Leesvordering:

Tien maniere waarop AfriForum moedertaal bevorder … en jy kan help!

Feb 20, 2024

Deur Alana Bailey

21 Februarie word as Internasionale Moedertaaldag gevier. Dit is ’n handige wegspringpunt vir enigeen om ’n bestekopname te doen van die maniere waarop jy of jou organisasie jou moedertaal bevorder.

Hier is tien voorbeelde van die dinge wat AfriForum doen om Afrikaans te beskerm en uit te brei. Ons planne vir die uitbou van ons moedertaal hou egter nie hier op nie, en dit is ook nie net altyd Afrikaans wat daarby baat vind nie. Die beste van alles is, as jy reeds ’n lid is, is jy deel van hierdie aksies en as jy nog nie aangesluit het nie, is dit beslis nie te laat om nou hier te klik en deel van dié suksesresepte te word nie!

1. Bedryfstaal

AfriForum se bedryfstaal is Afrikaans. In ons Burgerregtemanifes stel ons ook baie duidelik dat AfriForum ons vir die beskerming van ons taal beywer. Toe die maatskappy tot stand gekom het, het ons doelbewus Afrikaanse diensverskaffers gesoek. Ouditeure word byvoorbeeld gevra om ons finansiële state in Afrikaans op te stel en dit is ook hoe ons dit by al die nodige owerhede indien. Verder het ons ’n uitmuntende taalafdeling wat AfriForum se dokumente en ander skryfwerk redigeer. 

2. Tydskrif

FORUM, AfriForum se tydskrif, het die eerste keer in Mei 2006 verskyn. Dit was aanvanklik ‘n e-posnuusbrief, later ’n A5-boekie en toe ’n volwaardige gedrukte A4-tydskrif. Tans word dit ook aanlyn beskikbaar gestel. Dit is die grootste Afrikaanse tydskrif waarvan ons bewus is en staan onder die redakteurskap van Alet Rademeyer. Tussendeur vertel artikels en video’s op die FORUM-nuusblad meer oor AfriForum se jongste aksies.

3. Hofsake beskerm

Ons beskerm Afrikaanse moedertaalonderrig en die instellings wat dit aanbied. In die verlede het ons byvoorbeeld al hofsake gevoer om Afrikaanse onderrig aan die Universiteite van Stellenbosch, die Vrystaat, Pretoria en Suid-Afrika te beskerm. Ons huidige teenstand teen die sogenaamde Bela onderwyswetsontwerp fokus ook veral op die beskerming van eentalige Afrikaanse skole.

4. Sakenetwerk en Besigheidbytjies

Afrikaanse onderriginstellings is noodsaaklik vir die voortbestaan van die taal, maar as mense nie in die openbare lewe hulle taal kan gebruik nie – veral nie in ’n professionele opset nie – gaan die taal nie oorleef nie. Ons bevorder dus Afrikaanse entrepreneurskap met die Besigheidsbytjies-kompetisie vir jong entrepreneurs en help besigheidsmense om hulle sake te bemark deur AfriForum Sakenetwerk. Laasgenoemde se Tinteltong-toekennings beloon Afrikaanse sakelui vir hulle oorspronklike taalgebruik en die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie bied erkenning en verdere ontwikkelingsgeleenthede aan volwasse besigheidsmense.

5. Kunste

Met die AfriForum Teater en AfriForum TV maak ons Afrikaanse uitvoerende kunste toeganklik vir mense van alle ouderdomme, inkomstegroepe en smake. Snuffel op beide se webtuistes of hou hulle sosiale media dop – jy sál iets vind wat jy sal geniet!

6. Dink of Sink

Jong Afrikaanssprekendes is nie op hulle mond geval nie, maar om hulle te help om nog meer vaardig op hulle voete te kan dink, bied AfriForum die Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie aan. Daar is kompetisies vir onderskeidelik laerskool- en hoërskoolleerders, asook universiteitstudente. Opleidingsessies vir deelnemers en beoordelaars word gereeld aangebied.

7. Bewusmaking

Mense is nie altyd bewus van die redes waarom moedertaal belangrik is, of wat hulle taalregte behels nie. Om dié rede plaas ons gereeld meningstukke oor die onderwerp en gee ons ook blootstelling aan mense wat moeite doen om Afrikaans te bevorder om algemene kennis hieroor uit te bou.

8. Ondersteuning

AfriForum ondersteun instelling wat Afrikaans help groei, byvoorbeeld die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans se digkompetisie en die jaarlikse studentesimposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Ons koop woorde aan wat AfriForum se jongste werksaamhede omskryf ter ondersteuning van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en ons neem deel aan die werksaamhede van die Afrikaanse Taalraad. Dit is maar enkele voorbeelde van samewerking op die taalterrein waarby die hele taalgemeenskap baat vind.

9. Buiteland

Ons hou kontak met ons mense in die buiteland deur AfriForum Wêreldwyd en bied deurlopend wenke vir hulle aan oor hoe hulle hulle taal vir hulleself en hulle kinders lewendig kan hou, ver buite die grense van die land.

10. Samewerking

Geen taal kan in afsondering oorleef en aanhou ontwikkel nie. Dieselfde geld vir ’n taalgemeenskap. Om die rede doen ons moeite om inligting en funksies so ver as moontlik meertalig aan te bied. Ons vertaal verslae en mediaverklarings, stel dikwels tolke by funksies beskikbaar en werk saam met ander taalgemeenskappe om almal se taalregte te bevorder.

Al hierdie aksies bied geleenthede vir jonk en oud om betrokke te raak – of dit nou is om aan ’n kompetisie deel te neem, ’n artikel oor aktuele sake te lees om jou kennis uit te brei, lekker te lag vir ’n komedie op AfriForum TV of ’n maandelikse bydrae te maak sodat ons die werksaamhede kan voortsit. Ons verneem graag voorstelle van nog wyses waarop ons hierdie en die vele ander projekte wat ons in en vir Afrikaans aanpak, kan uitbrei. Kom wees trots Afrikaans saam met AfriForum!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest