Leesvordering:

Gebed is soveel meer …

Feb 16, 2017

Inleiding
Vir meer as drie jaar reeds het ek die voorreg om Suid Afrikaners wêreldwyd week na week via die internet te kan bedien met die Woord van God. Die materiaal in hierdie boek is die stof van veertien weke se boodskappe wat ek deur God se genadewerk met hulle kon deel.
My gebed is dat dit ook vir jou sal seën soos dit hulle geseën het. – Christo Nel

HOOFSTUK 1 Gebed is vra, soek en klop

Lukas 11: 9,10 sê: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

Gebed is om te vra. Gebed is om te soek. Gebed is om te klop.

Gebed is soveel meer as wat ek ooit gedink het. Ek het my vir soveel jare vasgekyk en vasgedink binne die boksies van my teologiese tradisie en die mense waaronder ek groot geword het. Niemand het my ooit vertel dat gebed soms lang tye van stilte kan wees nie. Waar ek so bewus raak van die grootheid en heerlikheid van die God in wie se teenwoordigheid ek is, dat ek nie meer woorde het nie … Waar woorde eintlik oorbodig raak. Niemand het my ooit vertel dat ek oop oë kan sing en dans in gebed nie …

Maar miskien is die belangrikste wat ek oor gebed oor die jare heen geleer het dit dat, nes jy dink jy verstaan wat gebed is, iets nuuts vir jou oopgaan wat alles verander. Wat weer die wonder van in die teenwoordigheid van ‘n lewende God te wees … die wonder van praat met Hom en Hy met jou … weer nuut maak.

Dit maak my gedurig vra: Leer my om te bid,Here. Veral in hierdie dae waar ek saam met soveel van U kinders voor U staan en pleit vir die redding van mense, ja, die redding van volke. Leer my bid.

2 Kor. 5:7 sê om Christen te wees is in die eerste plek om te leer om te glo sonder om te sien. Dit leer ons veral daar waar ons bid. Daar leer ons om die wenhou te slaan terwyl ons bid. Om dan later in die gewone lewe van sien en voel, die oorwinning te sien realiseer wat reeds daar in ons gebedstyd behaal is.

Wesley het gesê God doen niks op aarde anders as in antwoord op gebed nie. Iemand anders het gesê: Jy kan soveel meer doen as jy gebid het … maar jy kan niks meer doen as om te bid nie as jy nog nie gebid het nie.

Kom ek haal vir jou ‘n paar verse oor gebed uit die Skrif aan:
Matteus 18:19 “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry…”
Lukas 5:16 “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.”
Lukas 6:12 “In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.”
Lukas 11:1 “Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
Lukas 11:2 “En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom.”
Lukas 18:1 “Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”
Johannes 16:24 “Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”
1 Tessalonisense 5:17 “Bid gedurig.”
Maar miskien is daar iemand onder ons wat vra: Maar waarom moet ons bid? God weet immers alles.
Kom ons beantwoord die vraag so:
• Gen. 1:26-28 en Ps. 8:3-8 vertel vir ons dat God die mens aangestel het as Sy bestuurder hier op aarde. Nie dat God daarmee Sy eienaarskap oor die aarde weggegee het nie. Nee, dit is eerder dat Hy die verantwoordelikheid om die aarde te bestuur aan die mens gedelegeer het.
• Gen. 1:27 sê selfs meer. Daar staan dat die mens bedoel is om God se beeld te vertoon. Dit kan dus maak dat ons na die mens kan kyk en selfs vir ‘n oomblik kan dink dat die mens god is! Om dan net weer te besef: Nee, eintlik is dit maar net ‘n mens! Daarom beskryf 1 Kor. 11:7 die mens as ‘n prentjie van God se heerlikheid en sê Paulus, is God besig, as deel van Sy volkome verlossingsplan in elkeen van ons as Sy kinders, om hierdie prentjie van Sy heerlikheid meer en meer in ons te herstel (2 Kor. 3:18).
• Dit het geweldige implikasies, want dit beteken dat die dinge wat op hierdie aarde gebeur in ‘n groot mate van ons as mense afhang. Of mense hemel of hel hier gaan beleef, gaan afhang of ons die rol speel wat God bedoel het ons moet speel.
• Luk. 4:6 en 7 sê mense beleef hel op aarde omdat die mens sy gedelegeerde gesag en outoriteit aan satan en sy magte oorgegee het. Daarom moes God Sy Seun mens laat word en laat sterf om vir Sy kinders terug te koop wat Adam weggegee het. En daarom behoort alle outoriteit en gesag in die hemel en op die aarde aan Jesus, wat Hy dan weer aan Sy volgelinge delegeer.
• Ef. 3:10 sê selfs ons is God se ambassadeurs wat aan die onsigbare magte in die hemel moet proklameer dat God regeer sodat hulle ook voor Sy gesag moet buig.
Daarom is gebed so noodsaaklik.
Dit is ons taak om te bid soos Jesus ons geleer het om te bid daar in Mat. 6: “Ons Vader in die hemel, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood …”
God het reeds alles in detail beplan en het reeds die volmaakte antwoorde en presiese voorsiening in die store van die hemel opgestapel. Maar ons moet vra, soek en klop. Ja, selfs saai in geloof … Al is dit net ‘n mosterdsaad-grootte saad … Om te ervaar dat niks vir God onmoontlik is nie.
God het gekies om deur mense te werk. Daarom is daar soveel voorbeelde in die Skrif van hoe God mense wat gebid het, gekies het om die skakel te wees vir dinge om te gebeur. Lees maar bv 1 Kon. 18:1,41-45 en Jak. 5:17,18.
In Eseg. 22:30 en 31 roep God uit dat Hy ‘n man of ‘n vrou soek om in die gaping te kom staan … Om daar in Sy teenwoordigheid te kom staan en in te tree vir mense en hulle nood.
Jesus Christus het die volkome verlossing vir ‘n verlore mensdom reeds volkome bewerk, maar God het gekies om mense die boodskapdraers en die bedienaars van hierdie volkome verlossing te maak.
Ons gebede is baie keer die sleutels wat die deur vir mense oopsluit na ‘n lewe van oorvloed wat ook vir hulle bedoel is.
Vat Vyf
‘n Bid-Omgee-Getuig Leefstyl
VAT VYF is ‘n eenvoudige maar doeltreffende strategie om mense te bereik wat die seën van God in hulle lewens nodig het.
Vat Vyf is ‘n eenvoudige konsep om jou te help om mense met die evangelie van Jesus Christus te bereik. Elders in die wêreld word daarna verwys as gebeds-evangelisasie. Dit is ‘n eenvoudige strategie wat alle Christene kan gebruik om uit te reik na vriende, familie, kollegas en bure.
Stap 1 – Kies 5 vriende / gesinne om voor te bid
Vra die Vader biddend vir die name van 5 vriende, familielede, kollegas of bure wat die seën van God en meer van Jesus in hulle lewens nodig het. Skryf hul name hieronder neer:
1. ____________________________________________
2. ____________________________________________
3. ____________________________________________
4. ____________________________________________
5. ____________________________________________
(Moenie hiervan ‘n wet maak nie. As 5 mense vir jou te veel is, begin met 2 of 3; dis ook in orde as jy kans sien om vir meer as 5 mense te bid.)
Stap 2 – Bid 5 seëninge vir hulle, vir 5 minute per dag, vir ten minste 5 dae per week vir die volgende jaar
Wanneer jy vir hulle bid, bid vir die volgende vyf dinge:
1. Liggaam – gesondheid, beskerming, krag
2. Arbeid/Werk – werk, inkomste, sekuriteit
3. Emosioneel – geloof, hoop, liefde, vrede
4. Sosiaal – liefde, huwelik, goeie verhoudings met familie, vriende, bure, by die werk.
5. Geestelik – saligheid, geloof, genade, barmhartigheid, geestelike groei.
(Jy kan later ander versoeke byvoeg, maar begin met hierdie vyf gebedspunte en bid dit vir hierdie vyf mense/ gesinne.)
Wanneer jy vir die redding van mense bid, kan jy God ook vra dat sy Heilige Gees mense sal lei om na te dink oor die volgende vrae:
1. Wie kan ek vertrou?
2. Wat is die doel van my lewe?
3. Wanneer sal ek vry wees?
4. Waar gaan ek heen as ek sterf?
5. Waarom haat ek God? / Waarom hardloop ek van God weg?
6. Hoe kan ek my probleme hanteer?
7. Waar sal ek veilig wees? / Wie kan my beskerm?
Stap 3 – Gee om vir mense: Help mense in hulle nood en help om hulle laste te dra
Kan ek meer doen as net bid? Verseker, ja! Nadat jy vir jou 5 vriende / gesinne begin bid het, wees op die uitkyk en vra die Here hoe jy hulle prakties kan versorg/ bedien. Een van hulle mag siek word: kook vir hulle ‘n maaltyd, neem hul kinders skool toe, help met hul wasgoed. Iemand se motor mag onklaar raak: gee hom ‘n geleentheid werk toe of leen vir hom jou motor. Wanneer daar nood is, bied aan om vir hulle te bid. Moenie ‘n ophef maak nie, vra of jy vir hulle mag bid. Dra hulle dan aan God op, vra Hom om hulle te help en te seën.
Stap 4 – Vertel hulle van Jesus Christus en die goedheid van God
Die volgende stap is om op die uitkyk te wees vir normale/ natuurlike geleenthede om jou geloof in God met hulle te deel. Moet dit nie aan hulle opdring nie. Haal nou en dan ‘n Skrifgedeelte aan. Vertel van ‘n antwoord op gebed, bied aan om vir hulle te bid. Terwyl jy vir hulle bid en regtig omgee, en soos wat jul vriendskap ontwikkel, sal daar meer geleenthede opduik waar jy jou geloof met hulle kan deel.
Aantal Christene verdriedubbel in een jaar
In die sestigerjare van die vorige eeu het die Republiek van Sentraal-Afrika ongeveer 180 000 Christene gehad. Vir ‘n jaar lank het duisende Christene ooreengekom om in klein groepies van ongeveer drie elk saam te bid – elkeen het vir die redding van drie ongeredde persone gebid. Na ‘n jaar het die aantal Christene gegroei tot 600 000 a g v hierdie gebedstrategie.
Stap 5 – Volhard vir een jaar
In die jaar 2002 het miljoene Christene eendragtig in gebed volhard vir die mense in Afrika. Maar jy kan dit natuurlik enige jaar doen.
Die implementering van hierdie vyf stappe in jou lewe sal lei tot wat genoem word ‘n gebed-omgee-getuig lewenstyl. Dit is ‘n eenvoudige. praktiese, nie-bedreigende vorm van evangelisasie – en selfs kinders kan dit doen. Dit is uiters effektief om mense met die evangelie van Jesus Christus te bereik.
Waarom moet ek my bure/vriende seën?
God het vir Abraham gesê dat Hy hom sal seën en dat al die nasies deur hom geseën sal word (Gen. 12:3). In Numeri 6:24-26 leer God vir Aäron hoe om die mense te seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
In Joh. 1:16 leer die Woord ons dat ons deur Jesus Christus genade op genade ontvang. In Genesis 1 lees ons dat God die hemel en die aarde geskep het en dit toe geseën het. God wil mense seën en wil hê dat hulle geseënd sal wees.
Met ‘n eerste gesprek is minder as 10% van alle mense oop vir ‘n direkte gesprek oor Jesus Christus. Maar statistiek toon dat tot 98% ontvanklik is daarvoor as iemand vir hulle bid en God vra om hulle te seën.
Waarom is hierdie strategie so effektief?
Daar is verskeie redes:
Nie alle mense het die gawe van evangelisasie nie, maar almal kan bid. Selfs die mees teruggetrokke en mense wat dit moeilik vind om met ander te praat of openlik te getuig.
Dit is ‘n nie-bedreigende en “normale” strategie waar jy vir mense kan bid, verhoudings en vriendskappe met mense kan bou en vanuit ‘n vriendskaps-verhouding teenoor mense kan getuig.
Meer mense is bereid om te luister na wat jy hulle van Christus wil vertel as hulle kan sien dat jy regtig op ‘n praktiese manier vir hulle omgee en hulle lief het. Ons dade praat baie keer baie harder as ons woorde.
Jou gesindheid in gebed
Bid met geloof – God antwoord gebed (Heb.4:16, 11:6).
Wanneer jy bid, onthou dat niks vir God onmoontlik is nie (Mark. 10:27).
Bid met ‘n hart vol liefde en omgee vir ander mense (Mat. 9:36).
Volhard in gebed (Luk. 18:1).
Bid met ‘n rein hart (Spr. 28:9, 13).
Bid saam met ander
Wanneer jy vir vyf bure of vriende begin bid, kan jy alleen bid, maar dit is altyd beter en ‘n groot bemoediging as jy nog minstens twee ander persone kry wat saam met jou ook vir vyf persone kan bid. Moedig jou gesin, selgroep, twee skoolvriende of onderwysers of kollegas by die werk wat ook Christene is, aan om saam met jou ‘n klein gebedsgroep te vorm en saam met jou te bid.
Skrifgedeeltes vir gebed
Hier is nog ‘n aantal Skrifgedeeltes om in jou gebedstyd te gebruik: Joh. 3:16, Joh. 6:63, Joh. 6:44, Joh. 5:21, Joh. 16:8-11, 2 Kor. 4:3-4, 2 Kor. 10:3-6, 2 Pet. 3:9, Mat. 8:14, 1 Tim. 2:3-4.
Sal my gebed ‘n verskil maak?
Miljoene Christene wêreldwyd gebruik hierdie strategie/metode (op verskillende maniere) om hulle bure, vriende en kollegas met die evangelie te bereik. Elke dag is daar mense wat in ‘n nuwe en dieper verhouding met Jesus Christus kom as gevolg van Christene wat vir hulle bid en omgee.
Vat Vyf word aangebied in samewerking met Operation Sunrise Africa en as een van OSA se evangeliesasie-strategieë. Jy kan julle webtuiste kry by www.genesis.org.za (spesifiek vir Kaapstad) en by www.operationsunriseafrica.org (Suid-Afrika en Afrika).

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest