Leesvordering:

Nuut by LAPA in Desember

Des 7, 2017

Die vakansie lê voor!
As jy kort stukkies lekkerlees soek, dan het ons dit!
Kinderboeke? Natuurlik!
Lekker liefdesverhale? Jy weet LAPA is die plek!

 

Kort tekste

 

Die perfekte brander en ander verhale
Marieta Nel & Adinda Vermaak (samestellers)
ISBN 9780799383805
R150,00

Stories oor die pyn en vreugdes van verlief wees. Stories oor die waagmoed, twyfel en uitdagings van jonk wees. Stories wat jou sal laat glimlag of ’n traan laat wegvee. Stories wat wéét hoe dit voel om sestien te wees.

Bekende skrywers en nuwe stemme skuur skouers in hierdie fantastiese bloemlesing wat kyk na die lief en leed van ouer tieners.

Elizabeth Wasserman, Christien Neser, Nelia Engelbrecht, Leon de Villiers, Anzil Kulsen, Fawa Conradie, Nellie Alberts, Carina Diedericks-Hugo, Anzil Kulsen, Maria Vos, Solette Swanepoel, HemelBesem, Marlene Smit, Christine Barkhuizen le Roux, Jaco Fouché, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Santie Nel, Dewald Koen, Tanya van Buuren Botma, Jan van Tonder, Eldridge Jason, Kobus Brown, Christo Davids, Madri Victor, Lynné Schoeman en Izak de Vries.

Jip, ’n bloemlesing met 27 splinternuwe verhale oor die vreugde, pyn en avontuur van jonk wees.

Ideaal vir die Kerskous!

Marieta Nel en Adinda Vermaak het as samestellers reeds twee topverkoper-kortverhaalbundels die lig laat sien: Sweef (2009) het al meer as 40 000 kopieë verkoop en Skreeu (2010) se vier oplae het al meer as 17 000 kopieë verkoop.

 

Vroue Van Atlantis
Anastasia De Vries & Eldrige Jason
ISBN 9780799368291
R195,00

“En ons sal nooit weer dieselfde mense wees nadat die 12 vroue met ons gebeur het nie. Dit was ‘n besondere voorreg om saam met Suzanne en Eldridge Jason te werk en die wonderlikste is dat van my kollegas en ons studente deel hiervan is.” – Anastasia de Vries

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, staan dié twaalf vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.

Dit het alles begin met ’n gemeenskapsprojek deur die ATKV in Atlantis. Die vroue, en ander fakkeldraers, toon dat Atlantis ’n stad van verborge skatte is.

Die samesteller en bydraers

Anastasia de Vries en Eldridge Jason is beide skrywers en joernaliste. Anastasia is ook ’n dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK).

Ander bydraers is die joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.

Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.

Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.

Kinder- en Jeugboek boeke

Prinses Klara en die krokodil
Laura Amy Schlitz
lllustreerder: Brian Floca
ISBN 9780799384314
R130,00

Prinses Klara se ouers glo ’n prinses moet skoon en slim en sterk wees. Daarom laat haar oppasser haar drie keer per dag bad. Haar ma lees vir haar vaal, vervelige boeke. Haar pa laat haar elke dag honderde keer touspring.

Prinses Klara is siek en sat daarvoor. Sy besluit wat sy nodig het, is ’n bietjie pret en avontuur. Daarom skryf sy vir haar towertante ’n spesiale briefie om te sê sy soek ’n hond.

Die volgende oggend staan daar ’n boks voor haar bed … maar binne-in is nie ’n hond nie. Dis ’n krokodil! ’n Krokodil wat glad nie weet hoe om hom mooi soet te gedra nie …

Prinses Klara besluit sy gaan die dag afvat. Sy beleef allerlei prettige avonture in die buitelug – sy klouter in bome rond, pluk aarbeie en raak heerlik vuil – terwyl die krokodil ’n rok aantrek, ’n kroon opsit en sy lyf prinses hou en die kasteel op sy kop keer!

Kinders sal versot wees op hierdie lawwe skaterlag-avontuur! Die boek is perfek vir voorlees of selflees.

 

Hoe supercool goed werk
Ian Graham & Tom Jackson
ISBN 9780799383843
R250,00

Sal ons in die toekoms met vlieënde motors ry?
Hoe werk ’n 3D-drukker?
Kan mense regtig eendag op Mars gaan woon?
Hoe lyk dit binne-in ’n PlayStation 4?

Ontdek die verstommende tegnologiese uitvindings van die toekoms in hierdie asemrowende boek. Hoe supercool goed werk is ’n splinternuwe gids wat ongelooflike nuwe tegnologie verken, en kyk na die maniere hoe dit ons moderne wêreld vorm. Kinders sal versot wees op die innoverende uitleg.

Verstommende foto’s en illustrasies verduidelik hoe enige iets van hommeltuie en superrekenaars tot onderwater-hotelle en vlieënde motors werk.

 

Strikdans
Christien Neser
ISBN 9780799383867
R150,00

’n Ramp.

Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Elle is in matriek. Dit is veronderstel om die beste jaar van haar hele skoolloopbaan te wees. Sy is immers vanjaar hoofmeisie, sy het die beste vriende waarvoor enige meisie kan vra, sy gaan met die ou van haar drome uit, en daar is hope opwindende dinge by die skool om na uit te sien.

Maar die jaar skop op ’n aaklige noot af. Dinge tussen haar en Alex loop skielik skeef en by die skool wag ’n groot skok op almal toe die hoof, mevrou Bender, onverwags ernstig siek word. Die waarnemende hoof, doktor Grimm, voel ’n veer vir die skool se tradisies en die spesiale projekte waaraan Elle-hulle soveel tyd en aandag bestee het. Al waarin die vreemde man met sy strikdas en sy fobie vir katte belang stel, is wiskunde. Hy is vasbeslote om Gravitas die beste wiskundeskool in die land te maak.

Elle besluit sy kan nie net toekyk hoe Gravitas se trotse tradisies die een ná die ander sneuwel nie. Maar kort voor lank kom haar hoofmeisiebalkie in gedrang oor hierdie standpunte!

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en wee van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Hierdie een, die negende boek in die reeks beloof om net so skreeusnaaks, aweregs en romanties soos sy voorgangers te wees.

Meer as 59 100 kopieë van hierdie uiters gewilde reeks is al verkoop.

 

Dinowêreld Omnibus 1
Rex Stone
ISBN 9780799380774
R130,00

Is jy gereed vir die grootste avontuur ooit?

Johan en sy beste vriend, Tom, ontdek ’n geheime grot met versteende voetspore in Dinobaai. Toe hulle op die voetspore loop, beland hulle in ’n wêreld vol regte, lewende dinosourusse. Saam met hul dino-maat, Wanna, beleef die twee seuns allerlei asemrowende – maar ook gevaarlike – oertyd-avonture!

Hierdie omnibus bevat die eerste vier stories uit dié gewilde reeks:

Aanval van die akkediskoning

Johan en Tom ontdek die geheim van Dinobaai. Nou wag daar hope avonture op hulle. Op hierdie geheime plek is allerhande dinosourusse, ook ’n enorme T-rex wat warm op die twee seuns se spoor is …

Stormloop van die driehoring-monster

Johan en Tom keer terug na hul geheime dinosouruswêreld. Hulle kan nie wag om dit verder te verken nie. Maar toe ’n Triceratops-trop op hulle afstorm, lyk dit of die seuns platgetrap gaan word. Daar is net een uitweg – hulle sal op een van die dinosourusse se rug moet probeer ry!

Mars van die gepantserde reuse

Johan en Tom is terug in Dinowêreld. Hulle ontdek ’n jong Ankylosaurus wat in die modder vassit. Die seuns moet die baba-dinosourus red voordat die modder hom insuig – maar hoe? En wat sal gebeur as die ma terugkeer en haar reusagtige, dodelike stert begin rondswaai?

Vlug van die pterosourus

In hul geheime dinosouruswêreld soek Johan en Tom na die grootste vlieënde reptiel wat ooit geleef het, Quetzalcoatlus. Maar wat gaan hulle doen wanneer die reuse-pterosourus dink hul dino-maat, Wanna, is haar kuiken en met hom wegvlieg? Daar is bitter min tyd om hul maat te red …

 

Dinowêreld Omnibus 2
Rex Stone
ISBN 9780799380781
R130,00

Hierdie omnibus bevat nog vier stories uit dié gewilde reeks:

Vang die dief!

’n Blitsige Velociraptor steel die Fossielvinder en Johan en Tom moet hom agternasit. Ná ’n dolle jaagtog deur die gevaarlike oerwêreld, haal hulle die skelm dinosourus in. Maar hoe gaan hulle hom uit sy grot lok om die Fossielvinder terug te kry?

Hier kom die reuse-reptiele!

Johan en Tom se dinosouruswêreld is tjoepstil – geen dinosourusse brul nie, geen insekte zoem nie – en hulle vind gou uit waarom … ’n Meteoor stuur reg op hulle af. Boem! ’n Verskrikte Edmontosaurus-trop storm op die rand van ’n reuse-krater af. Sal die seuns hulle kan keer voor hulle in die dieptes afstort?

Stegosourus-probleme

Johan en Tom is terug in Dinowêreld – maar hierdie keer is dit in die Jura-tydperk! Die seuns en hul dino-maat, Wanna, kan nie wag om uit te vind watter avonture in hierdie nuwe prehistoriese tydperk op hulle wag nie. Toe ’n Stegosaurus in die moeilikheid beland, moet hulle probeer help …

Onderwater-avontuur

Johan en Tom gaan snorkelduik in hul geheime dinosouruswêreld. Selfs Wanna gaan dit in die see waag! Onder die water sien hulle ongelooflike oerdiere. Maar wat hulle nie weet nie, is dat ’n reuse-plesiosourus onder die branders rondswem …

 

Romanza

Onwillig verlief
Marijke Greef
R295,00
ISBN 9780799386806

Hierdie lekkerleesmega-omnibus is net reg vir die vakansie wat voorlê! Dit bevat drie van Marijke Greeff se vorige Kaapse liefdesverhale: Esmeralde, Seerower vir Shakira en Markies vir Melesinda.

Esmeralde

Net nadat Carmelita Fernandez aan ’n dogtertjie geboorte gegee het, sterf sy, maar nie voordat sy haar man, Diego, versoek om die kindjie Esmeralde te noem nie. Diego het sy sigeunervrou hartstogtelik liefgehad en daarom stem hy in tot die sigeunernaam.

Toe sy grootword, het Esmeralde dan ook al die vuur en eiesinnigheid waarvoor sigeuners bekend is – en haar oorlede moeder se donker, eksotiese skoonheid.

Met haar agtiende verjaarsdag reël haar ouma ’n groot bal, met die hoofdoel om Esmeralde aan hubare mans voor te stel. By die bal ontmoet Esmeralde die baie aantreklike donker René Courtelle. Hulle is dadelik aangetrokke tot mekaar, maar René is ’n getroude man. Wat Esmeralde egter nie weet nie, is dat hy baie ongelukkig getroud is met ’n erg ontroue vrou wat met iemand konkel om al die Courtelle-skatte in die hande te kry.

Seerower vir Shakira

In ’n dobbelspel word Shakira deur haar pa aan ’n seerower verpand – Raoul Monserat, dodelik aantreklik, dodelik gevaarlik, kaptein van die seerowerskip die Swart pêrel.

Monserat is legendaries, word gevrees en verafsku – hy’s wreed, meedoënloos, pleeg gruweldade, onteer vroue…

Op die Swart pêrel word hulle teen haar sin in die eg verbind, en Shakira weet – een of ander tyd gaan dié onvoorspelbare, kil man sy huweliksregte opeis.

Hy word vir haar ’n raaisel, sy optrede strook nie altyd met sy reputasie nie. Sy weet hy gebruik haar net as ’n skans in sy soektog na die skat, maar hoe langer sy Monserat ken hoe minder wíl sy haar teësit. Is hy werklik wie hy voorgee om te wees?

Markies vir Melesinda

Dis die geheimsinnige Nagvalk met sy strelende mond en beskermende arms wat Melesinda se hart en gedagtes sedert haar aankoms in Frankryk vol lê.

Maar met die markies Beamont du Brecy moet sy trou.

Aan haar seerowerbloed dra sy swaar, maar dit stuit Beau du Brecy nie. En ter wille van die markiesin Du Brecy sal sy met die markies trou. Al behoort haar hart aan die Nagvalk.

Beau ontken die Nagvalk se bestaan, al red hy Melesinda keer op keer.

Terwyl Beau oorheers word deur wraak ná sy suster se dood, raak Melesinda al hoe meer verward – is dit moontlik dat ’n vrou terselfdertyd tot twee sulke uiteenlopende mans aangetrokke kan voel?

 

Liefste omgeeman
Petronel Louw
R85,00
ISBN 9780799386776

Janika het ná haar ouers se dood op haar werk gefokus en met sukses ’n dik en baie hoë muur om haar hart gebou. Maar majoor Brink Lategan en sy helder grys oë vind ’n swak plek in die muur… en haar hart.

Ons eie spioen-Romanza! Bietjie aksie en liefde vermeng. Beide die held en heldin werk vir ondergrondse netwerke wat misdaad bekamp.

 

Verbode liefde
Alma Carstens
R85,00
ISBN 9780799386714

Zoey ontmoet die enigmatiese dokter Jano Marnitz terwyl sy met vakansie in Parys is. Hy ontwikkel ’n obsessie om haar gesig, wat in ’n motorongeluk geskend is, te herstel. Het hy dalk gevoelens vir haar of is dit slegs sy doktersinstinkte wat inskop?

 

Gister is lankal verby
Salomé Schutte
R85,00
ISBN 9780799386745

Om sy voete teen die warm sand te beskerm, tel Lia ’n seun by die strand op en ontmoet sy mooie, maar moeilike pa, Viljé. Sy weet sy moet wegbly van hulle, maar die oulike seun steel haar hart − ’n talent wat hy blykbaar met sy pa deel.

Op die sypaadjie
Elsa Winckler
R85,00
ISBN 9780799386370

Lokteks: Armin is te befoeterd vir Sabrina en Sabrina verkies surfers met sexy bolywe wat nie heeldag werk nie. Maar dan leer sy hom van feng shui en hy begin wonder of sy dalk die yin van sy yang is.

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest