Leesvordering:

Kinderheldin uit die Trek byna vergete

Jun 30, 2021

Deur Ilze Nieuwoudt

Ten spyte van groot name soos Dirkie Uys en (die moontlik fiktiewe) Racheltjie de Beer wat nog in ʼn mate ná bykans twee eeue steeds in die geheue van mense behoue gebly het, is daar ander name wat deur die jare byna vergete geraak het. Ilze Nieuwoudt het gaan soek na die kinderhelde van Bloukrans en meer as net nog ʼn storie raakgeloop.

Haar naam was Johanna van der Merwe en vir die meeste mense beteken dié naam vandag nie veel nie, maar as 12-jarige meisie wat die Groot Moord by Bloukrans in 1838 oorleef het, is Johanna van der Merwe en ander soos sy, helde wie se verhale onthou moet word.

Die gebeure wat met en ná die moord op Piet Retief en sy makkers afgespeel het, kan as van die onstuimigste tye vir die Voortrekkers beskou word. Nadat Retief op 6 Februarie vermoor is, het die Zulu-impi’s uitgetrek om die trekgeselskap ook aan te val. Die Trekkers het uitgespan by Bloukrans en ander plekke langs die Boesmansrivier. Hulle was rustig en het glad nie ʼn aanval verwag nie  en daarom was die trekgroepe ente uit mekaar langs die riviere.

Die historikus, J.C. Visagie, wat voorheen aan die departement geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch verbonde was, skryf in ʼn insiggewende artikel in die dagblad Beeld in September 2000 dat duisende Zoeloes in die vroeë oggendure van 17 Februarie 1838 “niksvermoedende gesinne aangeval en vermoor” het. Die aanval was onverwags en wreed en die ware omvang van die aanval, wat vandag ook as die Groot Moord bekend staan, het eers teen dagbreek vir die oorlewende Trekkers duidelik geword.

“Die gras het aanmekaar gekoek van die bloed wat vrylik gevloei het; die waens was verpletter of verbrand; die hele omgewing was wit van die vere van beddegoed wat stukkend gesny en uitgeskud is; babas is nog in die arms van hul moeders met assegaaie deurboor sodat die lyke aanmekaar vasgesit het,” skryf Visagie.

Ten spyte van die bitter hartseer tonele wat oorlewendes begroet het, was daar egter ook mense wat wonderbaarlik die aanval oorleef het. Hoewel bronne verskil, word daar gereken dat sowat 40 Voortrekkermans, 56 -vroue en 185 -kinders asook as meer as 200 bruin mense dié nag vermoor is. Een kind wat egter dié aanval oorleef het, was Johanna van der Merwe.

Johanna is die oggend ná die Groot Moord gevind waar sy onder die lyke van ander kinders gelê het. Sy self het 24 assegaaisteke opgedoen en oorleef deur die liggame van kinders wat reeds vermoor is oor haar te trek en onder die lyke te skuil! Johanna was tot en met haar dood mank as gevolg van die aanval en is as ʼn ware heldin onthou. Een van die gedenkwaens van die 1937-trek is na haar vernoem en later selfs ʼn duikboot van die Suid-Afrikaanse vloot.

Johanna is in Mei 1888 oorlede, ná ʼn lang en vol lewe. Daar het reeds meer as 180 jaar verloop sedert dié hartseer aanval wat haar naam in die geskiedenisboeke verewig het. Die duikboot, die SAS Johanna van der Merwe, is ondertussen herbenoem na die SAS Assegaai. Tyd en omstandighede kon dalk haar verhaal vervaag, maar die dapperheid van ʼn 12-jarige dogtertjie mag nooit vergeet word nie!

Meer oor die outeur

Ilze Nieuwoudt

Ilze Nieuwoudt is die publikasiebestuurder by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest