Leesvordering:

Só gee ons kinders wat in die buiteland woon se ouers bietjie boereliefde met ons kos!

Apr 19, 2023

Deur Michelle Britz

Wanneer ’n mens ’n oproep of WhatsApp van ’n vreemde nommer af kry, is die eerste reaksie dikwels om nie te antwoord of die boodskap oop te maak nie, maar Michelle se Kombuis in Suid-Afrika maak die boodskappe met opgewondenheid oop. Ons weet sommer die boodskap is van ’n kind iewers vêr in die buiteland wat iewers van ons gehoor het en hul ouer/s wil bederf met heerlike gevriesde etes uit ons kombuis!

Dit is een van die dinge in die lewe wat my ongelooflik baie vreugde verskaf, maar ook soms ’n traan in die hoeke van my oë gee, wanneer ek ’n pakkie gevriesde etes by sulke verlangende ouers se huise aflaai. Ek self was vir sewe jaar saam met my gesin in Frankryk en Italië woonagtig, dus weet ek hoe dit voel as jy iets spesiaal vir jou ouers, wat jy net soms sien, wil doen. Ek en die ouers raak dan vinnig vriende of ek word vir sommiges ’n aanneemkind met wie hulle kan gesels as die verlange net te veel word. Ek beplan my roetes so deur die dorpe om seker te maak daar is nou en dan ’n ekstra tydjie vir ’n heerlike koppie boeretroos saam met die ouers. “Kook solank die ketel”, dit is al wat hulle wil hoor! Ek weet hulle het soveel om oor te gesels en dit maak my warm van binne as ek bietjie kan help om verligting te bring van die verlange. Maggies, en dan word ek soms bederf met die heerlikste vars gebakte koekies of beskuit en die lekkerste koppie koffie! Ek noem myself al ’n koffiepot, so ek geniet hierdie kuiertjies. ’n 15-minute-geselsie beteken vir hulle die wêreld en ek glo vir hulle kinders nog meer.

Dit is elke dag heerlik om te bak en brou hier op ons plaas in die Ficksburg-distrik in die Oos-Vrystaat waar Michelle se Kombuis op 21 Februarie 2019 ontstaan het. Ons as boere het erge droogte op die plaas ervaar het en ek moes ’n alternatiewe inkomste genereer om ons gesin by te staan. Min het ek geweet dat ons ná drie jaar soveel families van kos sou voorsien. Ons het ’n hele reeks geregte, van heerlike bobotie, lasagne, pasteie, poedings, soppe en glutenvrye geregte op ons spyskaart waaruit ons kliënte kan kies.

Entrepreneurskap lê my ook na aan die hart, daarom leer ek ons eie kinders hoe om entrepreneurs te wees en hoe om werk te skep – kinders is immers die toekoms van ons land. My seun verskaf reeds al die werfeiers (free range eiers) aan ons wat hy uit sy lêhen-onderneming genereer. Soos wat sy besigheid groei, het hy ook nou begin om eiers te verskaf aan ’n paar Wimpys in ons distrik. Ek het ook hierdie jaar vrywillig betrokke geraak by AfriForum Sakenetwerk se Besigheidsbytjieskompetisie waarvoor jong entrepreneurs kan inskryf. Wat dit selfs nog beter maak, is dat hulle ’n AfriForum Wêreldwyd-kategorie het spesifiek vir kinders in die buiteland.

Michelle se Kombuis se slagspreuk is LEEF JOU PASSIE!

Dit is nie net my passie nie, maar ook my tweelingsuster Sandri Olivier s’n wat in Namibië ook een van ons takke daar bedryf. Ons mans en kinders is gereeld betrokke wanneer die werk party dae net te veel word en roer graag die potte of maak ons bakkies toe. Hulle is fynproewers van formaat en sal sommer vinnig sê as hul dink dit smaak nie soos al die vorige disse nie. Ons kosse word voorwaar met baie liefde voorberei en ons het ongelooflik baie gelukkige kliënte. Dit maak ons opgewonde om te weet ons verskaf lekker familietyd aan hulle! Die geregte spaar immers baie tyd, geld en moeite en word gemaak met goeie gehalte vars produkte en vleis. Ons voeg geen preserveermiddels by nie en gebruik ook slegs werfeiers en vars melk wat van die plaas af kom. Ons probeer om soveel as moontlik van die produkte self op ons plase te produseer om net die beste te verseker. 

Boerekos met BAIE liefde …

As ek terugdink aan die jare wat ons in die buiteland gewoon het, is boerekos wraggies die een ding waarna ek die meeste verlang het, want niemand kan tog kos maak soos jou eie ma nie. Ons het al die disse vervolmaak wat ons dag in en dag uit maak. Ek glo dus dat dít wat ons aan ons kliënte voorsien, is waarna almal wat oorsee bly ook terugverlang. Ons kan dit wel nou aan hul geliefdes in Suid-Afrika voorsien.

Daar is reeds soveel kinders vanaf Australië, die Seychelle-eilande, Nieu-Seeland, Kanada, Amerika, Engeland en Namibië wat kos uit Michelle se Kombuis vir geliefdes in Bloemfontein, Ladybrand, Clocolan, Bethlehem en Ficksburg bestel. Ons maak dit ons doelwit om uit ons pad te gaan om die pakkies spesiaal by hulle te kry. 

Enigiemand wat ouers of geliefdes in hierdie vyf dorpe het, kan my Whatsapp op +27 79 432 7643 vir meer inligting rakende ons wye reeks gevriesde etes. Ons is op Facebook en Instagram as Michelle se Kombuis. Bestellings kan ook op ons webtuiste geplaas word by www.michellesekombuis.co.za, of deur ’n e-pos te stuur na orders@michellesekombuis.co.za.

Ons is ook bevoorreg om te kan sê dat ons verspreiders het wat ons kosse ook in die volgende plekke versprei: Pretoria, Alberton, Randburg, Durban en die Tuinroete. Stuur gerus vir ons ’n e-pos vir meer inligting oor dienste in hierdie areas.

Groete

Michelle Britz

Kontak Michelle se Kombuis

Klik hier om Michelle se Kombuis se webtuiste te besoek.
Klik hier om Michelle se Kombuis op AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest