Leesvordering:

Is hierdie woorde eenders of anders?

Jul 11, 2023

Deur Alana Bailey

Hierdie week het dit sowaar in Johannesburg en aan die Oos- en Wes-Rand gesneeu en gekapok. Mense het dit terdeë geniet en foto’s en video’s hot en haar versprei.

Saam met die sneeu, het daar ook ’n debat neergedaal, naamlik oor of daar ’n verskil tussen sneeu en kapok is. Van die mense wat kommentaar gelewer het, het gesê nee, beide val uit die lug en is dus dieselfde ding. Dit maak nie juis sin nie, want hael en reën val ook uit die lug en daar is beslis ’n groot verskil tussen die vier weerverskynsels.

Vir my was daar nie eens ’n vraag hieroor nie, want met ’n ma wat in Nokland grootgeword het, het ek geweet wat die verskil is, selfs nog voor ek die eerste keer een van die twee gesien het. Vir diegene wat nie weet nie, Nokland is die volksnaam vir die Noordoos-Kaap en sluit dorpe soos Jamestown, Dordrecht en die ysige Barkly-Oos in.

Selfs Wikipedia bevestig dat dié streek se inwoners baie duidelik onderskeid tref tussen kapok, wat die groot, sagte vere of vlokkies is wat geruisloos uit die lug neerdaal, en sneeu, wat natterige yskristalle is.

Saam met die koue kom behoefte aan iets warms om die innerlike te lawe. Vir sommige is dit daardie amberkleurige drank uit Skotland, Ierland of elders. So leer ek vanoggend op Beter Afrikaans dat daar ’n verskil tussen whisky en whiskey is! Whisky sonder die “e” verwys na die drank wat in Skotland vervaardig is, maar whiskey met die “e” na dieselfde drank vanaf ’n distilleerdery elders in die wêreld.

Stormweer veroorsaak dikwels skeepsrampe. Daar word geskat dat meer as 2 500 skepe al sedert 1500 om die Suid-Afrikaanse kus gesink het. Goedere spoel dan soms van die wrakke af uit. Dit mag ook goedere wees wat deur groot branders van ’n skip afgespoel is. Ander kere word vrag deur desperate matrose oorboord gegooi om ’n skip ligter te maak om te probeer verhoed dat dit op ’n sandbank of rotsrif strand en deur die golwe verpletter word. In Engels kry ons twee mooi woorde vir dié soort seerommel, naamlik “flotsam” en “jetsam”. Die woorde word soms ook net so in Afrikaans gebruik. Dit is nie sinonieme nie, maar het belangrike uiteenlopende betekenisse volgens maritieme reg.

Flotsam verwys na goedere wat as gevolg van ’n ramp of ongeluk in die see beland het, terwyl jetsam goedere beskryf wat doelbewus oorboord gegooi is. Die woord flotsam is afgelei van die Franse woord “flotter”, wat “dryf” beteken en jetsam kom van die Engelse woord “jettison” wat “weggooi” beteken.

Volgens maritieme reg kan flotsam deur die oorspronklike eienaar opgeëis word, terwyl jetsam behoort aan wie dit ook al vind.

Of dit koud of warm is waar jy is, mag jy veilig vaar en geen spreekwoordelike flotsam of jetsam nalaat omdat jy aan te veel whisky of whiskey geteug het nie!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Die jaar wat my lewe verander het!

Die jaar wat my lewe verander het!

Deur Clarice de Jonge Wanneer jy voel asof die wêreld te klein is vir jou en jy soveel meer betekenis aan jou lewe wil gee, is dit ’n teken om ’n groot wilsbesluit te neem en jou horisonne te verbreed. Aan die einde van 2021 het ek ’n gewaagde besluit geneem om my...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest