Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Bahrein

Okt 21, 2022

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Sigmar Rosenthal, ’n geskiedenisonderwyser wat tans in Bahrein woon. Hy deel ook ’n paar interessante feite oor Bahrein met ons.

Hallo Sigmar, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Bahrein te gaan woon?

Ek en my vrou kom van die Kaap af. Ons is tans in Bahrein sodat ons kan toer en die wêreld kan verken. Die Midde-Ooste is ’n baie gemaklike plek om te bly en is baie verwelkomend. Ons het Bahrein ook om finansiële redes gekies aangesien onderwysers in Suid-Afrika te min verdien om te toer en te spaar.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag?

Ek is ’n geskiedenisonderwyser en werk by ’n private internasionale skool. My werkweek is van Sondag tot Donderdag omdat Vrydag in Bahrein ’n biddag asook gesinsdag vir die meeste Bahreiners is. My werkdag is gewoonlik vanaf 07:30 tot 15:00 elke dag. Onderwysers fokus hier slegs op akademie en bied nie noodwendig buitemuurse aktiwiteite aan nie. Die leerders by die skool is meestal Bahreiners en ek moes aanpas by kulturele verskille.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste/grootste om aan gewoond te raak in die buiteland?

  • ’n Groot pluspunt van Bahrein en die Midde-Ooste as geheel is dat hulle dit relatief maklik maak om aan te pas vir buitelanders. Alle verblyf is gemeubileer en die Arabiere is baie gasvry. Wat wel uitdagend is, is die skuif van die weekdae, want elke Vrydag voel soos ’n vakansiedag en elke Sondag voel asof ek werk op ’n naweek.
  • Die Midde-Ooste is ook verskriklik warm in die somer, met temperature wat tot bo 50 grade styg. Dit voel soos om in ’n louwarm oond te sit. Gelukkig is alles met lugverkoeling toegerus, selfs die busstop. In die winter is die weer puik, en dan benut ons die buitelewe en die natuur.
  • Die verkeer is chaoties en ek moes leer om daaraan gewoond te raak en my padwoede te bedwing.

Was dit moeilik om daar aan te pas of het jy maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Dit was baie maklik om aan te pas en te sosialiseer, aangesien hier geweldig baie Suid-Afrikaners is. Bahrein het ’n rugbyklub waar Suid-Afrikaners graag byeenkom. Ek speel tans krieket hier en ons braai graag met hout wat vanaf Suid-Afrika ingevoer is. Ons kry maklik produkte vanaf Suid-Afrika en ons koop Ouma-beskuit of selfs Steers-sous en biltong. As ons ’n brandewyn by die vuurtjie geniet, spot ek baie en sê dat dit voel soos Suid-Afrika se tiende provinsie.

Was die klimaat ’n groot aanpassing?

Ja, dit was. Die weer in die somer is steeds ’n aanpassing. Dit raak dikwels bo 50 grade en die lewe sonder lugverkoeling sal nie aangenaam wees nie, selfs onmoontlik. Bahrein en die meeste lande van die Midde-Ooste is gelukkig baie goed voorbereid en alle vertrekke en geboue het verkoeling. In die ander seisoene is die weer egter perfek met min tot geen reën nie. Dit kan selfs koud word en ’n baadjie word soms nodig. Bahrein is ook ’n eiland en die see is ’n lekker manier om af te koel.

Wat doen jy vir ontspanning in Bahrein?

Ons braai graag en nou en dan gaan ons op ’n 4×4-avontuur. Ek en my vrou is al twee kranige skubaduikers en sal gereeld uitgaan om te duik in die Arabiese Golf. Ek speel ook graag krieket by die klub.

As jy terug kon gaan in tyd, wat sou jy nog in jou tas gepak het voordat jy Suid-Afrika verlaat het?

’n Lekker Karoo-lamstjoppie en wildsbiltong. Ek sou ook graag my ouers wou inpak, want die verlange kan soms erg raak weg van die huis af.

Enige lesse wat jy geleer het?

Dat die wêreld kleiner is as wat jy dink en dat Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, altyd na mekaar toe neig. Ons vind mekaar deur ons taal en verstandhouding in die verste lande.

Is daar enige eg Suid-Afrikaanse winkels naby waar jy trooskos soos biltong kan koop?

Gelukkig ja! In alle winkels verkoop hulle Suid-Afrikaanse produkte soos vleis, vrugte, speserye, souse, hout en ja, selfs biltong! Ons het selfs ’n biltongwinkel en Suid-Afrikaanse restaurante. Die meeste Suid-Afrikaanse drankies word ook hier bedien en verkoop.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek het aanvanklik ’n groot wanindruk gehad oor die Midde-Ooste en hulle kultuur. Tot dusver was ek nog net verbaas oor hoe gemaklik en welkom ek voel. Ons geniet dit baie, maar kom steeds jaarliks terug na Suid-Afrika, wat die verlange huis toe so bietjie verlig.

’n Paar interessante feite rakende Bahrein:

  • Die land word regeer deur ’n koning.
  • Die Bahreinse dinar (geldeenheid) is die tweede sterkste in die wêreld.
  • Brandstof kos baie min hier, omtrent R8/liter.
  • Daar is ’n brug oor die see vanaf Bahrein na Saoedi-Arabië wat omtrent 35 km lank is.

LEES OOK: Uit en tuis: ʼn e-pos uit Nieu-Seeland

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis: ’n e-pos uit Newfoundland en Labrador

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Ladine Britz, wat in...

Die jaar wat my lewe verander het!

Die jaar wat my lewe verander het!

Deur Clarice de Jonge Wanneer jy voel asof die wêreld te klein is vir jou en jy soveel meer betekenis aan jou lewe wil gee, is dit ’n teken om ’n groot wilsbesluit te neem en jou horisonne te verbreed. Aan die einde van 2021 het ek ’n gewaagde besluit geneem om my...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest