Deur Ilze Nieuwoudt
Dit is lente en daarom tyd vir blomme! Die wêreld se grootste blommetuin is boonop so reg in die Suid-Afrikaner se spreekwoordelike agtertuin, want jaarliks ontwaak die andersins dorre Namakwaland in ’n towerland van kleur. Kenners meen dat dié blommeparadys jaarliks vanaf die begin van Augustus op sy mooiste is en dan teen die einde van September begin verwelk. Namakwaland is egter nie net ’n skouspel kleur nie, maar ook van unieke, vreemde én snaakse plantname. Dink maar aan name soos katstert, sporrie, pietsnot, koggelmandervoet, wolfdoring, weeskindertjies, varkiesknol, blouklokkies en muishondbos. Vandag staan ons egter vir ’n oomblik stil by die “moeder” van die blomme, naamlik die moederkappie. In Afrikaans het die gebruik ontstaan om plante met ’n kapvormige blom moederkappies te noem. Daar is dus ’n verskeidenheid plante, waaronder grondorgideë, wat in die volksmond gewoon as moederkappies bekendstaan vanweë die feit dat die blommetjie as’t ware lyk soos die tuit van ’n outydse kappie. Moederkappies kom wyd en syd voor in Suid-Afrika (insluitende in Namakwaland). Die Disperis capensis, in Engels bekend as die “witch orchid” of “granny’s bonnet”, is wel die mees algemene tipe moederkappie (of selfs oumakappie). Dit is ’n kenmerkende plant met ’n pragtige pers blommetjie wat in die Oos- en Wes-Kaap vanaf Cederberg tot Grahamstad voorkom. Die blom is soms selfs wit of groen van kleur. Teen die basis van die blommetjie het twee fyn kelkblare wat agtertoe geswiep is, byna soos ’n kappie se toutjies. Die plant dra slegs een blommetjie en twee blare op ’n enkele regop stingel wat tot sowat 35 cm hoog staan. Dié moederkappie blom gewoonlik vanaf Julie tot September.