Leesvordering:

Gewonetaaldag – gewone taal is alles behalwe gewoon

Okt 13, 2023

Geskryf deur Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia

Internasionale Gewonetaaldag word jaarliks op 13 Oktober gevier. Wat word met gewone taal (in Engels plain language) bedoel en hoekom sou ʼn mens dit vier? Gewone taal is taalgebruik wat komplekse onderwerpe en sake vir die gewone mens toeganklik maak en word gewoonlik in die regs-, finansiële en mediese wêreld gebruik. So gewoon as wat gewone taal mag klink, verteenwoordig dit ʼn navorsingsgebied op sy eie en die waarde daarvan moet nie onderskat word nie.

Daar is ʼn paar faktore wat in ag geneem moet word as jy teks toeganklik wil maak, maar hier is ʼn paar taalwenke wat al kan help.

  1. Vermy lang en komplekse sinne. ʼn Sin begin te lank raak as dit so tussen 25 en 30 woorde lank is. Wees wel versigtig om te dink dat kort sinne die oplossing is. Kort kompleks sinne kan soms moeiliker gevolg word as lang eenvoudige sinne. Dit is ook goed om die lengte van jou sinne af te wissel.
  2. In die akademiese wêreld is dit onvermydelik om jargon en vaktaal te gebruik. Indien jy vir die breër publiek skryf, moet jy meer algemene woorde oorweeg en die jargon omskryf. As jy vaktaal net gebruik om gravitas aan jou teks te gee of om slim te klink, sal jou teks in elk geval nie in sy doel slaag nie. ʼn Mens skryf om inligting te deel en nie om dit te versluier nie.
  3. Afrikaans is bekend vir die dubbele ontkenning. Moenie vergeet om die tweede nie te onthou nie. Moes jy die vorige sinne weer lees? Dit help om in die lewe en ook in jou skryfwerk positief te wees. Beteken dit ʼn mens mag glad nie meer die ontkenning gebruik nie? Geensins. Gebruik dit net oordeelkundig.
  4. Die vermyding van nominaalkonstruksies dra by tot die verstaanbaarheid van tekste. Wat op dees aarde beteken dit? Nou verwys ek jou weer terug na punt twee – vermy vaktaal. Nominaalkonstruksies word van werkwoorde afgelei en maak sinne soms onnodig lomp. In praktyk beteken dit dat jy die nominaalkonstruksie na ʼn werkwoord toe moet verander. Kom ons hersien die eerste sin in hierdie paragraaf. Vermy nominaalkonstruksies, want dit help om tekste beter te verstaan.
  5. Die bedrywende vorm moet eerder as die lydende vorm gebruik word. Die vorige sin is in die lydende vorm. Lees die sin nou in die bedrywende vorm: Gebruik eerder die bedrywende vorm as die lydende vorm. Die lydende vorm skep afstand en word daarom dikwels in akademiese tekste gebruik om die indruk van objektiwiteit te skep.

Daar is natuurlike baie ander aspekte wat aandag geniet in die skep van teks in gewone taal. Daar is byvoorbeeld die uitleg en grafiese elemente wat ook bydra tot ʼn suksesvolle teks. Daar is natuurlik ook ʼn plek en ʼn tyd vir al die verskillende soorte tekste en nie alles hoef in gewone taal geskryf te word nie. Dit is wel goed om op hierdie dag te dink wat ons wel met ons skryfwerk wil bereik. As hierdie artikel jou belangstelling geprikkel het, kan jy gerus ook hier meer lees oor hoe gewone taal in Afrikaans lyk.

Karien Brits is ʼn taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.

Foto: alexander-andrews-unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest