Leesvordering:

Reisigers kan só sakpas vliegkaartjies koop

Sep 19, 2022

Dis September 2022, die pandemie is so te sê verby en elke paspoort se blaadjies jeuk vir ’n  stempel.

Soos die wye wêreld weer sy grense oopmaak, laat die meeste mense nie op hulself wag voor hulle begin verken nie. Aan die begin van die post-pandemie-herstelperiode was vlugpryse elke begroting se droom. Lugrederye se desperaatheid vir besigheid het pryse bekostigbaar gemaak vir Jan Alleman. Soos omstandighede normaliseer, herstel die vraag na vliegkaartjies. Dit laat lugrederye toe om pryse op te stoot na wat dit was voor die pandemie getref het, en selfs hoër.

Wêreldwyd het gesels met Maria Nortier*, ’n gesoute reisiger met ’n aanleg vir winskopies, om te hoor hoe sy haar reise befonds. In dié artikel laat sy ’n paar geheime uit die mou wat jou kan help om jou vlug so bekostigbaar moontlik te maak.

Hiermee haar wenke:

  1. Bespreek vroegtydig

“Boek jou kaartjies vroegtydig. Pryse gaan op hoe nader aan die tyd jy jou kaartjies koop,” bieg Maria. Alhoewel daar geen amptelike geheime resep is vir hoe lank voor die tyd jy jou kaartjie moet bespreek nie, is daar wel ’n paar riglyne. Pryse begin gewoonlik 28 dae voor vertrek styg. Dit is dus ’n goeie idee om sowat drie maande voor vertrek jou vliegkaartjies te boek. Jou bestemming en die seisoen wanneer jy die besoek sal aflê, speel beide ’n rol in hoe vroeg jy jou kaartjies moet boek. Hou dus jou oog op pryse en koop jou kaartjies sodra jy gelukkig is met die aanbod.

Hierdie reël is nie sonder uitsondering nie. Lugrederye se pryse is dinamies en indien die vraag te laag en aanbod te hoog is, sal hulle soms pryse verlaag. Dit hang af van die beskikbaarheid van kaartjies nader aan die tyd. Dit is egter riskant om jou reis op die spel te sit net om te wag vir dié onwaarskynlike verskynsel. 

2. Weeg al jou opsies op

Maria stel ’n reeks aanlyn platforms voor waar reisigers pryse kan vergelyk: “Travelstart en Cheapflights laat ’n mens toe om vlugpryse op te weeg en die goedkoopste opsie te kry. Dit vergelyk ’n reeks faktore soos lugrederye, vlugte, en tye – alles is op een plek. ’n Mens hoef dus nie aanvanklik na ’n klomp webtuistes te gaan nie. Wanneer jy ’n opsie kry wat jou sak pas, kan jy steeds op die lugredery se webtuiste gaan kyk en weer pryse vergelyk.”

Sy noem ook dat mens die bekende reisagentskap Flight Center se webtuiste kan gebruik vir dieselfde doel. “Wanneer dit by vlugte kom, is dit ’n goeie idee is om al jou opsies op te weeg. Dit sluit verskillende lugrederye en lughawens in.”

Lugrederye soos Ethiopian Airways het oor die afgelope paar jaar ’n goeie reputasie opgebou as ’n opsie wat waarde vir geld bied. Indien ’n reisiger meer bekend met opsies soos Emirates is, is dit verstaanbaar dat hulle dit sal verkies, maar dis altyd goed om pryse op te weeg terwyl ’n mens versteekte kostes (soos bagasie) in ag neem.

Maak seker dat jy ook die “All airports” –opsie gebruik wanneer jy jou vertrekpunt en bestemming beplan. Byvoorbeeld, indien jy van Johannesburg af vlieg, maak seker dat jy Lanseria en O.R. Tambo Internasionale Lughawe se pryse vergelyk voor jy jou vertrekkaartjies koop

3. Gebruik lojaliteitsprogramme

“Kyk na lojaliteitsprogramme soos Discovery Vitality Travel en FNB Travel eBucks,” stel  Maria voor. “Daar is nog baie opsies, byvoorbeeld Emirates Skywards, wat ’n mens kan help om ’n paar rand te spaar.”

Discovery Vitality Travel bied vir lede van hul gesondheidsprogram tussen 10% en 35% afslag op vlugte. Discovery Bank- en Vitality Money-kliënte kan tussen 10% en 40% spaar en dié wat ook deel van die gesondheidsprogram is kan tot en met 75% af kry! Om meer te leer oor die program, klik hier.

FNB se eBucks kan reisigers help om tot en met 40% af te kry op uitgekose vlugte. Deur ’n reisigersprofiel te skep op eBucks Travel, kan ’n mens met gemak alle toekomstige vlugte bespreek. Gebruikers moet in gedagte hou dat die lugredery waarmee eBucks werk om afslag te verskaf maandeliks roteer. Om meer te leer oor die program, klik hier.

Met Emirates Skywards kan gereelde kliënte hul myle en lojaliteitsrang gebruik om ’n reeks voordele te kry. Skyward Miles bou op elke keer as ’n mens met Emirates of Flydubai vlieg en kan geruil word vir afslag op jou toekomstige vliegkaartjies. Die myle is geldig vir drie jaar, so maak seker jy gebruik dit voor dit verval! Om meer te leer oor die program, klik hier.

Hierdie is Maria se gekose opsies wat sy gebruik vir afslag, maar sy noem ook dat die meeste banke en lugrederye deesdae ’n lojaliteitsprogram het. Wêreldwyd het met behulp van ’n vinnige soektog op die internet die volgende lojaliteitsprogramme opgespoor:

  • Absa Rewards Travel
  • UCount Rewards Travel Mall
  • Avios

Bonuswenk:

Wees buigsaam

Soek baie en soek gereeld, dit is dalk ’n tydsame proses maar ’n uur of twee langer gaan jou dalk ’n paar honderd rand spaar. Kyk of dieselfde vlug dalk goedkoper sal wees as jy in die middel van die week vlieg – bv. ’n Dinsdag, Woensdag en Donderdag – in vergelyking met ’n Vrydag.

Laastens waarsku Maria ook dat reisigers op hul hoede moet wees vir verskuilde kostes soos bagasie, uitgawes gedurende tussenstoppe, plaaslike reiskostes tussen lughawens ensovoorts.

*Naam is verander om identiteit te beskerm

Het jy enige ander wenke om goedkoop vliegkaartjies te vind?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Natuurhoekie 69: Giftige sampioene in Suid-Afrika

Natuurhoekie 69: Giftige sampioene in Suid-Afrika

Deur Alana Bailey Enkele jare gelede het my ma en ek in ’n gastehuis naby ’n woud in die Suid-Kaap gebly. Net na sonop het ons die gasvrou se ma met ’n mandjie vol sampioene deur die tuin sien loop. Sy het skrikwekkend baie na Sneeuwitjie se stiefma in my sprokiesboek...

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Erfenisjuwele 2 – Bethlehem Museum

Deur Alana Bailey In AfriForum se reeks Erfenisjuwele werp ons die lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar. In hierdie aflewering besoek ons Bethlehem Museum in die pragtige Vrystaat. Ons...

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

Afstand-grootouerskap – Goeie raad vir elke generasie

deur Robyn Vogels 7 058 239[1] Wat is hierdie syfer? Dit is hoeveel dogters, seuns en kleinkinders Suid-Afrika verlaat het. Kom ons verdubbel nou daardie syfer om uit te werk hoeveel grootouers moontlik moes agterbly. Hoewel dit so is dat baie kinders hul ouers...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest