste van die houe met sy arms afgeweer en op sy tone bly beweeg en self gemis met twee wilde haakhoue. Daarna het Gerrie sy “oog” ingekry en met lang reguitlinkers begin tref en toe opgevolg met harde regters. Toe Spinks die eerste keer platgeslaan word, was dit amper onverwags, dit het eers gelyk of hy gestruikel het, maar dit was duidelik dat hy in groot moeilikheid was toe hy op sy knieë val. Nog ’n harde regter het Spinks in die hoek laat val. Nou was hy duidelik wankelrig. Die volgende harde sarsie het Spinks amper dwarsdeur die toue van die kryt gestuur. Die geveg was binne minder as drie minute verby en pandemonium het losgebreek. Een opgewonde entoesias, sekerlik ’n Suid-Afrikaner, het by ons verbygestorm om vir Gerrie in die kryt te gaan gelukwens, maar hy het onwetend te naby aan Prins Rainier gekom. Die sekuriteitswagte het hom soos blits gegryp en sonder ’n woord uit die stadion uitgedra, al was hy self ’n groot ou. Die arme man wou net sy held gelukwens. Ons is almal na die straatkafees toe in Nice, waar ons dwarsdeur die nag gekuier het om Gerrie se groot oorwinning te vier.

Groete

Pieter

Links bo: Ek en Jody Scheckter
Links onder: Ek saam met Gerrie en Esther van Rooyen
Regs bo: Ek en Ken Norton
Regs onder: Ken Norton teken iets vir Wilf Rosenburgh, eertydse Springboksenter

Skryf vir ons

Het jy ‘n interessante staaltjie om te deel? Skryf vir ons en vertel ons! Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za 

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest