Deur Ilze Nieuwoudt
In die noorde van Pretoria troon ’n wonderlike én uitsonderlike wildevy uit aan die voetheuwels van die Magaliesberg net oos van die Apiesrivier. Dié boom staan geslagte lank reeds bekend as die Wonderboom en is na raming tussen 900 en 1 000 jaar oud. Die boom is ’n nasionale monument en is reeds honderde jare lank ’n baken in die gebied. Volgens oorlewering het plaaslike inwoners die boom as heilig beskou en ’n legende beweer selfs dat ’n opperhoof in die skadu van die Wonderboom begrawe is. Nagenoeg 1 000 mense kon blykbaar jare gelede in die skadu van dié boom byeenkom, maar ’n brand wat in 1870 uitgebreek het en ’n latere parasietinfestasie het die Wonderboom so byna gekniehalter en die grootte aansienlik verminder. Voortrekkers het die boom in 1836 ontdek en dit dikwels as ’n rusplek op hul roetes gebruik. Die boomgroep (wat soms ’n familie van bome genoem word) het oorspronklik uit een boom ontstaan, maar nuwe “dogterbome” het deur die jare wortel geskiet waar die lang takke aan die grond raak. Die groep bome beslaan tans ’n gebied met ’n deursnee van meer as 55 m. In haar boek “In the land of misfortune” wat in 1882 gepubliseer is, skryf die Skotse skrywer en oorlogskorrespondent lady Florence Dixie soos volg oor haar besoek aan die “Wonderful Tree”:
“The ride through the pass was exceedingly grand, the gaunt rocky heights overlooking us on either side like two defying demons about to fall and crush us with their massive weight. Trees and ferns grew everywhere luxuriantly, and the gurgling of the river over its rocky bed was a pleasant and soothing sound, which added to the charm of an impressive, and awe-inspiring scene. But one of the principal sights which we were bent on seeing that day was the great Wonderboom or Wonder Tree, which had grown and extended to such a size as to give this appellation. Under this canopy several hundred people, it was said, could find shelter, and when we treaded the pass [… there] arose the tree, with its heavy massive foliage […] looking like some huge giant amidst the comparatively dwarf vegetation that surrounded it.”