Wanneer jou kinders besluit om die land permanent te verlaat, moet jy meteens ’n hele paar uitdagings trotseer

Deur Alita Steenkamp

Die bekende rubriekskrywer Cecile Cilliers vertel dat mense soms verstom is as hulle hoor sy het drie kinders op drie verskillende kontinente. Hoe op aarde hou jy dit? wil hulle dan by haar weet. “Op die keper word ’n mens enigiets gewoond, het my bejaarde peettante altyd gesê; pyn, verlies, en ja, selfs die winkelhaak in die kombuisgordyne!” is dan haar antwoord.

In die laaste paar dekades het Suid-Afrikaners toenemend hul heil en ’n nuwe lewe elders gaan soek. Daar is groot groepe Suid-Afrikaners in Australië, Nieu-Seeland, Kanada en Brittanje wat permanent daar gevestig is. Nie almal wie se kinders hierdie pad geloop het, raak egter ooit daaraan gewoond nie.

Dr Douline Minnaar, ’n psigiatriese verpleegkundige, het intensief navorsing gedoen oor ouers wie se kinders emigreer. Dr Douline sê hierdie nuus is gewoonlik ’n groot skok vir die ouers. Dikwels gaan werk jongmense op kontrakbasis oorsee en daarmee het die ouers nie ’n probleem nie, maar dis ’n ander saak wanneer hierdie skuif permanent is. “Dis die finaliteit hiervan wat vir die ouers hartverskeurend is en sommige ouers voel dadelik verwerp en in die pad. Dan begin hulle bekommerd raak oor wat van hulle gaan word en meteens verloor die toekoms vir hulle al sy kleur.

Hierdie ouers, wat meestal bejaard is, treur maar stil-stil en wys ook nie hul ware gevoelens vir hul kinders nie.” Dr Douline sê daar is egter ook ouers wat in hul kinders se opwinding deel en wat positief oor hierdie skuif is. Dit is gewoonlik mense wat nog self in hul middeljare is en vir wie dit moontlik is om by die kinders te gaan kuier en wat steeds ’n vol en besige lewe lei.

Volgens dr Douline kan ’n mens in hierdie situasie van ’n onafgehandelde rouproses praat. Wanneer ’n kind sterf, is daar ’n mate van afhandeling wat plaasvind, maar wanneer kinders emigreer, kom hulle kuier en gaan dan weer weg en die proses word nooit afgehandel nie. Sy sê ander mense het meestal ook nie begrip vir hierdie verlies nie, want hulle dink dit is tog nie so erg nie. Daarom sit baie ouers ’n masker op sodat die wêreld tog net nie kan sien dat hulle hartseer is, of dat hulle selfs kwaad is vir hul kinders wat weggegaan het nie.

Dr ST Potgieter, ’n sielkundige, raai mense aan om anders na hul kinders se emigrasie te kyk. “Wanneer jou kind emigreer, is dit nie dieselfde ding as om ’n kind aan die dood af te staan nie, al voel dit soms so. Dis juis hierdie uitkyk van ‘dis so goed ek staan my kind aan die dood af’ wat die saak vir almal wat betrokke is, bemoeilik. “Ek raai mense aan om eerder na die positiewe dinge te kyk.

Dertig jaar gelede sou jy nie so maklik in voortdurende kontak met jou kind kon wees nie. Jy sou jou oor ’n hoek gesukkel het, want briewe het lank geneem om die oorsese bestemmings te bereik en oorsese telefoonoproepe was ontsettend duur. Gelukkig het ons deesdae nuwe tegnologie wat kontak soveel makliker maak: e-pos, SMS’e, selfoon, internet, Facebook en Skype is van die tegnologiese kommunikasiemiddele wat almal relatief goedkoop is en waarmee jy daagliks met jou kinders in verbinding kan bly.”

Hoe moet ek hul emigrasie benader?

Dr Douline verduidelik dat ouers wat nie kan aanvaar dat hul kinders geëmigreer het nie, maklik in ’n diep depressie kan verval en later heeltemal vereensaam. Dit kan ook vir onnodige emosionele spanning sorg en daarom is dit belangrik om dit wel te aanvaar.

Sy raai mense aan om eerder op die opwinding en die nuwe geleenthede wat daar vir hul kinders wag, te fokus. Bewonder hulle vir hul dapperheid om in ’n nuwe land ’n nuwe lewe vir hulle te bou wat beter geleenthede inhou. Dis ook baie belangrik om jouself nie aan die samelewing te onttrek en agter toe deure te leef nie. Al woon jou kinders in die buiteland, gaan hulle dit agterkom en dit bemoeilik weer hul aanpassing. Sien eerder hierdie ervaring as ’n nuwe lewensfase waarin daar nuwe wêrelde vir jou kan oopgaan.

Die heel belangrikste is om jouself nie te bejammer nie. Ons is elkeen self verantwoordelik vir ons eie geluk en ons mag nie daardie verantwoordelikheid op ons kinders afskuif nie.

Wat doen ek as die verlange te groot raak?

Dr Douline sê daar is konstant verlange en dan kom daar dae wanneer die verlange ondraaglik raak. Sy raai enigeen aan om dan lekker te gaan huil en jou hart op papier uit te stort. Gaan soek ’n vriend of vriendin op wat in ’n soortgelyke, of ander moeilike situasie is en bied aan mekaar ondersteuning. Gewoonlik sal die verlange ’n piek bereik, maar dan plat dit weer af.

Dis belangrik om nie jou gevoelens te ontken nie, sê Douline. Sorg dat jy ook ’n ondersteuningstelsel hier het by wie jy vir ’n bietjie troos of hulp kan gaan aanklop. Dan moet jy ook sorg dat jy in staat is om al hierdie nuwe tegnologiese hulpmiddele te kan gebruik, want dit is die sleutel tot jou kontak met jou kinders.

Skaf ’n slimfoon en ’n rekenaar aan en leer hoe om daarmee te kommunikeer. Al is jou kinders en kleinkinders steeds fisiek baie ver van jou weg, kan jy wel só nog deel van hul lewe bly.

Wat moet jy nie doen nie?

Dr ST sê die verkeerdste ding wat iemand kan doen nadat sy of haar kind of kinders geëmigreer het, is om op te hou lewe. Dis baie belangrik om nie op ’n hopie te gaan sit nie. Volgens dr ST is dit ook ’n groot fout om enige vorm van emosionele afpersing toe te pas.

Moenie probeer om jou kind met emosionele manipulasie in Suid-Afrika te hou nie. Mense sal dikwels vir ’n kind wat van plan is om te emigreer, sê dat hulle nou geen sin in die lewe meer het nie. Dit is ’n baie onregverdige speletjie om te speel.

Dr ST raai ouers aan om hulle nie aan skuldgevoelens oor te gee nie. Waarskynlik het niks wat hulle gedoen het ’n aandeel in hul kinders se besluit nie. Waak daarteen om verwyte te slinger, want dit gaan uiteindelik net jou verhouding met jou kind negatief beïnvloed en dit is die laaste ding wat jy wil hê.

Wenke vir die ouers wat agter bly

Gaan aan met jou lewe en lewe voluit. Onthou jy is ’n mens met jou eie talente. Fokus op dit wat jy nog wel kan doen. Bly sosiaal betrokke. As jy nog sterk en gesond is, sluit by klubs en groepe aan of raak aktief by jou kerk en sy projekte betrokke. Gaan op uitstappies, gaan kuier by mense of doen vrywilligerswerk.

Daar is altyd klein kinders wat nie oupas en oumas het nie. Net om ’n storie by ’n kleuterskool te gaan lees, is ’n uitlaatklep vir daardie liefde wat jy vir jou eie kleinkinders het. Hou jou ondersteuningsraamwerk stewig en gesond.

Behou kontak met jou kind. Jy het waarskynlik meer tyd om e-posse te stuur. Sorg dat jy die nodige tegnologie het. As jy nie weet hoe om te Skype nie, laat iemand jou daarmee help. Spaar geld vir ’n vliegtuigkaartjie. Dit is soms baie duur om as gesin hier te kom kuier en daarom makliker en goedkoper as jy die reis kan aanpak.

As jy regtig depressief voel of onder geweldige spanning verkeer, kry berading of gaan gesels jou hart uit by iemand. Jou predikant, ’n terapeut, berader of sielkundige kan jou daarmee help. Besef dat jou kinders regtig hul ouers se ondersteuning en begrip baie nodig het om hul aanpassing in die buiteland makliker te maak.

Onthou dat jou kinders ook hul eie lewe het. Praat oor maniere van kommunikasie, soos Skype. Soms gaan dit nie vir hulle moontlik wees om met jou te Skype nie en moet dit dan nie as verwerping sien nie, maar besluit eerder om die regte tyd te vind wat almal gaan pas.

* Hierdie artikel het oorspronklik op Vrouekeur se webtuiste verskyn.

Pin It on Pinterest