Leesvordering:

Taal Tel 11: Martie-Louise Hunlun – ’n entoesiastiese taalliefhebber agter die Radio Namakwaland-mikrofoon

Nov 10, 2023

Deur Alana Bailey

Gemeenskapsradiostasies speel ’n uiters belangrike rol in die land. Baie mense getuig van ’n ou batteryradio in die huis wat getrou bly uitsaai, ongeag kragonderbrekings en swak internetverbindings. Ook tydens die inperkingstye van 2020 en 2021 was dit vir baie mense in afgeleë gebiede die enigste kontak met die buitewêreld.

Iemand wat ’n geliefde stem vir luisteraars van Radio Namakwaland is, en altyd gewaardeerde aandag aan AfriForum se aksies gee, is Martie-Louise Hunlun. As ’n mens aan haar dink, dink jy onwillekeurig aan haar liefde vir Afrikaans. Vandag is dit ons voorreg om met hierdie merkwaardige vrou agter die mikrofoon te gesels.

Martie-Louise Hunlun

Jy het ’n besondere mooi naam. Vertel ons meer oor die oorsprong daarvan en oor waar jy vandaan kom?

My naam is Martie-Louise Hunlun, néé Rabbets. ’n Leeftyd van ’n vreemde van en noemname het my vroeg bewus gemaak van die waarde van woorde. My voorgeslag van Franse Hugenote, Pruise, Britse Setlaars en ’n skeut Joodse Gregorowski-bloedlyn skep ’n perfekte smorgasbord vir my trots Afrikaans-ingesteldheid. Ek is ’n dogter, suster, eggenoot, moeder, ouma en radio-omroeper en bymekaarmaker van feite, asook ’n musiek- en boekliefhebber.

Hoe voel jy oor Afrikaans?

Afrikaans is my opstaan en tot rus kom. Dit is my veilige vesting, maar ook die plek waar ek my strydros opsaal. Ek is en sal altyd ’n kampvegter bly vir Afrikaans, my moedertaal, en raak moedeloos moeilik én magteloos weemoedig as my taal vermeng of verinneweer word met gekruide anderstaligheid. Ek moet myself daarvan weerhou om nie alle geskrewe media (veral bemarkingsveldtogte) te proeflees én te taal-herstel nie. Afrikaans IS die taal van my hart, maar ook van my hande, voete en al my sintuie! Radio Namakwaland is al vir meer as twee dekades die perfekte spreekbuis om dit te deurleef.

Hoe het jy in die uitsaaibedryf beland?

Ek was destyds bevoorreg om plaaslik opleiding te kon ontvang by dr. Flip Loots en het aanvanklik ’n daaglikse vrou-aktuele program aangebied (Vrouevreugde). Daarna het ek dr. Riekert Botha se oggend aktualiteitsnuusprogram (Kollig) oorgeneem en geniet steeds die uitdaging van nuuslees, nuus-sif-toets en die wonderlike voorreg om met gesoute politieke kommentators en interessante mense onderhoude te voer. Ek is geweldig nuuskierig en gek oor ’n uitdaging! Ek huldig graag my ouers, by wie ek my onuitputbare soek-strewe na feite en inligting gekry het. Ook my briljante Afrikaanse onderwyser by Hoërskool Zwaanswyk, Rian Truter, wat my toegelaat het om tydens pouses my mondelinge voorleggings te kon doen, as gevolg van my akute introverte skuheid. Hy het elke leerder leer lief raak vir Afrikaans. Nou is elke dag, agter die mikrofoon, ’n wen-poging.

Vertel ons bietjie meer oor Radio Namakwaland, asseblief?

Radio Namakwaland saai reeds vanaf 1 Augustus 1996 uit op 93.4fm en is vanjaar 27 jaar oud. Ons is ’n Christelike gemeenskapsradio met 60% geestelike inhoud en 40% sekulêre inhoud. 90% van ons luistertal is Afrikaans en 10% is Engels, en dit is ook hoe ons uitsaai-lisensie deur ICASA goedgekeur is. Ons ontvangsgebied is in die Weskus van die Wes-Kaap, maar mense kan ook aanlyn luister op ons radiotoepassing of op ons webwerf by www.934fm.co.za.

Wat is vir jou die lekkerste aspek van jou werk?

Die lekkerste deel van my werk, as vryskutomroeper en joernalis, is dat dit nog nooit vir my soos werk gevoel het nie. Daarby is dit ’n uitnemende voorreg om saam met ’n radio-kragspan te werk wat mekaar respekteer en ondersteun. Ek beskou dit ook as ’n absolute leerskool om met kundiges en kenners te gesels en het ontsaglike waardering vir hul tyd en kennis wat hulle so onvoorwaardelik met my en die luisteraars deel. Dit word mettertyd ’n kosbare kringloop van vriendskappe en vennootskappe waarvoor ek opregte waardering koester.

Wat is die unieke bydrae wat ’n radiodiens soos Radio Namakwaland kan lewer?

Streek/gemeenskapsradiostasies het ’n diepgewortelde verantwoordelikheid en voorreg om hul gemeenskap te dien/bedien met inligting, nuus (plaaslik én internasionaal) en gemeenskapsafkondigings. Ons fokus daarop om dit op ’n manier te doen wat funksioneel inlig, stig én vermaak. Elke luisteraar het ’n stem én spasie by hierdie radiostasie. Die uiters suksesvolle jaarlikse Teleton-fondsinsameling is ’n perfekte voorbeeld van gemeenskap-ondersteuning en samewerking. Ons luisterpubliek is ook die spieël waarin ons, as omroepers, onsself voorberei en aanbied. Ons gebed is dat ons dit vir nog baie jare mag en kan doen.

Wat maak jou opgewonde oor die toekoms van beide Afrikaans en uitsaaiwese?

Ek is vas oortuig dat die uitsaaiwese stewige grondlegging en boustene het in die mediabedryf. Soos ons dorp se kerkklok, tydens die pandemie, elke middag om twaalf gebeier het om simpatieke samehorigheid te bewerkstellig, so het ons luisteraars eerder radio geluister as om TV of internet se visuele en hartruk-beriggewing te volg. Ek dink ook in die huidige tydgleuf van min tyd en baie spoed is jou Dubbel-doeners of Meer-meesters meer geneig om met oorfone take te takel en af te handel. Wat is dus beter as ’n klankgolf-radio-uitsending om korte mette te maak van jou velerlei dagtake? Dit is ook ’n baie bekostigbare bron vir bemarking van klein ondernemings, hetsy deur advertensies en/of onderhoude. Met ’n dreigende krisis in tersiêre opleiding (spesifiek in Afrikaans) in Suid-Afrika, droom ek van gratis onderrig vir alle ouderdomme deur middel van radio-aanlyn-stroomkursusse en kwalifikasies. Ek is, en sal altyd positief bly oor die uitsaaiwese as ’n media-bron.

Enige wenke vir voornemende uitsaaiers?

Dit is eenvoudig so maklik soos om jouself net te kom bekendstel en aan te meld by jou plaaslike gemeenskapsradiostasie. Radio Namakwaland bied gereeld gratis opleidingskursusse aan. As jou stem sterk is en jy kan redelik vlot lees, kan jy dalk gou agter die mikrofoon inskuif. Andersins is daar ook ruimte vir redigering, kopieskryf, navorsing en musiekbeplanning en plasing. ’n Verreikende loopbaan, wat jou dalk nie dadelik gaan verryk nie, maar wat werklik jou horisonne gaan verbreed en ons, terselfdertyd, help om veld te wen vir Afrikaans, die mooiste taal!

Waar kan mense meer oor julle te wete kom of aanlyn luister?

Radio Namakwaland kan gekontak word op:

Landlyn: 027 213 4208

E-pos: info@934fm.co.za

WhatsApp: 079 350 7339

Volg ons op Facebook op Radio Namakwaland 93.4fm en luister aanlyn deur ons radio-toepassing af te laai, of deur ons webwerf te besoek by www.934fm.co.za.

Baie dankie Martie-Louise – ons wens jou en Radio Namakwaland seën op julle kosbare werk toe. Dit was ’n voorreg om deur Taal Tel met jou te gesels! Ook hartlike dank vir julle ondersteuning aan AfriForum, ons waardeer dit geweldig baie en sien daarna uit om sommer nog baie in die toekoms saam te werk.

Dankie vir die voorreg om met hierdie vrae en antwoorde weer my hernieude liefde en passie vir Afrikaans én die medium waardeur ek dit bedryf, te kon herontdek. AfriForum, en veral my gereelde gesprekke met Alana (met die rustigste én mooiste fluweelstem ooit!), is vanaf my radio-beginjare ’n onuitspreeklike kosbare bron van inligting en mededeling vir ons luisteraars. Mag ons nimmer-eindigend voortgaan met hierdie vennootskap!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest