Leesvordering:

Kersfees in Dublin

Des 11, 2018

Kersfees in Dublin is seker van die mooistes wat ek al ooit beleef het.

Omtrent elke liewe straat is ’n wonderland van Kersliggies met al die bome, geboue en lamppale wat skitter.

Op elke hoek is daar massiewe Kersbome wat van die grond af tot heel bo skitter. Dis regtig iets besonders en beslis iets wat jy self moet sien.

Die straatsangers is ook in ’n lekker Kersbui. Of hulle ’n kitaar, tamboeryn of klavier kan speel, elkeen sing sy beste weergawe van die mooiste Kersliedjies. En nie die gewone “Rudolf the Red-Nosed Reindeer”-goed wat jy gewoonlik in Checkers en Pick n Pay hoor nie. Regte, mooi Kersliedjies. Dit maak jou sommer rustiger en laat jou met ’n warm gevoel – al raak die temperature aan vriespunt.

Dis die ander vreemde deel van Kersfees in Europa: Jy is van kop tot tone gejas en geserp. Maar nie eers die ysige koue kan die mooi van die Kerstonele in die strate wegneem nie.

Oulike Kerstradisies vir kinders

Een van die oulikste tradisies waarvan ek die eerste keer hier in Dublin te hore gekom het, was Elf on the Shelf.

Die idee is op ’n kinderboek gebaseer. Die storie handel oor die manier hoe Kersvader bepaal watter kinders op die soet- en stoutlysies moet wees. Hy stuur dus een van sy elwe om by elke huis inspeksie te doen en die kinders dop te hou.

Ierse ouers sal vir hul gesin ’n klein elfpop koop. Die mite is dat die klein elfie eers sy towerkrag kry wanneer die gesin hom ’n naam gee. Die elfie het sy towerkrag nodig om elke aand, wanneer almal slaap, gou terug te vlieg Noordpool toe om aan Kersvader te gaan rapporteer wat die kinders in sy huis aangevang het nadat hy hulle die hele dag dopgehou het.

Hy sal gou-gou, voordat almal wakker word, sorg dat hy terug by die huis is. Elke oggend sal hy op ’n ander plek te vind wees: Op die boekrak, of in die Kersboom, in die broodblik, of enige ander plek in die huis. Daar waar hy die kinders deur die dag kan dophou.

Min weet die kinders dis eintlik hul ouers wat agter dit alles sit. Party ouers raak vreeslik kreatief en sal die elf op vreemde maniere in die kinders se kamer, in die badkamer of enige plek in die huis sit sodat dit lyk of die elf lekker deur die nag gekattemaai het. Dit hou die kinders op hul tone en sorg vir baie oulike foto’s oor Kerstyd.

Buiten dat Kersvader dan oor Oukersaand die geskenke by elke huis kom aflewer, is die tradisie hier in Ierland ook dat elke huis vir hom ’n bordjie koekies en ’n blikkie Guinness (hoe dan anders?) uitsit. ’n Man se keel is mos droog wanneer jy al die pad van die Noordpool gevlieg het om ’n hele sak geskenke uit te deel.

Phoenixpark – die grootste omheinde park in Europa – wat in die hartjie van Dublin lê, is ook baie bekend vir die takbokke wat daar rondloop. Hulle is redelik mak en ’n mens kan nogal naby aan hulle kom om die mooiste foto’s te neem.

Op Oukersdag sal die ouers hul kinders Phoenixpark toe neem om die takbokke sterkte toe te wens vir die groot aand wat vir hulle voorlê wanneer hulle saam met Kersvader om die wêreld vlieg om vir al die kinders hul geskenke te vat.

Ander Kerstradisies

Omdat jy ’n kroeg op elke hoek en draai in Ierland sal vind, sal dit vreemd wees om dit nie oor Kerstyd te besoek nie.

Hoewel niemand verplig is nie, neem talle besighede, vriendekringe, sportklubs, ens. aan 12 Pubs of Christmas deel – wat eintlik net ’n lekker feestelike naam vir ’n pub crawl (kroegloop) is.

Die groep vriende sal 12 kroeë kies om in een aand te besoek. Elkeen sal gewoonlik volgens ’n tema aangetrek wees.

12 Pubs of Christmas vind gewoonlik op enige aand tussen 1 en 25 Desember plaas. As jy gelukkig (of vir party ongelukkig) is, kan jy na meer as een 12 Pubs genooi word.

Tydens die aand sal daar ’n string reëls – wat vooraf deur die groep bespreek is – wees om te volg, byvoorbeeld:

  1. Jy mag in die eerste kroeg nie met jou regterhand drink nie.
  2. Jy mag in die tweede kroeg met niemand praat wat jy reeds ken nie.
  3. Jy mag by die derde kroeg nie een keer die badkamer gebruik nie.
  4. Jy mag in die negende kroeg nie sit of teen enigiets leun nie, ens.

As jy een van die reëls oortree, sal jy gestraf word deur ’n hele drankie met een asem af te moet sluk. ’n Groep sal gewoonlik maksimum 30 minute in ’n kroeg spandeer. Een persoon word ook aangewys om seker te maak dat almal die reëls volg en om die aand se fluitjieblaser te wees.

Die kort weergawe: Moenie verwag dat jy die aand van 12 Pubs of Christmas baie nugter by die huis gaan aankom nie… Maak dan maar eerder van die bus/trein/trems gebruik of vra iemand wat nie gedrink het nie om jou by die huis te gaan aflaai.

Meer oor die outeur

Elsje du Toit

Elsje du Toit is ’n plattelandse meisie wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later vir 5 jaar as joernalis by Volksblad en Netwerk24 in Bloemfontein gewerk het. Sy en haar man, JJ, bly sedert Januarie 2018 in Dublin. Hoewel sy al ’n rukkie hier bly, kan sy nog nie heeltemal aan die yskoue weer gewoond raak nie, maar tog geniet sy elke oomblik

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest